![]() |
|
Hussein Solomon
|
![]() |
|
Johann Rossouw
|
Suid-Afrikaners beleef toenemend hoe ’n staat wat daarin misluk om te voorsien in die behoeftes van sy burgers, vrugbare grond vir radikale politiek en onverdraagsaamheid tussen verskillende etniese gemeenskappe bied. Gematigde Christene en Moslems staar vandag ’n soortgelyke uitdaging in die wêreldpolitiek in die gesig.
Vir sommige mense bevestig die onlangse dodelike terreuraanvalle in Parys, die brutale verbranding van ’n Jordaniese vegvlieënier deur ISIS en Boko Haram se voortgaande slagtings Samuel Huntington se voorspelde “botsing van beskawings”. Volgens dié oppervlakkige siening word die Islamitiese geloof dikwels gelykgestel aan barbarisme en die Christelike Weste aan beskawing.
Wat egter nodig is, is groter begrip van die Islamitiese geloof wat Europa ironies gehad en toe verloor het. In sy Verhandeling oor verdraagsaamheid (1763) het die Franse filosoof Voltaire besin oor Europa se brutale “godsdiensoorloë” waarin Europese leiers die Christendom vir oorlogsmobilisasie misbruik het. In dié boek het hy Europa bekendgestel aan Islam en dié se tradisie van verdraagsaamheid, en die Koran se opdrag dat daar geen dwang in godsdienssake kan wees nie, gestel teenoor Europese godsdienstige onverdraagsaamheid. So het hy ook die Christelike kerkvader St Johannes Chrysostomos geëggo toe dié geskryf het: “Dit is nodig om ’n mens nie deur dwang nie, maar deur oorreding te verbeter.”
Verdraagsaamheid en respek vir ander se geloofsoortuigings lê inderdaad aan die hart van Islam en die Christendom. Dié verdraagsaamheid spruit uit ’n diepliggende nederigheid wat Islam onder Moslems aanmoedig – dat daar nie slegs een waarheid is wat slegs een groep in pag het nie. Die Koran stel dit kategories dat “God elke volk ’n profeet wat in hulle eie taal praat, gegee het”.
In die geval van die Christendom is daar ’n lang tradisie vanaf die kerkvader St Justinus die Martelaar, wat aanvoer dat aangesien alle mense van nature na God verlang, elke godsdiens as uitdrukking van hierdie verlange ’n mate van waarheid bevat en as sodanig deur Christene gerespekteer moet word.
Die Koran se opdragte oor verdraagsaamheid is beklemtoon deur die profeet Mohammed toe hy gesê het dat hy gekom het om ’n “middeweg” van die godsdienstige lewe wat uiterstes vermy, te bring. Benewens die verwerping van ekstremisme, is genade, erbarming en vrede die drie belangrikste waardes wat Islam leer. Hierdie waardes word die beste geïllustreer deur hoe die profeet Mohammed met sy triomfantelike terugkeer na Mekka almal wat hom en ander Moslems voorheen vervolg het, vergeef het – insluitend ’n vrou wat sy oom wreed laat vermoor het. Ongelukkig vind hierdie waardes nóg in die harte van ISIS se brutale boewe weerklank, nóg in die opkomende gety van Islamofobie in Europa wat vra vir dinge soos vir ’n beperking op Moslem-immigrante en aanvalle op moskees.
Christus het op Sy beurt Sy volgelinge opgeroep om hul vyande lief te hê en ’n onvergeetlike voorbeeld van verdraagsaamheid gestel toe Hy aan die kruis by Sy Vader gepleit het om diegene wat Hom gekruisig het, te vergewe “want hulle weet nie wat hulle doen nie”. Dit is baie ver verwyderd van die voormalige Amerikaanse president, George W Bush, se katastrofiese oproep vir ’n nuwe “kruistog” voor hy die oorlog begin het in Irak, wat oplaas ’n werwingsterrein vir ISIS geword het.
Dit blyk dus dat sowel Islam as die Christendom hulle porsie gewelddadige opportuniste het wat hul godsdienste vir politieke oogmerke sal verdraai.
As die wortels van terrorisme nie in die Koran te vinde is nie, hoe moet die verwoestende opkoms daarvan dan verklaar word?
Miskien is een area wat weer ondersoek moet word, die ekonomiese en staatkundige konteks. Die Duitse filosoof Jurgen Habermas se verdeling van die wêreld in state wat wen en state wat verloor, weerklink in Benjamin Barber se bespreking van terrorisme as ’n reaksionêre antwoord op roofdierkapitalisme en ’n vervreemdende globalisering: “Die kapitalisme misluk skouspelagtig met verspreiding en dus met veiligheid en geregtigheid ... Internasionaal is daar slegs ’n woedende asimmetrie wat die eerste en laaste oorsaak is van ’n anargisme waarin terreur floreer en terroriste hul perverse argumente oor die dood stel aan jong mans en vroue wat hoop op lewensmoontlikhede verloor het.”
Is dit toevallig dat sommige van die armste lande ter wêreld terrorisme ervaar? Terwyl die wêreld se bruto binnelandse produk (BBP) per kop $10 000 is, het Mali, wat een van die wêreld se 25 armste lande is, tans ’n BBP per kop van ’n skamele $700. Die syfer vir Afganistan is $600 en vir Somalië ’n miserabele $100. Soortgelyke syfers kom voor in Jemen, wat ontpop het as ’n vrugbare teelaarde vir Islamitiese ekstremiste.
Let ook daarop dat hierdie gaping tussen dié wat het en dié wat nie het nie, nie slegs tússen state nie, maar ook bínne state voorkom – veral in Afrika. Neem byvoorbeeld in ag dat terwyl 27% van die Christelike suide in Nigerië in armoede leef, ’n skokkende 72% van die Moslem-noorde onder die broodlyn leef. Voeg nou ’n etniese dimensie hierby dat die Moslem-noorde oorweldigend Hausa-Fulani is en jy het ’n wispelturige mengsel wat godsdienstige, sosio-ekonomiese en etniese verdelingslyne in die Nigeriese samelewing verdiep. Is dit dan ’n wonder dat Boko Haram sulke opgang in Noord-Nigerië gemaak het?
Ook in Frankryk is jong, werklose Moslems in Paryse ghetto’s toenemend vervreemd, terwyl besuinigingsmaatreëls as gevolg van die Eurosone se krisis hulle daartoe verdoem om ’n sukkelbestaan op die rand van die Franse samelewing te voer – soos hulle vernederde immigrantvaders.
In Irak en Sirië speel ’n andersoortige dog aanverwante dinamika af. Soenni-Moslems in Sirië word al lank oorheers deur ’n minderheid-Sji’iete-familie, die Alawiete. In die naburige Irak het die Soenni’s ná die omverwerping van Saddam Hoessein gesien hoe hulle opkoms gefnuik is deur die oorheersende Sji’iete met die bystand van Teheran. Radikale politieke Islam het gevolglik die politieke voertuig vir Soenni’s in albei lande geword om te verenig en Sji’ietese oorheersing in die vorm van ISIS te probeer beëindig. Baie hiervan word gedoen met die stilswyende finansiële steun van die VSA se belangrike bondgenoot, die olieryke Saoedi-Arabië.
Niks hiervan verskoon die wrede dade wat deur groeperinge soos Boko Haram en ISIS gepleeg word nie. Die eintlike punt hier is dat in plaas daarvan om die Koran as ’n bloudruk vir terrorisme te sien, die konteks waarbinne hierdie bewegings opgekom het, ondersoek moet word. Slegs deur die ekonomiese en staatkundige toestande wat hierdie gewelddadige bewegings voortgebring het te verander, kan ons verby die geweld beweeg en ons gemeenskaplike menswees vind.
In hierdie opsig het Christene en Moslems wat werklik getrou is aan hulle verskillende tradisies in plaas van ’n gewelddadige verdraaiing daarvan, ’n spesiale verantwoordelikheid om verdraagsaamheid te beoefen en opportuniste wat wanhopige jongmense vir hulle doodsveldtogte werf, te weerstaan.
Johann Rossouw en Hussein Solomon is onderskeidelik verbonde aan die Departemente Filosofie en Politieke Wetenskap, Universiteit van die Vrystaat. Hulle skryf in hul persoonlike hoedanigheid.



