Cupido se lang arm (en vingers!)

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

'n Mens sal dink as jy die naam Cupido het, jy jou besig sal hou met sake van die hart. Cupido is volgens die Griekse mitologie immers die god van die liefde. Maar die kêrel met die naam Cupido wat vroeg in die jare sewentig aan die hek by mnr Samsodien se huis in Kaapstad gehamer het, het geen planne gehad om liefdespyltjies af te skiet nie. Hy en drie van sy handlangers was van voorneme om mnr Samsodien se huis te beroof. Hy het só 'n onaardse lawaai opgeskop dat Samsodien uitgegaan het om te kyk wat aan die gang is. En daar staan Cupido en sy makkers toe en hulle beveel Samsodien om die hek oop te sluit. Samsodien het geweier, maar ongelukkig het hy 'n bietjie te naby aan die hek gestaan en het Cupido hom deur die hek se tralies aan die hand beetgekry en hom nader aan die hek gesleep. Cupido was heelwat sterker as Samsodien en uit vrees dat hy teen die tralies van sy eie hek vergruis sou word, het Samsodien die hek oopgesluit en Cupido en die res van sy bende ingelaat. Hulle het na hartelus die arme Samsodien se huis geplunder, waarna hul huppel-huppel met die buit onder die arms daar weg is.

Maar dit is nie net Cupido wat 'n lang arm gehad het nie. Die arm van die gereg was lánger en die bende is aangekeer. Hulle het voor die landdros van Kaapstad tereg gestaan op twee klagtes. Die eerste was huisbraak met die opset om te roof en die tweede klagte was die roof self. Hulle is skuldig bevind en is 'n welverdiende gevangenisstraf opgelê.

En toe appelleer hulle jou werklikwaar na die hooggeregshof in Kaapstad.1 Hulle het teësinnig saamgestem dat hulle tereg skuldig bevind is aan roof, maar het die regter gevra om weer te kyk na die ander aanklag, die een van huisbraak met die opset om te roof. Hulle slim advokaat het naamlik geargumenteer dat daar nie van huisbraak sprake kon wees in die lig daarvan dat mnr Samsodien die hek vir hulle oopgesluit het nie.

Regters Watermeyer en Burger wat die appèl aangehoor het, was egter baie skepties oor hulle advokaat se betoog. Die regters het beslis dat dit in ons reg nie nodig is dat 'n persoon wat 'n misdryf pleeg, altyd die persoon moet wees wat met sy eie hande die wandaad pleeg nie. Soms gebeur dit dat 'n misdaad gepleeg word deur 'n totaal onskuldige “agent” van die misdadiger – byvoorbeeld 'n dokter wat 'n spuitnaald vol gif trek en dan vir 'n verpleegster opdrag gee om die pasiënt daarmee in te spuit. Sy doen dit in die goeie geloof dat dit medisyne is wat sy inspuit, maar haar daad veroorsaak nogtans die dood van die pasiënt. Dieselfde beginsel geld wanneer 'n man 'n baie jong kind in 'n winkel instuur om iets vir hom te steel. Die regters het daarop gewys dat selfs 'n onskuldige en redelose dier, soos 'n hond, deur iemand gebruik kan word om 'n misdaad te pleeg. In ál hierdie gevalle geld die Latynse spreuk Qui facit per alium facit per se – letterlik: "Iemand wat 'n iets deur 'n ander persoon doen, doen dit inderwaarheid sélf."

Die regters het daarna die misdryf huisbraak bespreek. As 'n dief by 'n huis wil inbreek en hy dwing iemand anders om die venster te breek sodat hy kan binnegaan, is die dief self aan huisbraak skuldig. Dit maak in beginsel geen verskil of die persoon wat gedwing word om die huis vir die dief oop te breek, die eienaar self is nie. In só 'n geval gebruik die dief die eienaar as't ware as ‘n “instrument” om die inbreekwerk te doen.

Die regters was dus tevrede dat die landdros geen fout gemaak het toe hy Cupido en sy mededaders ook aan huisbraak met die opset om te roof skuldig bevind het nie. Hul voorland was 'n paar jaar in Roelandstraat – dié keer aan die verkeerde kant van die tralies.

Ek kan my voorstel dat die bewaarders altyd op 'n veilige afstand van Cupido se sel verbygeloop het – net ingeval hy dalk weer een van sy gryptruuks sou uithaal ...

1     Vgl S v Cupido and Others  1975(1) SA 537 (CPD)

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top