7 Dae by die Griessels

  • 0


Titel: 7 Dae
Skrywer: Deon Meyer
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798156219
Prys: R162.95

Klik hier om 7 Dae te koop by Kalahari.com.

Waarskuwing: Bespreking mag moontlik die einde weggee.

Tank en Trog sit in ’n woonstel in die stadskom. Die reis-skaakstel staan ongebruik op die tafel. Iewers kreun ’n asbak. Die nuwe Deon Meyer-roman 7 Dae het onlangs onder hul albei se oë deurgeskuifel. Hulle besluit om ’n kort opsomming van die storielyn aan mekaar te bied, as inleiding tot hierdie allerbelangrike gesprek. Dit begin by Hanneke Sloet, wie se moord die spilpunt van die spanning is. Goeie ou Bennie Griessel moet die saak oplos en die polisiebeamptes wat deur ’n misterieuse man geskiet word, beskerm.

Trog: Lang storie kort, sy is ’n prokureur wat werk in die Kaap. Terselfdertyd is daar ’n groot BEE-deal, met mynmaatskappye wat mekaar oor en weer koop. Wat gebeur is, een van die groot BEE-dealmakers is Henry van Eeden. Henry van Eeden is die baas van hierdie oorname en hy gaan baie geld maak uit die ding uit. Hy’s die dealmaker. Van hierdie aandeelhouers in hierdie twee myne, een van hulle, is die Rus. Kotko. Daai dude.

Tank: Hmm.

Trog: Hy’s een van die aandeelhouers. Hy raak verlief op Hanneke Sloet, oukei. Hy betrek haar en betrek die firma waarvoor sy werk om die oordragkostes en goeters te doen. So daar’s ’n klomp rolspelers en wat gebeur is, Kotko raak verlief op haar, maar hy’t nie eintlik iets met haar te doen nie. Maar hy’s welbekend daarvoor dat hy mense in sy KGB-dae met ’n bajonet …

Tank: Ja, ja, ja. Met ’n bajonet in hulle holle op.

Trog: Ja. In die mediese professie praat ons van “hol” … In elk geval, so dis basies wat gebeur. En Henry van Eeden het ’n verhouding begin met haar tydens hierdie oorname.

Tank: En waarom het hierdie laaitie (die een wat polisiebeamptes een vir een skiet) Hanneke Sloet se moord so gewreek?

Trog: Want  … dis wat ek dink: dit sinspeel op die groot moord van … wie’s daai meisie in Stellenbosch wat vermoor is?

Tank: Inge Lotz? Hy het al verwys na die Lotz-saak in ’n vorige boek.

Trog: Ja, maar hy’t hierdie verdraai met ’n saak op Stellenbosch.

Tank: Nee man, hy praat van die girl op Franschhoek wat vermoor is deur haar man.

Trog: O, dink jy so?

Tank: Na bewering.

Trog: O ja, want sy was ook ’n sjef en … was hy ’n ouditeur?

Tank: Ek kan nie onthou nie, maar hulle het op Franschhoek gewoon.

Trog: Oukei, maar hy’s ’n KPMG-ouditeur gewees, ek het gedink dit verwys na … nee man, dit het verwys na die Lotz-saak.

Tank: Dink jy so?

Trog: Ja man, hulle het gesê van jare van sy lewe wat verwoes is en so. Want hy’s verkeerdelik aangekla vir moord. Hulle het gesê hy het haar doodgemaak.

Tank: Maar watter kontak het hy met haar gehad?

Trog: Dit was soos sy meisie of iets.

Tank: Nee man!

Trog: Ja!

Tank: Praat jy nou van die boek of die regte lewe?

Trog: Ons praat van die boek! Die ou wat op die ou end die polisiemanne geskiet het, hy en die meisie het uitgegaan.

Tank: O, het hulle?

Trog: Dis die ding. Hulle het hom verkwalik vir die feit dat hy haar …

Tank: Nee man, dis die wynvatmaker.

Trog: Nee, man. Die outjie … hulle verwys mos na die Steyn-saak.

Tank: Ja.

Trog: Hy is die Steyn-saak.

Tank: O!

Trog: Ja!

Tank: O ja, dis waar, hy het wraak gepleeg oor die stelsel. Op ’n baie crazy manier.

Trog: Wat hy verkeerd gedoen het, was hy’t gedink … daai “Fanie gefok” … hulle verwys na die Lotz-saak, die ouens wat opgefok het in die Lotz-saak is opgeneem in die Valke, as computer techs. Ek dink hulle verwys daarna. Fanie Gefok het basies sy lewe verwoes. Almal sê hy’s nie skuldig nie, maar almal dink hy is skuldig, daai soort ding.

Tank: Ja, en al job wat hy kon kry, was as die rekenkundige se assistent.

Trog: Ja.

Tank: Ja.

Trog: En daai deadbeat rekenkundige het gewerk vir Kotko.

Tank: Hy’t homself geskiet.

Trog: Hy het, ja.

Tank: Daar by die Caledon … casino.

Trog: So dis ’n ingewikkelde ding … die boek kon eintlik gewees het Sewe Dae by die Griessels. Daar’s ’n paar lakse verwysings.

Tank: Ja, soos, Henry van Eeden is een van die belangrike karakters, maar kom ons gee nou nie die einde weg nie … Wag, om te sê “Henry van Eeden is een van die belangrike karakters, maar kom ons gee nou nie die einde weg nie” is om die einde weg te gee.

Trog: Ons het nie die einde weggegee nie.

Tank: Ons het bloot geskimp in die rigting van die oplossing.

Trog: Kom ons noem net … die einde het te doen met moord.

Tank: Met moord. Die moord op Hanneke Sloet … Maar wat het jy gedink van die einde, in breë trekke?

Trog: Breë trekke van die boek op die ou einde … ek dink op die einde … en ek verkwalik myself daarvoor dat ek so dink … ek het ’n idee van so ’n 18th-century whodunnit cat-and-mouse-tipe … verlate eiland …

Tank: Ja …

Trog: Iemand word vermoor. Is dit die sjef of is dit die polisieman, of is dit op die ou end die suster wat kom kuier het uit Bath, of die Isle of Wight …?

Tank: Dis altyd die butler.

Trog: Dis die probleem. Maar ek kry die idee van … “Guys, you’ve caught me out, it is me”, sonder enige emosie, het iemand op die ou end in die boek skuld beken.

Tank: Ja, maar dis baie out of left field. Dit maak glad nie vir my sin nie. Hoekom sou Hanneke vir Henry se vrou die deur oopgemaak het?

Trog: Want daar’s mos daai sms’e. Sy’t mos op haar man se rekenaar afgekom.

Tank: Ja, so sy’t die sms’e gestuur, maar het Hanneke toe nou net vir haar die deur oopgemaak …

Trog: Maar hy’t mos gesê sy moet geblinddoek wees, dis mos die hele ding.

Tank: O ja, oukei.

Trog: So hy’t vir haar gesê “Ek gaan jou naai”, toe sê sy “Ek wag vir jou sonder ’n broekie.”

Tank: En geblinddoek.

Trog: En geblinddoek.

Tank: Ek wonder of sy gesê het: [in diep stem] Hallo, hallo, ek is Henry.

Trog: [In hoë stem] Hallo, hallo, ek is Henry.

Tank: [In hoër stem] Ek is Henry, ek is Henry.

Trog: So die einde was vir my … laat ek net bysê, ek is aangenaam verras. Ek het dit nie sien kom nie. Nie eers, soos, Gandalf sou die einde kon voorspel nie.

Tank: You shall not pass!

Trog: You shall not pass! I did not know the ending of this book even before I started … in ’n kwasi-Ierse aksent.

Tank: Baaah!

Trog: Baaah!

Tank: Wat my gepla het van die einde is … ek hou van ’n speurroman waar die leser ’n kans staan om dit uit te figure. Jy weet, want dis wat ek die hele tyd gedoen het in die boek. Ek het daai ex-boyfriend-wynvatmaker gedink … “Hmm, wat sê hy hier wat hom dalk kan verklap?”, jy weet. Maar hierdie einde … daar is geen manier waarop jy kon dink dit is dalk die antie wat tuinmaak in Henry se tuin nie.

Trog: Ja.

Tank: Daar’s geen manier nie.

Trog: Ek verstaan. Dis amper, hy probeer jou uitvang.

Tank: Ja, maar nie uitvang nie. Ek hou van verrassing en uitvang en so, en so half “A! Ek moes daaraan gedink het”-tipe uitvang, maar nie die uitvang van …

Trog: Daar was geen clues in die boek nie.

Tank: Geen clues die hele boek deur nie.

Trog: Ek het die idee gekry, anders as sy ander romans … hy’t ’n moerse spinnekopweb teen die muur geteken, en op elke lyntjie ’n naam geteken en lyne getrek en toe dit moerse ingewikkeld gemaak in ’n storie.

Tank: Dit was ’n ingewikkelde boek in terme van die transaksies en so. Ek moet bieg, ek het die meeste van daardie fynere detail amper geïgnoreer.

Trog: Wel, in my jare toe ek transaksiereg gedoen het … dit het my gehelp, natuurlik. My regsgraad met los musiekvakke. Met musiek as hoofvak.

Tank: Dit is ’n baie gespesialiseerde gebied daardie. ’n Mens kan nie aansoek doen daarvoor nie. Hulle bel jou.

Trog: En my meestersgraad in tuinboukunde wat daarop gevolg het, het my die einde laat sien. Van Eeden se vrou, wat met haar snoeiskêr uit die tuin gespring het.

Tank: Wat Bennie bespring het.

Trog: Wat Bennie bespring het, uit die tuin, met haar snoeiskêr. Moordenaars spring gereeld met snoeiskêre agter bossies uit en sing arias in Italiaans wat ’n mens nie verstaan nie. Eintlik sing hulle: “Ek is die moordenaar!”

Tank: [in sopraan-stem] Ek is die moordenaar!

Trog: [In basstem] Ek is die moordenaaaaar! Waar is jooooou broekie.

Tank: So, Bennie was my held ná Dertien Uur. Maar Bennie het gesukkel in hierdie een.

Trog: Ek het nie Dertien Uur gelees nie.

Tank: Het jy nie?!

Trog: Nee.

Tank: Woah … ek dink [dame-naam] het op die oomblik myne.

Trog: Nee, ek is meer ’n Mat Joubert-man. Ná Spoor.

Tank: Ek het nie gehou van Spoor nie. Tamatiebroodjies. Met feta en koes-koes.

Trog: Ja, daar was te veel broodjie-gedeeltes. Miskien het hy dit geskryf ná ’n lekker Sondagmiddagete. Write what you know. Write what you eat.

Tank: Ja, hy het ’n kookboek geskryf.

Trog: A! Sy idee het gekom toe hy oor koes-koes-broodjies geskryf het in Spoor.

Tank: Hmm.

Trog: Maar kan ek iets sê oor die karakters wat rondom Griessel beweeg, wat kwansuis die boek interessanter moet maak. Ek het gevoel sy dogter … en sy seun wat ’n tatoe wil kry ... is soos … hy wou dit nie ontwikkel nie. Dit het vir my gevoel dit affekteer hom nie. Of dalk is dit net sewe dae van … ek weet nie, dat dit nie hoef te ontwikkel nie. Ek het die gevoel gekry hy sit en dink daaroor, en dis nie ’n goeie teken nie.

Tank: Ek dink dis cool, op ’n manier. Dit gee geloofwaardigheid aan sy karakter, as ’n vader en so. Ek dink die punt is om te wys: Hy’t hierdie moerse ding om oor te worry, maar hy’t soveel ander dinge in sy lewe ook, wat sy denkpatrone onderbreek. Dit is seker die belangrike element daarvan. Dat hy nie kan fokus nie, op soveel maniere. En hy verkwalik homself ook daarvoor.

Trog: Ja, hy sê die heeltyd hy’s ’n fokken dom polisieman.

Tank: Baie keer.

Trog: Baie keer. Miskien glo hy dit nou al.

Tank: Ek dink so, want hy’t op die ou end selfs gesê dis Vaughn wat die ding gecrack het, nie hy nie. Ek het gehou van Vaughn.

Trog: Ek dink … dis ’n bietjie soos Feniks.

Tank: Ek het nooit Feniks gelees nie.

Trog: Feniks het ook ’n ding van ’n vroue-sielkundige, en op die ou end nooi Feniks haar uit vir ’n opera en dan sê Alexa …

Tank: Alexa Strachen?

Trog: Nee, nee, nee, dis Mia Strachen.

Tank: Wat is die Alexa in die boek se van nou weer?

Trog: Barnard. Die sanger, nè?

Tank: Alexa Barnard.

Trog: Is dit Alexa?

Tank: Xandra Barnard!

Trog: Xandra Barnard!

Tank: Maar haar regte naam is …

Trog: … Alexandra Barnard.

Tank: Alexa.

Trog: Alex-andra!

Tank: Fok.

Trog: Hoe dit ook al sy, op die ou end raak hulle ook verlief, of so iets, daar’s ’n toneel waar hulle nou saam is. Hmm. Uhm, ja. En ook, alles begin met ’n krisis.

Tank: Natuurlik, soos dit moet.

Trog: Alles moet begin met ’n krisis.

Tank: Sodat hulle die krisis kan ontlont. Ag, ontrafel.

Trog: So ja, dit .. 7 Dae ... was vir my ’n page-turner. Ek was intrigued.

Tank: Ja-nee, ek het heerlik gelees daaraan.

Trog: As ’n boek my tot die einde kan boei, is dit ’n suksesvolle boek.

Tank: Ja, natuurlik.

Trog: Die struktuur is honderd persent.

Tank: En Deon skryf fokken goed.

Trog: Hy doen. Ek dink dit is algemeen genoeg en naby … dit het my so geïnteresseer dat ek selfs vandag op die hoek van Vriende en Buitenkant gaan kyk of daar regtig ’n Nelson’s Court of so iets is. Daar waar hy die ou se pinkie afgeskiet het.

Tank: O ja. Is daar?

Trog: Ek dink nie so nie. Ek het dit gemis. Sy pinkie lê ook nie daar nie.

Tank: A.

Trog: Hmm.

Tank: Kan ’n mens die boek aanbeveel?

Trog: Ek dink ’n mens kan die boek aanbeveel.

Tank: Maar hierdie resensie is nie gemik op mense wat nog nie die boek gelees het nie.

Trog: Eerder op mense wat dit klaar gelees het.

Tank: Ja, want ons het nou al pretty much alles weggegee.

Trog: Ek sal dit aanbeveel. Ek dink nie dis ’n boek wat onthou sal word as ’n literêre wonderwerk nie. Dis nie ’n “mooi”  boek nie. Dit het ’n effektiewe plot wat mooi ontvou.

Tank: Maar moet ’n boek quote unquote mooi wees om te slaag?

Trog: Glad nie. Literêre wonderwerke verkoop nie altyd nie.

Tank: Dit klink nou gemeen.

Trog: Ek’s jammer. Oukei, nog ’n ding … Wat dink jy van die skramse verwysings na Sewe dae by die Silbersteins?

Tank: Dit het my aanvanklik … was dit ’n gevoel van “A!”, maar later het dit ’n bietjie te veel geraak.

Trog: Ek dink dit was so half onnodig. Ek dink hy’t besluit 7 Dae is die boek en toe besef hy “O, fok, dis dalk gevaarlik om te verwys na een van die bekendste boeke in die Afrikaanse literatuur.” En die Salamo-skieter … het dit iets te doen met Salomé wat die heeltyd ontwyk?

Tank: Ek weet nie of dit noodwendig iets te doen het met Salomé nie. Ek het so half gekyk of daar in hierdie intertekstuele verwysings enige karakterooreenstemming met Henry van Eeden in 7 Dae en Sewe dae by die Silbersteins is, maar ek kon nie regtig enigiets kry nie. Dalk is dit my fout.

Trog: Ek het ook baie daaroor gedink, maar dis amper soos … om te analiseer wat daar nie eintlik is nie. As dit daar is, is dit baie skrams. Ek wonder hoekom sou hy die law firm Silbersteins en … noem. Is dit ’n eerbetoning?

Tank: Seker maar.

Trog: Ja. Nie dat dit my pla nie.

Tank: Maar ek love Bennie Griessel.

Trog: Bennal Griessie …

Tank: Bennal Griessie!

Trog: Bennal Griessie, knoop my tong nou daar. Klink soos ’n Griekse Bennal Griessie. ’n Griekse danser.

Tank: ’n Eksotiese Griekse danser.

Trog: Hier uit die vyftigerjare.

Tank: Maar sy’s bietjie oorgewig en het ’n groot moesie op haar neus.

Trog: Sy was pragtig.

Tank: Sy was pragtig.

Trog: Sy moes kies tussen tradisionele Griekse danse en balletkuns. Toe kies sy om in haar tuisland agter te bly.

Tank: En bloot vir matrose te dans.

Trog: Wat Zorro drink. Of wat’s daai goed?

Tank: Zorba.

Trog: Zorba!

Tank: Zorro. Jirre.

Trog: Hmmm.

Tank: So, afsluitingsopmerkings?

Trog: Ek het nie een deel in die plot van die boek gelees wat ek gedink het: “Come oooooon” nie. Dit was baie geloofwaardig en ek dink dis ’n spesiale talent. Ek dink hy’t die vermoë om enigiemand te boei, en dit is volgens my ’n boek wat die moeite werd is om te lees.

Tank: Ek kon dit ook nie neersit nie.

Trog: Ek ook nie. Ek kon, maar ek wou nie.

Tank: Hmmm.

Trog: Wat is jou finale opmerking?

Tank: My finale opmerking is … dis nie die beste of die lekkerste wat ek al van hom gelees het nie, maar die karakters is geloofwaardig en so aan … weer eens, ek dink wat my die meeste gepla het, is dat die einde so uit left field gekom het. Wat gewoonlik ’n goeie ding is, maar daar’s net geen manier waarop jy dit kon voorspel nie.

Trog: En die bekentenis het my so ’n bietjie gegooi.

Tank: Ja. Maar verder het ek heerlik gelees daaraan.

Trog: Ek ook. Ek het selfs gisteraand my lank-na-uitgesiende slapie uitgestel tot twee-uur toe. En daarna het ek gedrink aan klein jagermeistertjies wat [dame-naam] in haar handsak gehad het. Toe het ek lekker geslaap.

Tank:  Hmm … koebaai.

Trog: Koebaai.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top