Bekendstellingsontbyt van Ons Stories in Kaapstad

  • 2

Ons Stories is ’n splinternuwe dramareeks wat Suid-Afrikaners se verhale vertel. Die stories handel oor die wel en weë van gesinne van die Kaapse Vlakte, werkers in die wynlande en families van Uitenhage. Dis verhale oor die mense van Eersterust, Westbury en Eldorado Park.

Ter bekendstelling van dié program het rolspelers wat hierby betrokke is, op 30 September 2014 vir 'n heerlike ontbyt in Kaapstad bymekaargekom.

Die reeks bestaan as 't ware uit twintig kortfilms, elk se draaiboek deur verskillende skrywers geskryf. Cedwyn Joël vertolk onder andere die rol van Uncle Trevor in 'n verhaal waarvan Ronelda Kamfer-Trantraal die draaiboek geskryf het.

Elke storie is deur ’n ander skrywer gepen, speel in ’n ander dorp of gebied af en het ander karakters. Daar is moderne stories in rykmansgebiede, kleurryke stories in tradisionele woonbuurtes en ’n paar geskiedkundige verhale uit die jare toet. Akteurs wat aan die stories lewe gee, sluit in Donovan Pietersen, Denver Vraagom, Amy Samuels, Christopher Jaftha, June van Merch, Jonathan Pienaar, Eloise Cupido, Sharleen Surtie-Richards, Shemane Harris en Adrian Alper. Hier staan Shemane Harris en Cedwyn Joël reg vir 'n foto.

June van Merch en Shemane Harris (foto: Frieda le Roux)

Almal het lekker in My Basaar gesels ...

... en ook lekker geëet.

"Die temas van die 20 uur-lange enkeldramas wat onder die Ons Stories-vaandel debuteer, is uiteenlopend en divers: disfunksionele gesinne en gemeenskappe, die wonde wat apartheid gelaat het, die euwel van afwesige ouerfigure, armoede, liefde, die invloed van dwelms, en die siklus van die bendekultuur," vertel Colin Howard, die opdraggewende vervaardiger van die reeks.

Ter afskeid ontvang elke gas 'n protea. Hierdie nasionale blom voel simbolies soos die titel van die program: ons almal se stories.

Ons Stories word vanaf 2 Oktober 2014 om 20:00 op KykNET & Kie (Kanaal 145) uitgesaai.

  • 2

Kommentaar

  • KYKnet en Kie ek wil vir julle dankie sê en gelukwens dat julle die reeks vervaardig het. Dit word opreg waardeer want dié soort programmering is nie te siene op ENIGE Televisie stasie of kanaal nie. Vir die eerste keer in die geskiedenis van televisie kry die REGTE Suid-Afrikaners wat hulle lankal te beurt moes geval het. Die mense wie IS wat ander Suid-Afrikaners nog moet WORD. Hulle wie se  komvandaan so eie is aan die wye en bedroefde land soos Die Kaapse Vlaktes, Tafelberg en die Die Suidooster. Dankie dat Afrikaans julle kernbesigheid is. Ek is so bly dat sommige NIKS vir Afrikaans voel nie want hulle sou so reeks opgeneuk het. Televisie in die land het baie verander. Dankie dat ONS weer trots kan wees op wie en wat ons is. Nie hoe ons deur ander gesien of gestereotipeer word nie. Mag die reeks groei tot een van die bestes ooit en dankie vir wat julle vir Ons Moedertaal doen!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top