
Theatre on the Bay in Kampsbaai vier vanjaar sy 25ste verjaardag en het Andrew Lloyd Webber se Sunset Boulevard gekies om dié hoogtepunt te vier én die jaar af te sluit. Mensig, wat ’n vertoning!
Dis 1949 in Hollywood, die dae van lang slap karre, polkadots en Paramount Studios as middelpunt van vele jong akteur, draaiboekskrywer en regisseur se drome. Maar die plek waar drome gemaak word, is ook die plek waar drome verguis word. Die stel word met behulp van ’n reuse-doek waarop beelde gegooi word, geïllustreer en die musiek skep die onheilspellende atmosfeer wat daarop dui dat alles nie pluis is in die stad van klatergoud nie.
Die storie draai om Norma Desmond (Angela Killian – Cats, The Phantom of the Opera, Evita), ’n vergete filmster van die dae voor klank in films, wat meesterlik speel teenoor Jonathan Roxmouth (The Phantom of the Opera, A Handful of Keys, Beauty and the Beast, Grease) as Joe Gillis, ’n opportunistiese jong draaibroekskrywer. Sy het eens groot aansien geniet en haar naam was op duisende se lippe, en hy hoop om eendag daardie selfde roem te geniet.
Toe hy een aand wegkruip van invorderaars wat sy motor wil terugneem vir uitstaande krediet, beland hy in Norma se oprit. Hy ontmoet vir Norma, wat saam met haar huishouer, Max von Mayerling (James Borthwick – Chess, Evita), in ’n reuse-huis woon en droom van die dag wat sy weer tot die silwerdoek sal kan terugkeer.

Sy het ’n draaiboek wat haar terugkeer glo sal verseker en vra vir Joe om dit na te sien. Die draaiboek, waarin Norma die 16-jarige Salome wil vertolk, is egter onbruikbaar en Joe se ywer taan soos sy gevoelens vir die jong Betty Schaefer (Bethany Dickson – Grease) groei. Hulle werk saam aan sy draaiboek en hul liefde groei, ongeag die feit dat Betty verloof is aan Artie Green (Kyle Grant – Dirty Dancing), Joe se beste vriend, en dat Joe romanties verbind word aan Norma, wat selfmoord probeer pleeg toe hy haar verwerp.
Joe besef ook gou dat sy drome om sy naam in ligte te sien, geen maklike taak is nie, dat mens jou siel moet verkoop vir daardie roem. Hy sing op ’n keer “Sunset Boulevard, getting here is only the beginning.”
Intussen worstel Norma met haar eie verganklikheid; sy is bang vir die nuwe film waarin sy glo sy gaan speel. Sy dink terug aan haar gloriedae en sing hoe hulle die wêreld nuwe maniere gegee het om te droom, en hoewel sy dit nie glo nie, is die glorie vir haar vir altyd verby.
Die storie het ’n tragiese einde van drome aan skerwe, onbeantwoorde liefde en verspeelde kanse.
Met die aanbreek van die pouse het die uitroepe van “Awesome!” en “Wonderful!” uit die ry agter my my vermoede bevestig dat hierdie ’n wenner is.
Dis heerlike vermaak met goeie toneelspel en sterk stemme in Lloyd Webber se wenmusiek. Beslis die regte manier om die ou jaar uit te gaan.
Sunset Boulevard
Met: Angela Kilian, Jonathan Roxmouth, James Borthwick, Bethany Dickson, Kyle Grant, Mike Huff, Anton Luitingh en die ensemble van Bianca de Klerk, Mila Di Biaggi, Stephen Jubber, Bronwyn Reddy, Claire Taylor, Steven van Wyk, Candice von Litsenborg en Rhys Williams. Taryn Sudding (CATS, Noel & Gertie) speel die rol van Norma Desmond in al die Maandag vertonings.
Boek en lirieke deur: Don Black en Christopher Hampton
Musiek deur: Andrew Lloyd Webber
Regie: Paul Warwick Griffin
Kostuums: Penny Simpson
Choreografie: David Gouldie
Theatre on the Bay, Kampsbaai
28 Oktober 2013 tot 4 Januarie2014
Kaartjies deur Computicket of die teater kaartjiekantoor, (021) 438-3301.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

