Die misterie van die menslike toestand

  • 0

Naomi Meyer het vir haar vierjarige kind uit Mummy never told me begin voorlees:

Mummy never told me that life is full of little secrets ... Why must I go to school when Mummy was expelled from hers? Why do Mummy and Daddy lock me out of their bedroom? Where do they go at night?

Die illustrasies in die boek toets ook grense. Kaal mans en vroue jaag mekaar deur die blaaie.

Vir die (voor)lesende ma was daar rede tot gesprek. Met haar kind én met volwasse kenners. Sy het ’n paar kundiges op die gebied van kinderboeke uitgesoek en vir hulle gevra wat hulle van boeke soos hierdie dink. Sommige van die kundiges het gekies om die vrae as ’n geheel te beantwoord. Hier is die vrae en die antwoorde volg daarna:

Wanneer is ’n boek nie geskik vir kinders nie, en wanneer is ’n boek ’n goeie manier om ’n oop gesprek te hê?

Wat hierby aansluit, is: Moet oop gesprek deur ’n boek aangemoedig word? Is dit nie ewe moralisties of aanmatigend as om te sê ’n onderwerp is taboe nie? En is ’n boek nie bedoel om sommer net genot te wees nie – waarom ’n boek aan omstrede onderwerpe koppel? 

Hoe ver het Suid-Afrikaanse (Afrikaanse!) boeke nog nodig om te vorder voordat hulle die stof van omstredenheid afgeskud het en sommer net vrolike en tong-in-die-kies boeke raak? (Met ander woorde – ek sien kontroversie hier raak, maar dalk is hierdie onderwerpe bloot storiemateriaal as die kultuur waarbinne dit verskyn, nie eng en verstok dink nie.)

Natuurlik word goeie kinderboeke geskryf om groot plesier te verskaf. In ’n ideale wêreld lees ouers vir kinders voor uit kinderboeke wat oor ’n magdom onderwerpe en sensitiewe temas handel – dis nou voordat kinders wat gretig en (op peil) geletterd is, self kinderboeke van hulle keuse verslind. Natuurlik verskil die praktyk en die ideaal soveel in die wêreld van die kinderboek as elders en word kwessies soos hierdie ’n brandpunt. ’n Kinderboek wat oordrewe moralisties is, kan afgedwing word deur ouers, skool en kerk, maar gaan nooit vrylik gelees word nie – en veral nie met vreugde onthou word nie (dink maar aan die gehate voorgeskrewe boek op skool wat ’n liefde vir lees eerder geknou as bevorder het). Selfs Victoriaanse skrywers wat hulle verhale gemoraliseer het, het die “boodskap” getemper met sjarme of humor (dink maar aan Beatrix Potter of Struwwelpeter). ’n Boek is ’n uitstekende beginpunt vir ouers en kinders (van enige ouderdom) om ’n oop gesprek te hê – óf net ’n lekker geselsie óf diepsinnige dialoog – oor die tema, die karakters se hantering van ’n probleem of wat ook al; dis egter iets waarvoor daar deesdae baie min tyd is in huise waar boeke meeding met ’n magdom elektroniese tydverdrywe vir sowel kinders as ouers.

Dis nie duidelik hoekom dit as “aanmatigend” beskou word om ’n oop gesprek deur ’n boek aan te moedig nie. Ek stem saam dat kinderboeke (soos baie boeke vir volwassenes ook) net bloot plesierig behoort te wees, maar as ’n boek vrae by kinders laat ontstaan wat hulle met ’n volwassene wil bespreek, hoef dit tog nie óf as moraliserend óf as vermetel afgemaak te word nie. Die bespreking gaan immers so persoonlik wees soos die besluit binne ’n gesin oor wat taboe is, al dan nie. Wat vir een gesin ’n kontroversiële onderwerp is, gaan vir ’n ander ou nuus wees. Dit geld veral ook onderstaande illustrasies, wat ek vermoed slegs vir sommige ouers en nie vir die kinders in die teikengroep self onaanvaarbaar gaan wees nie.  

Daar is al baie geskryf oor die feit dat spesifiek Afrikaanse kinderboeke baie minder kontroversieel is as hul Amerikaanse en Europese – veral Skandinawiese – eweknieë. Ek vermoed dat dit nog lank so gaan bly, omdat Suid-Afrikaanse uitgewers weet dat kinderboeke deur ouers en onderwysers gekies en gekoop word, en ’n mate van sensuur dus outomaties toegepas word. Volwassenes koop dikwels kinderboeke wat hulle nostalgies stem, eerder as om nugter te kyk na wat kinders inderwaarheid sien en beleef. As sentimentaliteit en deugsaamheid groter verkoopsyfers waarborg, is dit ’n ope vraag of kinderboeke wat temas eerlik (LW nie moraliserend nie, maar vermaaklik) aanpak, rakruimte gaan kry.

Hierdie is nie ’n forum vir ’n bespreking oor biblioterapie wat ’n opvoedkundige dimensie aan die lees van kinderboeke kan gee nie – al is biblioterapie self kontroversieel en word dit maklik deur die meer kreatiewe seksie van boekverbruikers verguis. Vir mense soos Bruno Bettelheim (The Uses of Enchantment) was die besprekings rondom die kinderboek ’n besonder waardevolle aktiwiteit waarmee die ouer die kind kan help om die sin van die lewe en die misterie van die menslike toestand te ontdek – en “aanmatigend” was sy besprekings allermins.

 

<<< Keer terug na die indeksblad vir hierdie seminaar.
 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top