Die Afrikaanse Taalraad (ATR) word deur die regering as amptelike mondstuk vir Afrikaanse mense erken. Die ATR besoek dus van tyd tot tyd Afrikaanse gemeenskappe om kennis te neem van plaaslike taal- en onderwysbehoeftes. Ons was al in Genadendal, George en Oudtshoorn (Wes-Kaap), Port Elizabeth (Oos-Kaap), Dundee (KZN), Eersterust en Mariepskop (Gauteng), en Kimberley, die Griekwa-gemeenskap en Orania (Noord-Kaap). Dat studente wat Afrikaans aan universiteit wil studeer, nou ook in aanmerking kom vir Fundza Lusaka-beurse, is die gevolg van 'n klagte deur die Genadendal-gemeenskap wat ons met die regering opgevolg het.
Op Donderdag 31 Julie het die ATR Mitchells Plain besoek. Die opkoms en gasvryheid was oorweldigend. Naas skoolbesoeke het ons program ingesluit: opleiding in kreatiewe skryf vir hoërskoolleerders deur Anastasia de Vries (UWK-dosent); interaktiewe voorlees vir kinders deur Amanda de Stadler (ATR-direksielid), wat deur 17 gemeenskapslede bygewoon is (dit was buitengewoon suksesvol, omdat die groep feitlik almal vrywilligers is in die “Help-to-read”-program wat in laerskole werk); opleiding in skooltaalbeleid vir beheerliggaamlede deur Paul Colditz (ATR-direksielid); en 'n oorsig van die ATR-visie deur Michael le Cordeur (ATR-voorsitter).
Die skoolsaal was volgepak van ouers, leerders, oudleerders, skoolhoofde en onderwysers, kringbestuurders, beheerliggaamlede en gemeenskapsleiers. Eerwaarde Michaels het vir die ATR Jeremia 29:11 voorgehou en gesê: “Ek het grootgeword met die idee dat Afrikaans 'n verdrukkerstaal is, maar vanaand het ek die ander kant van Afrikaans gesien, die mooi kant. Gaan voort met julle goeie werk! Ons dra julle op in ons gebede.”
Tydens die bespreking het dié vraag uit die gehoor gekom: "Almal in hierdie saal se huistaal is Kaapse Afrikaans, so wanneer gaan Kaaps in ons skole kom?" Die owerhede moet hiervan kennis neem, want daar woon ongeveer 2,5 miljoen sprekers van Kaaps in Mitchells Plain.

En toe volg Cedar Hoërskool ('n kuns-en-kultuur-skool wat al by Aardklop en KKNK opgetree het) se puik kultuurprogram: gedigte van Adam Small, Peter Snyders en Ingrid Jonker; 'n eie drama geskryf deur 'n onderwyser; die lied “Daar kom die Alibama” deur die skoolkoor; “Jantjie kom hys toe” deur die skool se blaasorkes; 'n dansitem deur leerders op maat van Afrikaanse musiek à la kabaret; en toe die kersie op die koek: Cedar voer 'n uittreksel op uit Kanna hy kô hystoe van Adam Small, onder leiding van die gesoute akteur en regisseur Peter Braaf, wat deur die versiendheid van die skoolhoof, David Charles, jong drama-onderwysers touwys maak. Op 15 en 16 Augustus word Kanna in die Gemeenskapsentrum in Bellville-Suid opgevoer. Beslis die moeite werd om weer te gaan kyk. Amiena Toefy se tradisionele Kaapse kos – koesiesters, samoesas, butternut-sop, heerlike hoenderkerrie en breyani – het die aand afgerond en die mense tot laat nog laat kuier, in Kaapse Afrikaans! Die netwerke wat die ATR oor jare opgebou het, begin nou vrugte afwerp. Wat 'n heerlike verrassing; watter onbeskryflike aand van nasiebou en versoening deur Afrikaans.

Die ATR sal aandag skenk aan behoeftes wat deur skoolhoofde geïdentifiseer is, onder meer bewusmaking oor die voordele van moedertaalonderrig, asook boekskenkings vir die beoogde vestiging van leeskringe vir ouers.
Hierdie maand vier die ATR Vrouedag saam met vroue van Atlantis en van Heidelberg in Gauteng.


Kommentaar
Steeds word Kaaps, wat onder meer geradbraakte Afrikaans is en waarin Engels geen brieke het nie, gepropageer. Wanneer begin die Afrikaanse Taalraad om suiwer Afrikaans te bevorder en Standaardafrikaans tot sy reg te laat kom?