Die rolbalspeler: Teater van die blinde

  • 0

Die rolbalspeler
Zain Eckleton
Uitgewer: Kwela Books
ISBN: 9780795703225

Die rolbalspeler is oorspronklik deur Zaine Eckleton as ’n roman geskryf, en word deur Saartjie Botha verwerk vir die verhoog.

Hans Meintjies ly aan retinitis pigmentosa, wat die stelselmatige verlies aan sig veroorsaak. Met ’n sieklike ma, ’n luiaard van ’n broer, en ’n pa wat elders vir groener weiveld gaan soek het, laat dit Hans as die enigste broodwinner vir sy gesin. Later maak Hans kennis met Erika, ’n maatskaplike werker en rolbalafrigter by die Instituut vir die Blindes. Erika bestempel die ontmoeting tussen hulle twee as vooruitbestem. Boonop is Erika desperaat op soek na ’n protégé. ’n Vriendskap ontwikkel tussen Hans en Erika en sy moedig hom aan om sy skoolloopbaan te voltooi.

Benewens die uitdaging van blind wees, het Hans nog die uitdaging van ’n familie wat hom nie ondersteun in sy poging tot ’n verbetering van sy, en gevolglik hulle, omstandighede nie. Hans word groot in ’n huis waar sy ma glo: “As jy te groot droom slat die disappointment jou dat jy lê.” Die toneel ontwikkel tot op die punt waar Hans gekonfronteer word met moeilike besluite, met sy gesin se finansiële welstand, hulle geluk, Erika se geluk en sy eie geluk in die weegskaal.

Brendon Daniels is oortuigend as ’n blinde man. Sy sensitiewe en kwesbare karakter staan in interessante kontras met die oudbendelid en gevangene wat hy in Rooiland (2013) gespeel het.

Al vier akteurs het aanvanklik oortuigende karakterisering getoon, maar het in die fyner nuanses gefaal. Dit voel asof hulle (nog) nie gemaklik in hulle rolle sit nie en die mees opvallende teken hiervan was elke akteur se struikel oor sy/haar woorde op een of ander stadium. Die teks skep die potensiaal vir volronde karakters, maar die gehoor maak slegs met die buitedop van die karakters kennis en skaars met iets wat dieper lê. Verder het toneelverwisselinge nie glad verloop nie en daarom het die toneel in die geheel ondergerepeteer voorgekom. Daarby kan die sukses van die karakters se aanhoudende wegbreek van die aksie op die verhoog tydens hulle monoloë gedebatteer word. Met hierdie onderbrekings in die vloei van die verhaal, die akteurs wat by tye oor woorde struikel, en toneelverwisselinge wat nie glad verloop nie, kom die toneel onderbroke voor.

In die geheel spog die produksie met top akteurs, ’n bekroonde regisseur en voortreflike ontwerp. Daarby word ’n toneel wat lig werp op die onderwerp van mense met gestremdhede beslis verwelkom. Dit is hoegenaamd nie ’n vereenvoudigde verhaal nie, met akkurate verwysings na politieke en sosiale verskille en die moeilikhede van gestremdhede (in beide gees en vlees). Met nog ’n week se repetisie het hierdie toneel beslis die potensiaal om ’n treffende teaterstuk te wees.

Die rolbalspeler was by die Kunstekaap te sien as deel van die Suidoosterfees.

Lees 'n onderhoud met Saartjie Botha oor dié toneelstuk.


Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top