Die reg op selfidentifikasie

  • 2

Sommige mense is geneig om onnadenkend etniese beskrywings soos “Khoisan”, “afstammeling van die slawe” en “bruin mense” oftewel “coloureds” omruilbaar te gebruik – so asof daar ’n algemene konsensus onder dié groep(e) bestaan dat al dié terme almal na een etniese groep verwys.

Hier in die Oos-Kaap het daar onlangs ’n robuuste debat in ’n Engelse dagblad posgevat oor die politieke en ekonomiese posisie van bogenoemde mense.

Die eerste sarsie is deur ’n joernalis afgevuur wat homself as ’n bruin mens/coloured beskou. Hy het die ANC uitgedaag om terug te keer na dit wat beskryf was as ’n “special kind of non-racism”naamlik die goeie ou dae (?) van die United Democratic Front (UDF).

Die onderliggende nuanses van sy rubriek was nie surrealisties nie. Dit was iets soos: die bruin mense, oftewel coloureds, wat ook onder apartheid gely het, voel deesdae omgekeerde apartheid aan hul bas.

Hierdie narratief is niks vreemds of nuut nie.

Die reaksie vanuit Xhosa-geledere was voorspelbaar, want dit is mos, soos Adam Small reeds lankal in ’n ander konteks geskryf het, “doodsonde om in hierde land van bruin mense te praat”.

Wat interessant is, is dat een Xhosa-kommentator duidelike parallelle getrek het tussen wat hy noem bruin mense/coloureds en die Khoi.

Hy het trots verklaar dat die Khoi en die afstammelinge van die slawe sy mense is en dat die joernalis “kleurling-politiek” bedryf en, net soos wittes, eintlik neersien op swartes of etniese swart groepe in die algemeen.

Hy meen bruines/coloureds sien neer op die Khoi en die afstammelinge van die slawe, hoofsaaklik omdat bruines/coloureds verstedelik en modern is met ’n goeie onderwys, maar met ’n “troubled” verlede en onseker toekoms.

Teleurstellend het die Xhosa-kommentator niks gesê oor hoe hy die Khoi en die afstammelinge van die slawe sien nie.

Die Xhosa-kommentator se onderskeid tussen bruin/coloured en/of Khoi het nogal ’n nuwe perspektief op die hele debat oor die posisie van dié mense in die Suid-Afrikaanse politieke konteks gebring.

Watter benaming vir bruin/coloureds en/of Khoi is vir die politieke bewindhebbers aanvaarbaar?

Goed, ’n mens kan sekerlik argumenteer bruines/coloureds en/of die Khoi het die reg op selfidentifikasie.

Bestaan daar werklik verskille tussen die bruines/coloureds en/of die Khoi? Indien wel, wat is die verskille? Is hulle ekonomies of dalk geografies van aard? Gaan dit oor kroes of gladde hare, of gelaatskleur of taal?

Die verwysing na Khoi in die media, die letterkunde en in die politieke diskoers is ’n vernuwing.

Daar is nog altyd na ons verwys as "gekleurdes/kleurlinge/bruin mense", soos Jakes Gerwel se doktorale studie (gepubliseer as Literatuur en apartheid, 1983) bewys het aan die hand van hoe (wit) Afrikaanse romanskrywers tot 1948 na ons gekyk en aan ons vergestalting gegee het.

Die bestaan van die Khoi as die eerste mense wie se taal ook deur die koloniale en apartheidsmagte verdruk is, is nog altyd deur die bewindhebbers ontken.

Hoe dit ook al sy, elkeen – bruin/coloured en/of Khoi – het die reg op selfidentifikasie, hetsy as individue of in groepsverband. Laat ons nooit weer toelaat dat andere vir ons sê wie ons is of wie ons nie mag wees nie.

 

  • 2

Kommentaar

  • Mike Labuschagne

    Die reg op self-identifikasie word nie regtig in ons land erken nie. Die staatsadministrasie besluit namens jou wie en wat jy is. Hoekom kan 'n rasgroep nie self besluit oor wat die benaming is wat vir hulle moet gebruik word nie? Die woord wit word altyd vir mense van Europese afkoms gebruik, maar dit is verkeerd. Wit is nie 'n ras nie, dit is 'n kleur. Buitendien - dan is Sjinese en ander Oosterlinge ook witmense, want hulle gelate is ook lig of wit. Die woord Kaukasiër /Caucasian moet gebruik word en ek dring daarop aan dat ek so genoem word (my reg op self-identifikasie.)

  • george bekker

    "Die bestaan van die Khoi as die eerste mense ... is nog altyd deur die bewindhebbers ontken."

    Dis eenvoudig nie waar nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top