Die uiters gewilde rockgroep Straatligkinders het pas ’n nuwe album, Konings met Verskonings, vrygestel. Die groep se hoofsanger, Bouwer Bosch, is aan die woord oor hoe dié album tot stand gekom het.
Dagsê, Bouwer. Hoe's dinge?
Goeie dag! Gaan heerlik die kant in Pretoria. Ons werk hard om die nuus te versprei van die nuwe album, so hierdie tyd is die tyd wat mens seker die hardste werk tydens die vrystelling van ’n nuwe album. Ek was nog nooit so arm en gelukkig op dieselfde tyd nie, so dis nuut vir my.
Foto: Werner Botha / Plastiek
Die eerste ding wat my opval met die luister van die album is hoe baie die klank verskil van die "side projects" wat aktief was tydens Straatligkinders se hiaat van twee jaar – vernaam van snitte soos "Vir altyd" en "(K)anker", wat jy as solokunstenaar vrygestel het, en die werk van Dans Dans Lisa. Hoe gaan jy te werk met die proses om verskillende klanke vir verskillende projekte te verfyn en hoe sou jy die klank waarvoor julle gemik het met Konings met Verskonings beskryf?
Daar is nie regtig reëls as dit kom by musiek nie. My liedjies is soos om ’n dagboek te hou met lirieke en note. Soms voel jy gelukkig en soms voel jy hartseer en dan pen jy neer wat jy voel. Ek dink mense wat van jou werk hou, sal dit so raaksien en ander sal dink jy probeer geld maak en jy probeer iets wees wie jy nie is nie. Wat Dans Dans Lisa aanbetref, ons is ’n acoustic band, so ons het net twee kitare en ’n klein klaviertjie waarmee ons moet regkom. Dit is die moeilikste projek om voor te skryf – omdat die songs nie rêrig op radio sal speel nie, moet jy die tipe songs skryf wat MK sal speel en wat jou fans op hulle fone sal wil sit en aanstuur vir almal. Folk/acoustic musiek is nog nuut, so dis moeiliker om net afhanklik te wees van 2/3 instrumente om ’n treffer te skryf. Wat my solo-goed aanbetref dink ek omdat ek nie rêrig ’n Bobby of ’n Steve is nie kan ek aanpak wat ek wil, want dit is nie my inkomste nie en dis net vir kreatiewe uitdrukking (is dit ooit ’n term?). So as ek songs skryf vir myself sal dit die tipe song wees wat ek voel nie sal werk vir Dans Dans Lisa of Straatligkinders nie. Met die nuwe SLK-album se klank wou ons gaan vir die tipe songs wat ons live sal wil speel en as ons na ons gunsteling bands gaan kyk moet dit die tipe songs wees wat jy live wil hoor. Die nuwe klank is baie meer afgerond – "less is more" tipe styl. Die standaarde in musiek in Suid-Afrika het baie gestyg en omdat ons ’n rukkie weg was, wou ons terugkom en op standaard wees met die groot bands in ons land. Met KMV het ons baie aandag gegee aan die songwriting om seker te maak die beste elemente is in elke song. Jy het drie minute om ’n storie te vertel, so jy moet die beste karakters en liggings kry sodat mense vir drie minute nie hulle ore van die storie af wil hou nie.
Die temas wat op Konings met Verskonings verskyn, is egter nie vreemde terrein vir jou of vir SLK nie. Besprekings van liefde, sonde, foute en vergifnis word vergesel deur beelde van duiwels en engele. Is hierdie bloot die temas waaroor julle deurentyd gemaklik voel om te skryf, of voel jy dat julle met jul groei as musikante ook nuwe insigte en gedagtes hieroor het en genoop voel om dit weer te gee?
Ek was nog altyd ’n fan van Jesus, en die kerk, en binne dit alles hoe gebroke dit eintlik is. Ek hou daarvan om my siel neer te lê dat mense kan sien ek wonder ook oor hierdie goed en ek sukkel ook met sekere goed. Hoe eerliker hoe heerliker, voel ek. As mens nie kan relate met jou gunsteling-kunstenaar nie, hoekom is hy dan jou gunsteling-kunstenaar? Ek het vir seker al baie geleer vandat SLK begin het, en as ek na ons eerste album, Bloeisels, luister, dan bloos ek omtrént, want daardie lirieke was nogal baie emo gewees. Haha, maar dis maar hoe ek gevoel het ses jaar terug. Met die nuwe album is dit hoe ek nou voel – baie ligter, en verstaan sommige goed beter. Ek het al geleer om nie te probeer antwoorde gee vir alles nie. Soms moet mens net mense help dink oor sekere goed sodat hulle self die antwoorde kan uitfigure.
Gepraat daarvan – dis geen geheim dat julle musiek met die agtergrond van Christelike oortuigings skryf en uitvoer nie. Hoe dink jy pas dit in (al dan nie) by die res van die Afrikaanse rock ‘n roll-landskap, en voel julle julle dra ’n boodskap uit deur die musiek wat as teenvoeter vir of skuilplek teen ander invloede moet dien?
Ons sien onsself as ’n eerlike band. Ons maak eerlike musiek. Ons sal sê hoe ons voel of glo, maar ons sal ook sê ons weet nie alles nie en ons weet nie wat môre gaan gebeur nie, net soos enige ander persoon met ’n ander geloofsoortuiging as ons. Ons plan is nie om die wêreld te red nie. Ons wil liedjies skryf wat ons help om te oorleef, emosioneel en finansieel. Ons gooi nie Bybels in die moshpits by ons shows nie en ons probeer ook niemand verander van ons vriende wat nie soos ons voel nie. Van ons beste vriende in ander bands is ateïste of Boeddhiste en dit is nie vir ons enige ’n rede om nie vriende te wees nie. In ’n land soos Suid-Afrika waar godsdiens so ’n groot ding is en so ’n sensitiewe onderwerp is, voel ek dat SLK vir seker ’n rol speel in hoe mense daaroor dink. Ons is meer fans van Jesus as van die kerk. Ek het net soveel vrae soos ’n ateïs oor God en ek dink dit tel vir seker in ons guns, want daar is baie mense daar buite wat ook oor sekere goed wonder. Ek het dit al baie gesê: as dit nie vir Fokofpolisiekar was nie, het ek God nie verstaan en liefgehad soos ek hom vandag het nie. Die ironie van wat tans in die alternatiewe scene aangaan in Suid-Afrika is dat ek agterkom dat bands soos Heuwels en Fokof meer oor en van God skryf as "Christian bands", of so voel dit vir my. Die Christian bands sing en waarsku jou teen die duiwel, en die ander bands sing oor God en wonder oor hom en vra vrae rondom hom. Dit is wat my dryf, as iemand op ’n mission is om antwoorde te kry.
Terug na die musiek: een van die opmerklike elemente is dat daar blykbaar heelwat aandag geskenk is aan die “hooks” in die snitte, veral wat die refreine betref, in ware pop-punk styl (of "pretcore", soos julle dit noem). Was dit ’n doelbewuste fokuspunt en het julle navorsing gedoen in hierdie opsig, byvoorbeeld deur bietjie idees te leen by ander groepe? (Ek hoor byvoorbeeld invloede van bekendes soos vroeë Blink182 en Sum41, asook latere Offspring ...)
Haha, as jy "Trane" gaan luister hoor jy definitief iets soortgelyk in ’n "First date" van Blink 182 – en dit was heel toevallig gewees. Toe ek dit opneem, toe hoor ek dit dadelik, toe dink ek net dit is amazing en honderde ander bands moes dit ook al gebruik het. Musiek het net sóveel note, en iewers gaan iets soos iets begin klink, so niks was doelbewus gedoen nie. Ons almal het van die nuwe Simple Plan-album gehou – die sound was heavy maar ook vriendelik, en wou so iets doen. Die belangrikste element in ’n song is jou "hook", so jy moet aandag gee daaraan – dis al hoe mense jou songs onthou. Ek dink dit is waar my cheesy Dans Dans Lisa-skryfstyl ingekom het .. by die hooks, omdat ek die waarde begin raaksien het van ’n catchy chorus. Mense hou nou maar net van ’n catchy song en jy kan catchy songs skryf sonder dat die lirieke en die boodskap van die song verlore gaan. In Afrikaanse pop is die songs catchy, maar die woorde maak nie sin nie. Ons wou goeie pop rock songs skryf sonder dat ons integriteit en identiteit verlore gaan.
As ek reg tel, is hierdie julle derde album. Hoe vergelyk dit vir jou met die vorige aflewerings en in hoe ’n mate is dit ’n aanduiding van wat julle in die toekoms wil voortbring?
Hierdie is eintlik ons vierde album. Sover is hierdie nog my gunsteling. Die voriges was ook amazing, maar die sound was baie anders, meer rou en en random. KMV het ons deeglik beplan en seker gemaak die beste songs kom op die album. Dit is moeilik om te sê wat ons in die toekoms wil doen. Ek was by Linkin Park die naweek en het soveel respek gekry toe ek besef hoe hulle nog altyd net gedoen het wat hulle wou. Hulle is nie meer so heavy soos op hulle eerste album nie, maar hulle songs bly tydloos vir my en hulle het verander soos die tye en die ook musiektegnologie verander het. So dalk bring ons iets uit eendag wat heeltemal anders en vreemd is. Mens wil ook nie in een styl vassit nie. Mens wil groei en jouself uitdaag om beter te begin skryf en rond te speel met nuwe klanke sonder om iets stupids te doen.
Gepraat van die toekoms – daar is soms ’n persepsie dat jong rock bands in Suid-Afrika ’n rakleeftyd het, veral met finansiële uitdagings in ag genome. Hoe beskou jy dié situasie vir julself en vir ander bands in jul portuurgroep?
Ja, dit is maar ’n moeilike ding. Ons land is so klein en daar is net sóveel feeste, skole en klubs waar jy kan speel, so mens raak nogal gou uitgetoer waar die roetine jou begin onderkry. Ek leer baie by VCK en Heuwels oor hoe hulle hulle besigheid doen. Jy moet jou band as ’n besigheid sien en jy moet ook sulke besluite begin neem. Dit kom vir my neer op die songs en die produk. As jy goeie songs het en die vermoë het om dit daar uit te kry sal die songs self die werk doen. Mense sal hulle gunsteling-liedjie altyd wil live hoor, want dis al wanneer hulle met die sanger van hulle gunsteling song kan saamsing. Ek wonder baie oor hoe die Afrikaanse scene gaan lyk oor 20 of 30 jaar. Wie gaan die volgende Steve Hofmeyr, Koos Kombuis, Anton Goosen of Karen Zoid wees? Gelukkig is Afrikaanse mense baie patrioties en ondersteun hulle taal, so dit tel baie in ons Afrikaanse bands se guns. Die geheim is om ’n aanvraag te skep. Mense moet voel hulle mis uit as hulle nie jou musiek ondersteun nie. As jy daai resep onder die knieg het, sal jy oukei wees.
Straatligkinders se eerste musiekvideo, opgelaai in 2008.
Wat jou eie rol en toekoms in die bedryf betref – jy word beskou as ietwat van ’n “kingmaker” (op ’n goeie manier, natuurlik ... en 'scuse the pun) wat populêre musiek in die Potch-gebied betref. Is dit die plek, geografies en figuurlik, waar jy jou vir die afsienbare toekoms sal bevind, of is daar planne vir ’n witboordjiewerk?
Haha, wat beteken "witboordjiewerk"? Ek bly al amper twee jaar in Pretoria, so ek dink nie dit is die plek nie. Ek dink ek sien myself meer as ’n entrepreneur of ’n schemer as enigiets anders. Ek is lief vir musiek en dit is op die oomblik al wat ek het. So my cheesy liedjies of diep liedjies of dele wat ek skree is maar die note wat ek gebruik om my huur te betaal en my kar vol te maak. Ek skryf maar non-stop. Ek het "mooier as gedigte" (op ons nuwe album) se woorde en melodie in 30 minute op die lughawe in Kaapstad geskryf terwyl ek gewag het vir my vlug, so ek dink ek is baie bevoorreg dat ek elke oggend wakker word met ’n melodie in my kop. Hopelik kan ek dit doen en my eie gesin eendag met my idees en liedjies ondersteun. My leuse is maar "fake it till you make it", so hopelik eendag kan ek dit "maak".
Ek het die volgende gedeelte in ’n onderhoud met julle op MK Online raakgelees: "Met die breuk en die sideprojects se sukses het almal betrokke baie geroei [sic] as songwriters en musikante." Is daar ’n tikfout, of is julle werklik kranige roeiers? Hoe roei ’n mens spesifiek as ’n musikant – word instrumente as spane ingespan? Indien wel, watter instrumente sou jy vir jong roeiende musikante sê werk die beste?
Haha, daar is meer geld in roei as in musiek, so ons roei maar nou en dan vir ekstra sakgeld. Jou baskitaar is jou beste roeispaan.
Laastens – die tyd sal seker leer, maar wat hoop julle sal mense wegneem met die luister van die album? Hoe hoop julle sal dit bydra tot die uiteindelike nalatenskap van die Straatligkinders, en hoe wil jy hê dié nalatenskap moet lyk (of eerder, klink)?
Ek hoop maar mense kan binne die songs agterkom hoe lekker hierdie vir ons is en hoe bevoorreg ons is om musiek te kan maak, asook weer besef dat ons maar net vier average losers is wat baklei vir ons droom en waarin ons glo. Te danke aan ons amazing producers Ewald Jansen van Rensburg en Francois de Klerk dink ek gaan dit moeilik wees om gou ’n beter album uit te bring van ons kant af. Ek dink ons wil iets los van: moet nooit settle nie, hou aan skryf en glo in jou eie songs. As jy nie in jou eie songs gaan glo nie, gaan niemand in dit glo nie.


Kommentaar
Bouwer en Henry
Julle moet albei Anne Sexton se bundel The Awful Rowing Toward God lees. Sommer net. Die eerste poem is "Rowing" en een deel daarvan gaan so:
"and then there were many strange apparitions,/ the nagging rain, the sun turning into poison/ and all of that, saws working through my heart,/ but I grew, I grew,/ and God was there like an island I had not rowed to, / still ignorant of Him, my arms and my legs worked,/ and I grew, I grew,/ I wore rubies and bought tomatoes/ and now, in my middle age,/ about nineteen in the head I’d say,/ I am rowing, I am rowing ..."
en dit eindig met:
"this story ends with me still rowing."