Boekedag 2012: Riette Rust kies 'n karakter

  • 0

As jy enige karakter in ’n boek kon wees, wie sou jy wees en waarom?

Ek het lank oor hierdie een gedink. Daar is egter net een eerlike antwoord: ek sou graag Carien wou wees. Sy verskyn in “Eer jou vader”, ’n verhaal in my eie bundel, ’n Lyf onthou. Nie omdat ek haar kinderjare sou wou hê nie – dis erg, erg traumaties om ’n alkoholverslaafde pa te hê – maar omdat ek Carien sal wil wees ná sy die trauma deurleef, oorleef en oorkom het. Dit maak jou sterk. In ’n ander verhaal, “Vanielje”, trou sy met ’n vervelige man. Vir hom sou ek ook nie wou hê nie. Want hy is een van die redes waarom sy sadomasochisme beproef. Dis iets wat my vreesbevange maak. Dalk vind ek tog só eerstehands uit wat iemand motiveer om dit wat ons as afwykend beskou, te ondersoek en uiteindelik te wíl beleef.
         
Carien se verhaal is nog nie voltooi nie. Ek sou graag, anders as sy, by die punt van vergifnis teenoor haar pa wou uitkom. Hóé, weet ek nie. Want hoe vergeef jy iemand wat jou kindwees gesteel het? Niemand kon vir Carien help nie. Nie haar ma se dominee nie. Nie haar sielkundige nie. Nie ’n spiritualis nie ... Dink net watter ongelooflike toneel dit sou kon wees as Carien op ’n hoë ouderdom langs haar pa se graf staan en sê: “Pa, ek vergeef jou.”

Riette Rust is die skrywer van die kortverhaalbundel ’n Lyf onthou wat vanjaar by Protea Boekhuis verskyn het, en van Lang bene & Lipstiek: Gebruik jou seksualiteit en behaal sukses wat verlede jaar by Naledi verskyn het. Riette is ook ’n vryskutjoernalis. Lees haar resensie van Nicky en Lou hier. 

Keer terug na die boekedag-indeksblad.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top