Die ATKV Boeke-oase by Clover Aardklop is daagliks oop van 09:00 tot 19:00 en alles wat daar aangebied word, is gratis. Naomi Bruwer het by Kabous Meiring uitgevind wat besoekers kan verwag.
Watter nuwe fiksie word vanjaar by die ATKV Boeke-oase bekendgestel?
Bedoel jy vir die eerste keer? Die meeste het darem al hul partytjies in die Kaap en Johannesburg gehad, maar ons gaan voort om die nuwe boeke te vier en NB-uitgewers loop voor met die fiksie: Klara van Mariël le Roux, Hans du Plessis se As die wind kon draai, Noot vir dood van Ilza Roggeband en Skrapnel van Irma Venter.

Wat bied die program vir die poësieliefhebber?
Antoinette Kellermann en Schalk Joubert doen ’n voorlesing met klank op Erfenisdag. Dis Breyten se gedigte. Almal moet kom, veral die Noordvales, want ons sien dit soms in die Boland, maar ’n eerste vir hier bo. Daarna sal daar ’n gesprek wees met Loftus Marais en Heilna du Plooy oor Nuwe stemme 5 en van die digters wie se werk opgeneem is, sal voorlees. Dis alles gratis en daar is wyn, maar wie het nou ander lokaas nodig as dit kom by goeie gedigte en Antoinette Kellermann …?
Wat is die keuse van niefiksie-boeke wat bespreek word?
Jislaaik, die niefiksie is fantasties. Ek is so lief vir Valsrivier van Dominique Botha, en dan moet almal luister na JP Landman se gesprek oor The Long View, sy nuwe boek wat ons, Suid-Afrikaners, por om realisties te wees en die alarmisme en drama te laat staan. Soos met Valsrivier, wat ’n lewensvertelling is, weet mens nie of Annelie Botes se Swart op wit dalk fiksie is nie. Hoe dit ook al sy, mense gaan sekerlik wil kom hoor wat sê dié omstrede skrywer. Sy gesels met ’n ou Aardklop-gunsteling, Deborah Steinmair. Terloops, haar boek Wenkbrou kom nou uit – dáárna sien ek uit.

Wat bied die AKTV Boek-oase vir besoekers wat nie die praatjies wil bywoon nie?
Luna Paige en Laurinda Hofmeyr gaan op twee van die aande optree! Besoekers kan kom kuier in die binnehof en natuurlik boeke koop – Graffiti-boekwinkel het alles wat jou hart begeer en Jan du Plessis se tweedehandse boeke is altyd ’n wenner. Dis ’n informele venue en beslis die plek om nabetragting oor toneelstukke te hou.
Gepraat van, daar is ook vier toneelgesprekke (oor Land van skedels, macbeth:slapeloos, Wie drink wat en Oorsee) wat beloof om baie insiggewend te wees, en dan moet alle besoekers aan Aardklop eintlik elke oggend die Media24 Diskoers kom bywoon – net die manier om jou dag aan die gang te skop, boonop met koffie en met gespreksleiers en deelnemers soos Jan-Jan Joubert, Waldimar Pelser, Anette Combrinck, Adam Habib en vele meer.
Ek weet jy kan dit nie glo nie, maar dis waar. Almal op Potchefstroom.


