Titel: Homoseksualiteit – ’n studie deur die ouers van ’n gay seun
Skrywer: Geoff en Eileen Stenekamp
ISBN: 9781920654122
Koop Homoseksualiteit – ’n studie deur die ouers van ’n gay seun by Kalahari.com.
|
Retha Benadé lees en bespreek Eileen en Geoff Stenekamp se Homoseksualiteit – ’n studie deur die ouers van ’n gay seun.
|
Toe Geoff en Eileen Stenekamp se seun vir hulle sê hy is gay, gaan hulle na die wetenskap en die Bybel om antwoorde te vind. Hulle maak ’n studie van die jongste wetenskaplike bevindinge Die eerste keer wat ek van Geoff en Eileen Stenekamp kennis geneem het, was by die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) se Algemene Sinode van 2007, waar hulle saam met ander ouers vreesloos met hulle pienk hemde, voorop geskryf “Ouers van ’n Gelowige Gay kind”, tussen teoloë, dominees en belanghebbendes rondgeloop het. Hulle soeke na die waarheid sou hulle nog op baie interessante paaie lei.
In die algemeen loop baie gay mense met die gevoel rond dat hulle in God se skepping “tweederangse” skepsels is. Hierdie gevoel van minderwaardigheid vind sy inslag vanaf die Kerk, samelewing, tradisionele strukture ensovoorts. Die gevoel word veral versterk deur hoe daar neerhalend na gay mense verwys word. Veral op die seksuele gebied word die gay mens as promisku, pervers ensovoorts uitgebeeld.
Vir Geoff en Eileen is hierdie inligting van hoe gay mense uitgebeeld word, nie aanvaarbaar nie. Hierdie ouers is bereid om hierdie moeilike, hartseer en alleen pad te stap op soek na die waarheid. Nie mens-waarheid nie, maar die Goddelike waarheid. Dis ’n reis wat die wetenskap en die Bybel insluit. Wat vir my egter hartseer is, is dat die ouers moet probeer antwoorde gee (soos baie ander) vir hoekom die gay mens ’n plek in die son behoort te geniet. Dit is asof die gay mens alles moet kan beantwoord net omdat hy/sy gay is, wat nie van die heteroseksuele mens verwag word nie. En die waarheid is dat nie al die vrae rondom die saak van homoseksualiteit gevind sal word nie, want ons as gelowiges ken die Skrif in 1 Kor 13:12 wat sê: “Want nou sien ons deur ’n spieël in ’n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.”
Die Stenekamps se boek is soos ’n ligstraal in ’n donker vertrek. Jy word genooi om dit te lees, maar om nog steeds jou eie opinie te vorm; niks word aan jou opgedwing nie.
![]() |
Interessante temas word gedek, soos skokterapie, fundamentalisme, selibaatskap, die huwelik en so meer. Die taalgebruik is eenvoudig en maklik om te verstaan.
Die boek simboliseer egter vir my ook die volgehoue spanning wat daar bestaan tussen my en jou, jy en hulle. Teoloë praat verskillende tale, sommige kerke probeer omhels, ander jaag die homoseksuele mens summier weg. Heteroseksualiteit kraai koning as die normatiewe en homoseksualiteit dans in die skadu’s daarvan.
Regsgesinde Christene skreeu en baklei vir die doodstraf van die homoseksuele mens; Afrika gaan gebuk onder die haatspraak, moord, vervolging van homoseksuele mense en dié spring soos ’n vuur van een land na ’n ander en los ’n spoor van wanhoop. Daardie Christene se waarheid sê ek maak jou dood, ek gaan jou vernietig, jy is ’n afsku voor die aangesig van God. Hulle waarheid staan teenoor jou waarheid en al twee praat van God se liefde, God se Waarheid ... “En jy sal die waarheid ken en die waarheid sal jou vrymaak (Joh 8:32).
Maar ten spyte van die kompleksiteit van hierdie saak reis die ouers voort. Of mense gaan saamstem met wat hulle sê al dan nie, hierdie boek gaan help. Dit gaan mense help om hulle eie reise te begin en weer daaroor te dink en te besin. Dit gaan ander ouers bemoedig wat met hulle kinders se seksualiteit worstel. Dit gaan die boodskap bring van dat daar ’n ander kant aan hierdie storie verbonde is en dink twee keer voordat jy wegwys, veroordeel, haatspraak lewer en doodmaak, al stem jy nie saam nie.
Geoff en Eileen se waarheid sal deur baie aanvaar word en deur baie nie. Die stemme vir en teen homoseksualiteit sal altyd daar wees, maar dit wat deur hulle geskep is, kan nie stilgemaak word nie en sal vir baie ’n grashalm van hoop wees en word.
Die waarheid is dat dit per slot van rekening ’n saak tussen jou en God is!
Lees ook 'n onderhoud met die skrywers van die boek.
Lees ook Laurie Gaum se indruk van die boek.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.



Kommentaar
Wie is ek om te oordeel.