Met dié dat die Baai se rugbytrots (ja, weliswaar teen alle verwagtinge in) – die Southern Kings – onlangs in die pekel beland het by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) omdat hul kwansuis te veel “buitelanders” in hul span het, kan die span gerus drie van ons politici vir die huidige superrugbyreeks oorweeg.
Die minister van finansies, Pravin Gordhan, adjunkpresident Kgalema Motlanthe en ANC-LP Johnny de Lange het in die onlangse verlede almal met uitsonderlike vaardighede vorendag gekom om in die Kings-span opgeneem te word.
Gordhan het in Februarie met die lewering van sy begrotingsrede gewys hy kan gemaklik deur ’n nou beweegruimte glip. Hy moes eintlik ’n kranige rugbysenter gewees het. So in die liga van ons legendariese senter, Danie Gerber van Despatch. ’n Ware puntemasjien; iemand wat in moeilike omstandighede die bordjies verhang en sy span tot ’n verbasende oorwinning gelei het.
Kyk hoe goed het Gordhan die begroting die afgelope drie jaar bestuur. “Boe! Julle het gedink ek gaan belastings verhoog en ek het nie,” het Gordhan voor die aanvang van sy begrotingsrede aan joernaliste gesê.
Suid-Afrikaners het behoorlik ’n sug van verligting geslaak. Die afgelope drie jaar het ons ekonomie so versleg dat die Minister se beweegruimte al minder geword het. Gordhan het egter die bal geneem, gesystap en soos ’n wafferse senter deur die nou beweegruimte gegly. Hy het sy opponente se verdediging gebreek en die bal tussen die pale gaan druk. Wat ’n oorwinning. Nou lyk ons ekonomiese vooruitsigte veel beter as wat dit voor die begrotingsrede was.
Nou kan Gordhan nie net vir die Kings as senter oorweeg word nie, maar ook vir die Bokke – en so ook die eerste Indiër nasionale rugbyspeler van Suid-Afrika word.
Om die agterlyn van die Kings te versterk kan Motlanthe as vleuel oorweeg word. Omdat hy nie meer die tweede mees senior posisie in die regerende party beklee nie, het hy miskien nou meer tyd vir oefening. Hy is bekend vir sy kalm persoonlikheid. Iemand wat eers wag, vinnig dink, dinge behoorlik deurkyk en dan vlugvoetig die kantlyn afhardloop, sy opponente een vir een klop en dan die bal gaan druk.
In die parlement is hy glo meer suksesvol as Jacob Zuma om die opposisie vir ’n ses te slaan as hy vrae van LP’s beantwoord.
Zuma, wat tydens Gordhan se begrotingstoespraak geslaap het, moet liewer nooit vir ’n rugbywedstryd oorweeg word nie. Die gevolge kan ’n groot verloor wees.
Deesdae is ’n bakleierye mos ’n alledaagse gesig op plaaslike en internasionale rugbyvelde. ’n Stormram soos De Lange, wat hom blitsvinnig vererg, kan mos die ding met die vuis vir die Kings doen. De Lange, wat as flank oorweeg kan word, is bekend as die man wat Manie Schoeman, toe nog ’n NP-LP, met sy regter oor die parlementsbanke laat trek het.

