LitNet-medewerker se debuutroman bekendgestel

  • 0

Reney Warrington is ’n fotograaf. Sy is ’n LitNet-blogger. Sy is onlangs gesien in Stellenbosch, besig om uittreksels uit haar boek in restaurante op te plak. Want haar boek Oktober is Woensdag 7 Maart by die Woordfees bekendgestel. Izak de Vries van Protea het haar voor ’n saal vol mense in Erfurthuis ’n paar vrae gevra. Hier kry Naomi Meyer kans om al die vrae aan Reney te stel waarvoor daar nie tyd was vir haar as lid van die gehoor nie.

Hallo Reney, baie geluk met die verskyning van jou boek, Oktober, waarvan die bekendstelling by die Woordfees plaasgevind het. Kan jy my van ’n dag of ’n insident vertel toe hierdie boek begin het, of was dit ’n meer geleidelike en organiese proses?

Dankie!

Ek het so ’n lawwe kortverhaal geskryf wat vir maande rondgelê het. Toe stap ek teen die baksteen-oprit van my suster se kothuis op om vir my geliefde susterskinders te gaan kuier. Wat volgende gebeur het, het my vir jare vasgevang in hartseer en die behoefte om dit uit te skryf.

Nietemin stap ek op en klop ek aan die krom voordeur wat my swaer met hamer, spykers en ongeduld probeer regmaak het. In my gedagtes gaan die deur oop, buk ek af en hardloop die kinders my om.

Die boelie maak die deur oop.

“Hallo,” probeer ek maar. “Ek het vir die kinders presente gebring.”

George hou helfte van sy lyf agter die deur. Links van die voordeur, deur die kombuisvenster, sien ek my ouer suster met haar rug na my gedraai. Simone leun teen die kombuiskas en ek weet sy kou haar naels.

In die agtergrond hoor ek die kinders in die bad speel. Ek wil hom uit die pad uit stamp en in hardloop. Ek wil agter die kosyn wegkruip wanneer hulle my nat spat, hulle smeek om uit te klim en hulle toevou in die gehawende handdoeke. As ek net by hulle kan uitkom.

“Ek en Simone het besluit jy mag nie die kinders sien nie.”

“Vanaand?” vra ek soos ’n imbesiel. “Of nooit weer nie?”

“Nooit weer nie.”

My lewe verander onherroeplik.

“Hoekom?”

“Ek hoef niks aan jou te verduidelik nie.”

Die aansteeklike.

Jy is ’n visuele kunstenaar en die feit dat jou foto’s in jou boek gebruik is, asook Izak de Vries van Protea se verwysings na die moeite wat Protea gedoen het om jou boek visueel reg aan te bied, sê vir my dat jou storie se beelde van kardinale belang in jou boek is. Is die beelde aanvullend tot die teks, is dit andersom, hoekom is dit nie skeibaar nie (alle skrywers moet tog ’n verbeeldingsprent koppel aan die woorde op papier, dan nie?), en wat was eerste?

Die foto’s en teks is onskeidbaar. Izak van Protea het dieselfde gesê die eerste keer toe ons telefonies gepraat het. Eerstens dink ek maak dit Oktober anders, die feit dat die roman fotografie bevat. Tweedens wys die foto’s visueel die leë spasies waaroor ek skryf. Die een vul die ander een aan.

Soms was die foto’s eerste. Helfte van die shots wat “eerste” was, kom uit my eerste solo-uitstalling, Family Affair I, uit. Ek het tonele daaromheen geskryf, aangesien die foto’s te belangrik vir my was om ’n stilte-dood in ’n argief te sterf.

Soms was die teks eerste. Soos die foto’s van Londen veral het ek wel in my agterkop gehad, maar is gebruik of gelos volgens die storie.

Vir my hier by LitNet het ek heel eerste van jou notisie geneem as blogger by LitNet. Van wanneer af blog jy by LitNet? En waarom?

Ek  blog al van 2009 af. Voor Protea my geteken het, het ek gedink ek gaan maar die storie moet fotostateer en per hand uitdeel. As ek dit aan meer as vriende van familie wil uitdeel, het ek ’n publieke profiel nodig. Daarom het ek begin blog en die LitNet Reeltime-filmrubriek begin. Nou is dit natuurlik ’n bonus dat ek wel bietjie van ’n naam het.

Jy klink vir my ook soos ’n filmfundi (Izak het pas hierna verwys; jou blogs verwys ook dikwels na flieks). Is dit een van jou passies? En vertel ons lesers van jou ander belangstellings ook, asseblief?

Ek dink eerste in beelde – dan probeer ek die beelde oorsit in woorde. Dit werk nie altyd so goed nie. As die geskrewe woord nie so cool soos die beeld in my kop is nie, dan skrap ek dit eenvoudig. Izak sê reeds Oktober sal uiters goed verfilm. Tegnies skryf ek seker draaiboeke. ’n Ongelooflike film is dus my grootste inspirasie om te wil skryf. Natuurlik vra almal my natuurlik nou watter skrywer my geïnspireer het! Dan moet ek mooi dink.

Jou boek word verpak as ’n roman met ’n liefdestema. Jy wys die belang van die tema van die verlies van susterskinders. Die tema van reis en van expat wees in jou boek het wel ook my belangstelling geprikkel. Of sou jy die feit dat gedeeltes van die roman in die buiteland afspeel, beskou as die doek waarop geskilder word, eerder as ’n tema? Of dra dit by tot die intrige? Indien wel, hoe? Izak het pas in sy gesprek met jou gepraat van as ’n rewolwer in die storie ingebring word, moet hy gevuur word. Hierdie rewolwer wat die buiteland is ... hoe lyk sy skote, hoe beïnvloed dit die res van jou storie en waarom is dit van belang?

Oktober begin in Johannesburg, maar speel hoofsaaklik in Londen af. Dit is belangrik vir die storie, want beide Jo en Leigh hardloop weg van dit wat hulle seermaak af. En in die vreemde, sonder hul ondersteuningsnetwerk of slegte invloede of groot seer, begin hulle hierdie tentatiewe, ouwêreldse hofmakery.

Ek dink nie Londen is ’n “geweer wat moet afgaan nie”, maar wel die vreemde waarin beide karakters wou verdwyn. Deur ’n verhouding met ’n konkrete vervaldatum aan te knoop, gee dit vir beide van hulle die veiligheid om te laat gaan, eerlik te wees sonder die gevaar van seerkry.

Vertel vir ons lesers iets van die boek wat jy vanoggend op die verhoog gehad het, met die uittreksels in mense se persoonlike handskrif. Hoe lewer dit kommentaar op die leesproses, op die tyd wat mense deesdae nie neem om werklik ingetrek te word in ’n teks en self moeite te doen om betrokke te raak nie? Ek voel iets soos ’n happen art-gevoel aan – jy kan jou as leser nie distansieer en onbetrokke op die kantlyn sit nie; of jy lus het om deel te word of nie, jy moet deelneem aan die gesprek ...

Ek het ’n boek geskryf. Ek het my storie vertel. Ek wil egter hê Oktober moet ’n uitruiltransaksie wees. Dus stuur ek nou by die bekendstellings ’n lee boek om waarin mense hul stories moet vertel. Dit kan anoniem wees, in die vorm van ’n storie, ’n naam of ’n prentjie. Dit kan gaan oor mense wat jy verloor het, of bloot oor mense wat baie vir jou beteken. Mense wat nie by die bekendstellings is nie, kan inskrywings op my webwerf los.

Ek scan die inskrywings en wys dit by die volgende bekendstelling of uitstalling van my werk. Ek wil ’n versameling van huldeblyke bymekaarmaak. Hoekom? Ons leef te vinnig. Ons eet, vry, rou, huil en vergeet te vinnig. Oktober is my onthou. Hierdie boeke en webwerf-inskrywings moet ander mense se onthou wees.

Reney Warrington blog by LitNet.

Reney skryf ook LitNet se Reeltime-filmrubriek.

Protea en LitNet is besig om, na aanleiding van Oktober, op die oomblik verhale in te samel oor die tema "wat is die sin van liefde met ’n vervaldatum" – kyk hier vir nog inligting.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top