9 Januarie 1974: Drama met dagga

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Op 9 Januarie 1974 het die polisie in ’n woonstel in Durban ’n rooi blompot ontdek waarin drie gesonde daggaplantjies aan’t groei was. Die bewoner – ene Van Zyl – was op daardie stadium met vakansie en toe hy ’n paar dae later heerlik uitgerus terugkeer, is hy deur die spreekwoordelike lang arm van die gereg aangekeer.

Ons jong vriend is aangekla dat hy in dagga handel sou gedryf het. Die woordomskrywingsartikel van die wet waaronder hy aangekla is, bepaal onder meer dat "handel dryf" in ’n verbode plant soos dagga die verbouing of kweek daarvan insluit. Handel dryf in dagga is steeds vandag ’n besonder ernstige misdryf. Destyds was dit strafbaar met ’n minimum van vyf jaar gevangenisstraf.

Op advies van sy prokureur het die beskuldigde onskuldig gepleit op die hoofklag – naamlik dat hy handel gedryf het in dagga – maar skuldig op die alternatiewe klagte, dat hy in besit van dagga betrap is. Die minimum straf destyds vir besit was twee jaar gevangenisstraf.

Die landdros was egter tevrede dat die beskuldigde wel skuldig was aan die hoofklagte van handeldryf, en hy is tot die verpligte minimum gevangenisstraf van vyf jaar gevonnis. Hierteen het hy geappelleer.

Regter-president James van die hooggeregshof in Pietermaritzburg het in sy uitspraak1 gewys op die jongman se verduideliking voor die landdros dat hy teenwoordig was toe ’n vriend besig was om vir hom ’n rookdingetjie van dagga voor te berei. Die vriend het drie daggasaadjies in die rooi blompot weggesteek en aangesien die beskuldigde nog nooit ’n daggaplant gesien het nie, het hy besluit om die saadjies nat te gooi en te kyk wat gebeur. Volgens sy onbetwiste getuienis het hy die plantjies net een maal natgegooi. Dit was egter voldoende om drie daggaplantjies te laat ontkiem. Die beskuldigde is daarna met vakansie sonder om verder aan sy natuurstudieprojek te dink – totdat die polisie die rooi blompot met die drie plantjies in sy woonstel ontdek het.

Regter James het die begrip verbouing, of kweek, ontleed en met die hulp van ’n paar woordeboeke beslis dat mnr Van Zyl hom wel aan die verbouing van dagga skuldig gemaak het toe hy die enkele keer die saadjies natgegooi het. Die regter was egter van mening dat die gewraakte handeling so onbenullig was dat die reël de minimis non curat lex van toepassing was. Sodoende het Van Zyl sy tronkstraf vrygespring.

Die de minimis-reël kom daarop neer dat ’n mens nie vir ’n onbenullige oortreding gestraf behoort te word nie. Dit beteken nie dat die daad goedgepraat word nie; dit bly steeds onregmatig, maar omdat dit so onbenullig is, word die dader nie daarvoor gestraf nie.2

Wát onbenullig is, sal afhang van die omstandighede van elke geval, en hier dink ’n mens veral aan een van die groot euwels van ons tyd, winkeldiefstal. Dit lyk asof ons howe dié soort diefstal met erns bejeën, al is die item wat gesteel is, min werd. ’n Paar jaar gelede het ’n Kaapse streeklanddros ’n man tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis weens die diefstal van ’n kleinerige stukkie kaas uit ’n winkel. Bygesê, die beskuldigde het ’n kriminele rekord gehad wat vir niks geskrik het nie. Op appèl is sy vonnis egter tot iets soos nege maande gevangenisstraf versag – steeds maar ’n lang tyd agter tralies vir ’n stukkie kaas!


1 S v Van Zyl 1975(2) SA 489(NPA)

2 Vgl in die algemeen JMT Labuschagne se artikel "De minimis non curat lex" in 1973 Acta juridica, 291 ev.

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top