Curiosity land op Mars

  • 0

Die Curiosity – die grootste en beste ruimteverkenningstuig wat nog ooit gebou is – het op die Rooi Planeet geland. Herman Steyn, voorsitter van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese van die Universiteit Stellenbosch, beantwoord 'n paar vrae hieroor.

Presies waarna is die Curiosity-verkenningstuig op soek op die planeet Mars?

Die verkenningstuig is op soek na tekens van lewe (huidige en/of vorige) op Mars.

Hierdie verwikkeling word beskryf as 'n groot deurbraak vir ruimteverkenning. Wat is die betekenisvolheid in terme van wat hiermee bereik kan word en die implikasies wat dit vir die toekoms inhou?

Dit is die eerste keer dat ’n verkenningstuig die verskillende geologiese lae van Mars sal kan ontleed, aangesien dit in ’n krater langs ’n baie hoë berg geland het. Soos dit teen die rand van die krater uitklim, sal dit die prehistoriese lae van Mars se kors kan ontleed met behulp van die gesofistikeerde chemiese laboratorium wat dit dra. Indien tekens van lewe ontdek word, sal die vraag beantwoord word of lewe ook op ander planete moontlik is. Dit kan ook antwoorde bied op die vraag of ’n kolonie van aardbewoners in die toekoms op Mars moontlik is.

Wat, voorspel u, sal die uitkomste van die sending wees in terme van waarna daar gesoek word – onder meer die moontlikheid, wat u pas genoem het, dat mense in die toekoms die planeet sal kan besoek?

Indien tekens van lewe gevind word en genoeg grondstowwe gevind word om ’n toekomstige kolonie op Mars te kan ondersteun, is ek seker dat dit wel in die toekoms sal gebeur.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top