Beginners is alles wat ’n fliekkyker kan vra

  • 0


Beginners
Regisseur: Mike Mills
Rolverdeling: Ewan McGregor, Christopher Plummer, Mélanie Laurent

 

Hierdie film is al maande lank op ons kringloop, en geen wonder nie, want dis iets baie besonders. Die hele aanslag is aweregs, wat dit vars en oorspronklik maak. Die hoofgebeure is die verhouding tussen ’n pa en seun, maar die film bied veel meer as dit. Dis ’n besinning oor verhoudings: tussen ouers en kinders, en hoe die geheime wat daardie verhoudings dra, op hulle beurt die kinders se verhoudingslewe bepaal (in die meeste gevalle opmors, om meer spesifiek te wees). Oliver (Ewan McGregor) is ’n 37-jarige grafiese kunstenaar. Met sy ma se dood vier jaar gelede het sy pa (Christopher Plummer) op 75-jarige ouderdom aangekondig dat hy gay is en dat hy in sy laaste jare openlik gay gaan leef. Eers toe Oliver sy pa in sy laaste maande met terminale kanker moet versorg, leer hulle mekaar werklik ken.

Ewan McGregor pas perfek in sy rol, maar die warm hart van hierdie film is Christopher Plummer se deurleefde karakter. Mélanie Laurent (wat ons verlede jaar in The concert gesien het) vaar baie goed as die aktrise op wie Oliver verlief raak. Dan is daar ook nog die dierbare hond genaamd Arthur – wat meer kan ’n fliekkyker vra?

 

 

     

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top