Dustin Hoffman verras met Quartet

  • 0

Quartet

Regisseur: Dustin Hoffman

Rolverdeling: Maggie Smith, Tom Courtenay, Billy Connolly, Pauline Collins, Michael Gambon, Sheridan Smith

Dustin Hoffman verras behoorlik met hierdie komedie-drama, sy debuut as regisseur. Met alles in die film is die balans nét reg.
Beecham House is ’n tehuis vir afgetrede professionele musikante. Heeldag klink daar musiek op, en daar is ook nie ’n tekort aan prima donnas nie – en hoewel manlik, tel Cedric Livingstone (Michael Gambon) as een. Hy is die regisseur van die jaarlikse galakonsert, waarop die tehuis staatmaak om finansieel aan die gang te bly. Kort voor lank reken almal op Jean Horton (Maggie Smith), die nuwe aankomeling wat op haar dag ’n beroemde operasangeres was. Maar die spul dreig om skipbreuk te ly omdat Jean sowel as Reggie (Tom Courtenay), met wie sy jare gelede kortstondig getroud was, weier om te sing.

Die tema van die instelling wat deur ’n groot uitvoering gered moet word, is natuurlik stokoud, en in die hande van ’n mindere regisseur én spelers kon dit maklik platgeval het. Maar Dame Maggie Smith is weer op haar allerbeste as die groot kunstenaar wie se beste dae verby is, en Tom Courtenay ondersteun haar met stewige spel. Die ander twee lede van die kwartet (hulle moet soos jare gelede weer die kwartet uit Verdi se Rigoletto saamsing) is Cissy (Pauline Collins) en Wilf (Billy Connolly), wat bekwaam sorg vir die meeste van die komiese afleiding.

Hierdie fliek val in dieselfde kategorie as The Best Exotic Marigold Hotel en is selfs so ’n rapsie beter. Pragtige musiek en heerlike vermaak!

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top