Cape Town Fringe Festival: In liefde en leed

  • 0

Soveel soos wat Quartet en Piet se optelgoed ten opsigte van genres verskil, so na lê dié twee produksies se inhoud aan mekaar. Op unieke maniere handel beide Quartet en Piet se optelgoed oor verhoudings, begeertes en verlies. Albei hierdie produksies vra ongemaklike vrae rondom die mishandeling, veral seksueel, wat daar so dikwels in verhoudings bestaan.

Quartet speel in ’n salon voor die Franse revolusie en in ’n skuiling na die Derde Wêreldoorlog af. Bitter mededingers en eksminnaars ding mee in ’n manipulerende rolspel waarin hul hul sadistiese seksuele fantasieë uitleef in die aangesig van onvermybare verdoemenis.

Onder leiding van Marthinus Basson raak die uitstekende geselskap die baie uitdagende teks maklik baas. Daar moet veral vermelding gemaak word van Greta Pietersen se gemaklike verwisseling van karakter. Haar verskillende karakters is weldeurdag en verfyn, van stemgebruik tot fisikalisering. Die paar (Pietersen en Ludwig Binge) vloei ewe gemaklik van rolspel tot rolspel in die uitbeelding van die paartjie se verwronge seksuele begeertes.

Quartet is op geen manier vir óf die gehoor óf die teatergeselskap maklik verteerbaar nie. Die vinnig-bewegende en teksgedrewe stuk gevul met kru beelde is nie vir enige akteur of gehoorlid beskore nie. Die geselskap maak egter daarvan so ‘n groot  teaterplesier as moontlik en boei die gehoor, effe ongemaklik, met uitnemende spel en bemeestering van dié uitdagende teks tot aan die einde van die verhaal.

Piet se optelgoed, geskep en met spel deur Liezl de Kock, gee weer sonder woorde aan ’n soortgelyke verhaal die lig. Die verminkte liggaam van die karakter kry lewe in haar wêreld gevorm deur vreugdes en begeertes. De Kock, werklik ’n meester van die fyn kuns van fisiese teater, gebruik dié kunsvorm tot sy uiterstes. Sy neem die gehoor saam op ’n komiese reis deur die karakter se wêreld. Ons maak egter gou kennis met die onheilspellende waarheid van haar roetine en ritueel. Hier sien ons ook dan hoe seksuele begeertes verwring word tot geweld.

Beide hierdie produksies se speeltye is ongelukkig reeds voltrek by die Kaapse Fringe-fees, maar kyk gerus daarvoor uit by volgende nasionale feeste, waar dit hopelik gou weer te sien sal wees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top