Dave Pepler steun WAT se Borg 'n Woord

  • 0

Dave, jy is vanjaar beskermheer van een van die WAT se fondswerwingsinisiatiewe, die Borg ’n Woord-projek. Wat het jou motiveer om hierdie rol te aanvaar?

Met die afsterwe van my vriend Hennie Aucamp het ek skielik besef: die kroonaar na my bron van lieflike woorde is gesny. Hennie het my bewus gemaak van die musikaliteit van Afrikaans, die gepastheid, die aardsheid. My aanvaarding van hierdie rol huldig Hennie Aucamp.

Ek skat die rol van beskermheer is een waarin jy gemaklik is – jy ís immers die Groot Beskermer van alles wat groen is. Wat behels dit vir jou spesifiek om beskermheer van hierdie belangrike projek te wees?

Gemaklik? Allermins, want ek is eintlik ’n randfiguur, ’n afloerder. Soos ek dit sien, sal ek by elke moontlike geleentheid die WAT en sy rol uitdra en sorg dat hierdie kultuurskat bly staan.

Jy het in ’n onderhoud met kykNET gesê jou liefde vir plante kom van jou oupa wat jou in ’n kruiwa gestoot het op sy wandelinge deur die veld. Waar kom jou liefde vir Afrikaans vandaan?

Toe my ouma Lilly eendag ’n sampioen met haar kerkskoen uitgeskop het (ek was 4 of 5), my hand styf gedruk het en gesê het: “Kampernoelie! Duiwelsbrood!” Net dáár het Afrikaans vir my begin sing.

Dave Pepler (Foto: Facebook)

Daar is baie woorde wat ’n mens met Dave Pepler assosieer: groen, omgewing, bewaar, ekologie, baasverteller ... Die lys kan aanhou. Wil jy die lys aanvul met woorde wat vir jou spesiale betekenis het, of net besonder mooi is weens die klank daarvan?

Verbeelding – daar is geen mooier woord in Afrikaans nie. En wat van smeul, en lyfkoos, en malgas...

Hoe sal jy, in een sin, iemand motiveer om Borg ’n Woord te ondersteun?

Sonder woorde, Afrikaanse woorde, kan ons nie onthou nie; dus: borg net een woord en sorg dat Afrikaans nooit vergeet word nie.

Kuier saam met Dave Pepler op Facebook

Klik hier om die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se webtuiste te besoek en ’n woord te borg

Luister hoe mooi druk Dave Pepler hom in Afrikaans uit in hierdie YouTube-insetsel wat oor kuns handel:


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top