50 Prutpotgeregte: ’n resensie

  • 1

50 Prutpotgeregte
Uitgewer: LAPA

ISBN: 9780799382884

Inleiding

Is daar nog ’n huis sonder ’n prutpot (in Engels bekend as ’n crockpot of slowcooker)? Nee, dit verwys nie na iemand wat baie lank neem om besluite te neem of smeulend aantreklik is nie, maar na ’n stuk kooktoerusting wat veral in die moderne, besige leefstyl beslis meer aandag kan geniet. Met 50 Prutpotgeregte van LAPA Uitgewers word ’n uiteenlopende verskeidenheid geregte saamgestel juis om die veelsydigheid van hierdie onderskatte kooktoerusting ten toon te stel. Of jy nou vir ’n gesin geregte maak of besig is om jou eie potjie te krap, kan hierdie resepteboek ingespan word om ’n wye verskeidenheid heilsame etes met minimale inspanning voor te berei.

Oorsig oor die werking van ’n prutpot

Voor die boek en die resepte daarin oorweeg word, is dit belangrik om te weet dat elke kombuistoestel unieke sterkpunte en maniere om voedsel voor te berei het, na gelang van die ontwerp en werking daarvan. Alhoewel die skrywers van die boek nie ’n oorsig gee oor die basiese werking van die prutpot nie, mag dit tog van waarde wees vir die leser om dit te hersien.

Ons vra eers die vrae: Wat is ’n prutpot, hoe werk dit en hoe vergelyk dit met die ander toestelle in die kombuis? Die prutpot bestaan uit drie dele, tipies ’n ovaalvormige keramiekbak met ’n glasdeksel en ’n houer waarin die prutpot rus. Die houer het ’n verhittingselement wat die keramiekpot geleidelik verhit tot die kos prut, maar nie kook nie, van waar die prutpot se naam vandaan kom. Om die temperatuur te reguleer is baie maklik met ’n prutpot, wat normaalweg uit ’n “laag”- en ’n “hoog”-pruttemperatuurverstelling bestaan. Die gaarmaaktyd wat tipies in resepte aangedui word, berus op die veronderstelling dat die pot op die lae verstelling gebruik word, tensy anders vermeld. Kos brand nie maklik aan nie, tensy die pot sou droogkook, maar indien die deksel op die pot gehou word, is dit nie baie waarskynlik dat dit sal gebeur nie.

Eerste indrukke van die resepteboek

’n Baie treffende aanvulling tot die inhoudsopgawe is die teenoorstaande fotoblad, wat bestaan uit foto’s van ’n paar voltooide geregte en bladsynommers op elke foto wat die naslaan daarvan vergemaklik. Iets wat opvallend is van die inhoudsopgawe is dat die resepte nie gekategoriseer word nie, maar slegs gelys word. ’n Vinnige oorsig van die resepte toon egter dat daar sewe breë kategorieë is waarin die meeste resepte verdeel kan woord, naamlik:

  • Sop
  • Brood
  • Pasta
  • Groente
  • Vleis (bestaande uit vark, hoender en skaap, in geen spesifieke volgorde nie)
  • Bredies
  • Nageregte.

Met eerste bestudering daarvan is dit duidelik dat daar meer as net mooi broodjies gebak kan word. ’n Wye verskeidenheid resepte is ingesluit, baie meer as net ’n lys bredies en vleisafkook-geregte waarvoor ’n prutpot tipies gebruik word. Die hoofbestanddeel wat die meeste voorkom, is hoender, waarvan ’n verskeidenheid sakpas etes gemaak kan word (hoender kan deesdae as ’n sakpas bron van proteïen gesien word, omdat dit as een van die bykomende BTW-vrygestelde items oorweeg word). Daar is ook meer luukse vleissnitte ingesluit, soos die steak-en-sampioenpasta op bl 15 en die lamsboud op bl 45. ’n Unieke insluiting is die nageregte, iets waarvoor die prutpot nie algemeen ingespan word nie en wat beslis die soettande tevrede sal stel. Uit ’n vinnige oorsig is dit duidelik dat daar ’n goeie variasie is om van te kies en keur wat ’n menigte palette tevrede sal stel.

Bestudering tot op die been

By elke resep het lesers vier brokkies inligting tot hul beskikking om ’n gereg uit hierdie boek voor te berei, naamlik:

  • Bestanddele
  • Voorbereidingstappe
  • Porsies wat gelewer word
  • Tyd.

Iets wat moontlik as vanselfsprekend aanvaar word, is die volgorde waarin die bestanddele van die resepte gelys word, naamlik in die volgorde waarin dit in die gereg gebruik of voorberei word. In hierdie resepteboek wyk die skrywers nie van die norm af nie en bestanddele word maklik gepas by die ooreenkomstige stappe wat gevolg word. Die stappe is duidelik en ondubbelsinnig uiteengesit en kan maklik deur ’n groentjie óf ’n gesoute kok gebruik word. Resepte vra eenvoudige, bekombare bestanddele wat tipies reeds in die deursnitkombuis voorkom of wat maklik van ’n supermark aangekoop kan word.

Met die meeste van die geregte is dit slegs nodig om alles in die prutpot bymekaar te voeg en dadelik die gaarmaakproses aan die gang te sit. Daar is wel ’n paar disse, soos die murgpampoentjiesop op bl 7 en die geurige biefkerrie op bl 53, wat vereis dat sekere bestanddele vooraf in ’n pan bruingebraai of gesoteer moet word. Op bl 19 is daar egter ’n wenk aan die einde van die resep wat noem dat groente en vleis nie noodwendig vooraf verbruin of gesoteer hoef te word nie, maar dat dit wel die algemene afronding van die ete sal bevorder. Dit is die enigste resep waar dit genoem is en indien dit ’n wenk is wat deur die bank toegepas mag wees op die ander resepte, sou dit meer gepas wees indien die wenk aan die begin van die boek genoem word. Dit is nodig om te weet dat die finale afronding van sekere disse steeds die gebruik van ’n oond benodig (soos die varkribbetjies op bl 33 en die lamsboud op bl 45). Die ekstra tyd wat daarvoor benodig word, is egter nie so lank dat dit dinge sal ontwrig nie – dit moet wel net in ag geneem word bo en behalwe die voorbereidingstyd.

Die meeste van die disse lewer 6-8 porsies, ’n baie gepaste hoeveelheid vir die doeleindes van die boek.

Iets wat wel meer aandag kon geniet het, is die voorbereidingstyd wat by elke gereg genoem word. Dit is nie met die aanvanklike bestudering altyd duidelik hoeveel van die tyd gewy word aan voorbereiding of gaarmaak nie, aangesien daar ook gewoonlik ’n tyd genoem word in die stappe van die resepte wat soms effe verskil van die genoemde tyd by die begin van ’n resep. Daar moet egter begrip wees dat die metode waarmee ’n prutpot werk, tye baie meer laat varieer as ’n oond en dat speling in die gaarwordtyd dus ingesluit word, wat wel goed gedoen is. Indien daar onderskeid getref word tussen die voorbereidingstyd en die geskatte tyd wat benodig word om die gereg gaar te maak, sou dit help om hierdie dubbelsinnigheid uit die weg te ruim.

Ongelukkig het die drukkersduiwel ook ’n vinger in die pot gehad en op bl 47 toegeslaan. By die brood in die prutpot wat op bl 9 genoem word, stem die gaarwordtyd van twee uur nie ooreen met die 6–8 uur wat genoem word om die gereg voor te berei nie, en sekerlik sou die voorbereiding van brooddeeg nie die res van die tyd in beslag kon neem nie. Dit help egter nie daar word klippe gegooi na glashuise nie, maar dit keer nie die leser om die plante daarin raak te sien nie.

Is die kool die sous werd?

Vir R160 sal die leser baie goeie waarde vir geld kry, met ’n breë oorsig oor verskeie resepte wat die daaglikse taak van voedselvoorbereiding sal vergemaklik sonder om te sny aan gehalte en genot wat met die voorbereiding gepaardgaan. Dit dien as ’n bron van inspirasie vir die dae waar daar min energie oor is om nog besluite te neem oor kos, en vir die nesverlaters kan dit boonop help om die oorgang van huiskos na self jou eie potjie te krap heel pruttig te maak. Lang ure agter die stoof word uitgeskakel sodat mens steeds by ander aktiwiteite kan uitkom wat vir die leser belangrik is terwyl daar heerlike geregte stadig maar seker gaargeprut word.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top