
Women24 het in 2014 'n meningspeiling onder Suid-Afrikaanse vroue gedoen. Heelwat van die resultate het te doen met werksverdeling en hoe vroue voel om jongleurtoertjies uit te voer met huiswerk en loopbaanverwagtinge. Hier is die resultate.
Lili Radloff, een van die skrywers van Een stad, drie rooikoppe, sewe dae en redakteur van Women24, gesels hier onder met Naomi Meyer oor Sonja Loots se rubriek oor huisvroue wat onlangs in Rapport verskyn het.
Wat is jou definisie van 'n huisvrou?
Beslis nie iemand wat heeldag in die winkels en die salon rondlê nie! Ek was nog nooit self een nie, maar ek is grootgemaak deur ’n “huisvrou” en ek ken ’n paar, en wat ek kan aflei, is ’n huisvrou is iemand wat nooit lof, vakansie of betaling kry nie. Dis ’n bleddie ondankbare werk as jy my vra.
Dink jy huisvroue dra by tot die samelewing?
Ja, natuurlik. Soos huismans. Daar is nou maar eenmaal ’n hele klomp “onsigbare” werk in hierdie wêreld wat gedoen moet word of mens nou wil of nie. Iemand moet die kinders rondkarwei en die huis skoonmaak en die inkopies doen en die kos maak en kospakkies pak en die lisensies hernu en die geyser regmaak en van die slakke ontslae raak en die motor laat diens, ens. So jy kan dit self doen, of jy kan iemand betaal om dit vir jou te doen. Hoe dit ook al sy, dit moet gedoen word.
Wat van vroue wat werk – dra húlle by?
Ja, natuurlik. Die moeilike ding bly maar dat vroue wat werk, gedurig ook “huisvrou”-werk moet doen. Dis waarom dit so belangrik is dat mans en vrouens die werk deel. Een mens kan nie twee mense se werk doen nie, maar twee mense kan drie mense se werk deel. Dit gaan dus meer oor ’n mens se ekonomiese omstandighede. Die vrou wat deur die dag die werkende vrou se kinders voer en huis skoonmaak, moet nog steeds na die tyd haar eie huis gaan skoonmaak en haar eie kinders gaan voer.
Dink jy Sonja Loots se rubriek handel oor alle huisvroue?
Nee, ek dink Sonja het duidelik haar rubriek op die bedorwe, ryk leeglêers gemik wat heeldag sit en niksdoen nie. In my volgende lewe sal ek graag een van hulle wil wees, asseblief.


Kommentaar
Dit verbaas my dat die debat nog aangaan. Ek dink Suid-Afrikaners is lui en gemaksugtig. As elke lid van die gesin haar/sy bydrae lewer en hand bysit sal selfs 'n huishulp nie nodig wees nie. Ons leef te lekker in die land. Dit gaan mos te lekker, die huishulp sal skoonmaak en klere wat rondgestrooi is, optel. Indien daar nie 'n huishulp is nie sal mammie dit mos doen. Vrouens moenie kla nie. Hulle bederf die pappies en gebroedseltjies. Wat is verkeerd om kinders huiswerk of tuinwerk te laat doen of is dit skielik kinder-arbeid? Pappie kan ook sy deel doen. Wat is verkeerd dat hy kosmaak, stryk of wasgoed was? Ek het ook nog nie gehoor van 'n stofsuier wat 'n man ingesluk het nie. Suid-Afrikaners is, of het lui geraak.