Titel: Danda
Skrywer: Chris Barnard
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624055105
Klik hier om Danda te koop by Kalahari.com.
Só dikwels hoor mens die versoek vanaf jonk en oud vir riglyne om ’n boek te skryf. Só dikwels gee mens algemene riglyne. Maar Danda, ’n jeugboek deur Chris Barnard, staan soos ’n landmerk uit op die soekpad na skryf.
Hoekom ek tot die derde druk van Danda gewag het voor ek dit vir die eerste keer gelees het, kan ek net die self voor kwalik neem. Want oornag kan ek aan almal wat na skryfriglyne soek, jonk en oud, sê: Lees Danda, want hierdie uithalerboek wys jou wat ware skryfkuns regtig is.
Die hoofkarakter, Danda – wat van Daniël Daneel se samevoeging gegroei het – verdiep geleidelik met die vordering van die boek. Dit staan in teenstelling met baie van die hedendaagse Afrikaanse boeke waarin ’n menigte karakters reeds deur hoofstuk 1 stroom; dikwels tot groot verwarring van die leser. Sinvolle verdieping van die menigte karakters vind in baie gevalle ook nie in hierdie boeke plaas nie. Dus, lees Danda as jy wil sien wat ordentlike karakterisering en karakteruitbouing is.
Danda woon by sy tante Marie en oom Peet, maar sy vertroueling is eintlik die alleenloper, ou-Faans, die toonbeeld van ’n wyse en uitgesponne veld-ensiklopedie. Onder meer vertel hy dat ’n jagter eers werklik honger moet wees voor hy raakskiet, want volgens hom maak ’n oorvol maag die jagter skeel. Hy is die een wat vir Danda sê: “Daar is sewehonderd ses en dertig soorte bome in ons land … daar is honderd en een soorte paddas, daar is honderd vyf en veertig soorte aalwyne, daar is omtrent honderd en veertig soorte slange, omtrent agthonderd en vyftig soorte voëls” (51).
Danda se pa, wat by die see ’n boot besit en daarmee visvang, is egter geldelik in die knyp. Hy skuld R2 000 op die boot wat hy binne dae in die Desember van daardie jaar moet betaal. Danda het oor tyd R1 280 in ’n glasbottel gespaar en hy bou sedert Julie reeds ’n 2 x 2 m-vlot waarmee hy rivierlangs kan vaar na die see om dit vir sy pa te gaan gee om die skuld te vereffen. En dan wil hy hom by sy pa vestig.
Danda het vier eienaardige troeteldiere wat hy baie liefhet en op die onherbergsame reis, wat baie nie eers sal waag nie, meeneem. Hulle is Kiki (sy kraai), Sindo (sy nagapie), Ratel en Vlooi (sy hondjie). Barnard gebruik die vier diere by uitnemendheid om die atmosfeer deur Danda se reis te verbeeld, asook meer oor Danda se eie emosies weer te gee. As Danda gespanne is, skud hy makliker vir Sindo van sy skouer af. Kiki toon die afstand aan wat Danda teenoor vreemdelinge op sy pad, soos Sarel Vetvoet, voel. Sindo bly naby aan Danda, wat op die gehegtheid teenoor sy diere dui. Ratel, wat siek word, teken die ontbering van al die reisigers, en Vlooi, wat orals aan die snuffel is, wys die voortvarende dapperheid van die reisigers uit.
Deur die vaardige gebruik van teenstellings verduidelik Barnard eintlik die gebruike wat tussen Danda en sy diere bestaan. Met woorde teken hy met presisie die omgewing waarbinne die karakters beweeg: “Dis Desember en die son brand soos ’n vuur in die lug” (9). “... in die dae wat hy nog voltyds jagter was, was die veld sy tuiste, die sterre sy enigste dag, en die hardekoolvuur sy haard” (14). “Die oggend is koel en vol tarentale … Skoenlappers wikkel oor die gras” (104).
Die voorbladskets kyk soos ’n lugfoto af op die reisigers op die rivier: Danda, Vlooi, Ratel en Sindo. En Kiki, wat soek is soos in die boek, word op die agterblad aangetref.
Die boek word as jeugboek aangebied en aan avontuur wat die leser vasgenael hou, ontbreek dit nie. Die reis het skaars begin of Vlooi val van die vlot af en Danda red hom. Die eerste nag in die veld ontmoet hulle Sarel Vetvoet, wat hom onmiddellik ongenooid aan hul heg, by hul skaar, hom as vriend tot hulle verklaar en altyd honger is. Gedurende die reis hou Kiki hom skaars as vreemdes soos Vetvoet naby is. Danda kry reg om Vetvoet vroeg die volgende oggend te ontglip. Toe word hulle met hewige reën en wind gekonfronteer, Danda doen skrape en snye op en Ratel word baie siek. Hy loop ’n jagter, Da Soussa, raak en sy dogter Rosina help Danda se wonde met soutwater versorg. Danda word deur haar skoonheid geraak. Weer loop hy Sarel Vetvoet raak wat as ryloper deur Da Soussa opgelaai word toe hy Danda toelaat om saam te ry tot die sendingstasie. Met die verdere reis moet hulle krokodille en seekoeie die hoof bied. En op die laaste bladsy staan hy tussen sy pa en die skuldeisers en …
Dis ’n moet-lees vir oud en jonk en ’n elk wat wil skryf – al dateer die oorspronklike teks uit 1974. Want dis tydloos en klassiek. En manjifiek.


Kommentaar
Waar mag ek asb die boek Danda bestel?