5 Boeiende romans palm die 2010 M-Net Literêre Toekennings in

  • 0

Die M-Net Letterkunde Toekennings bring reeds vir byna twee dekades hulde aan die trefkrag van die Suid-Afrikaanse roman deur die bevordering van tuisgeskepte letterkunde in inheemse tale. Die Letterkunde Toekennings salueer plaaslike letterkunde vir die unieke vermoë om dit waarvoor M-Net staan, tot lewe te roep: towerkuns. Vyf van die land se beste romans van 2009 is pas op 31 Julie vereer by die M-Net Letterkunde Toekennings-seremonie in Kaapstad se Table Bay Hotel.

Karin Brynard se Plaasmoord het die M-Net Letterkunde Toekennings se Filmkategorie-prys gewen vir die roman wat die meeste potensiaal vertoon het om in ’n draaiboek verwerk te word. Die beoordelaars het gevoel dat Brynard gesorg het vir vernuwing in die spanningsverhaal genre deur onder andere die vermenging van geskiedenis en veral buitengewone insig in die problematiek van die huidige samelewing, om ’n skitterende roman te skryf.

Plaasmoord  speel af teen die agtergrond van ’n dorpie op die buitewyke van die Groot Kalahari. Op een vlak ontvou ’n ysingwekkende verhaal, gesentreer om ’n grusame dubbelmoord. Op ‘n ander vlak  bied die skrywer ’n unieke insig in ’n plattelandse samelewing vasgevang in die greep van verandering. Wanneer die moordenaar ontmasker word deur die veranderinge wat deur die dorp trek, word alles aan die lig gebring, ook die hebsug en magsug onder die oppervlak.

Jan du Plessis, Direkteur: Inhoudstrategie by M-Net, het gevoel dat Plaasmoord oor skitterende tekstuur beskik wat goed op die silwerdoek oorgedra kan word. “Ons is geseën met ’n paar groot boeke vanjaar, baie waarvan goed sou gewerk het as draaiboeke,” het hy gesê. “Plaasmoord het uitgestaan in die kategorie as gevolg van die ryk geskakeerde karakters en die manier waarop die skrywer nuwe lewe aan die spanningsverhaal genre gebring het.”

Die wenner van die Engels-kategorie was Sally-Ann Murray se Small Moving Parts, wat erkenning van die beoordelaars gekry het vir die welige taaltekstuur en fyn waargeneemde vertelling. Die beoordelaars het van Small Moving Parts gesê: “Selde het ‘n Suid-Afrikaanse skrywer in Engels die vorm van die Bildungsroman met soveel liriese skoonheid en kompleksiteit gelewer, met ’n kombinasie van die verbeelde en die werklike, op maniere wat uniek en uitsonderlik is. Dit mag gedetailleer wees, maar as die duiwel in die besonderhede te vind is, huisves die detail sekerlik ook vrymaking. Daar is so baie voorbeelde van klein dinge wat onthou word, dinge wat algemeen is aan die kern van Suid-Afrikaners wees – alle deeltjies vorm ’n wonderbaarlike geheel. Die grein van die samelewing en die grein van ’n gemoed, die lewe in Suid-Afrika en die lewe self.

 Die Afrikaans-kategorie het ‘n aantal sterk kandidate gehad, met Eben Venter se roman Santa Gamka wat uiteindelik geseëvier het. Die beoordelaars het gevoel dat Santa Gamka oor al die waarmerke van ‘n verdienstelike wenner van die M-Net Letterkunde Toekennings beskik, veral danksy die vernuwende taalgebruik, in dieselfde gees as die vorige wenners Marlene van Niekerk (Agaat) en Etienne van Heerden (30 Nagte in Amsterdam).

Met ’n aanslag wat lig bly ten spyte van die dikwels desperate omstandighede van die inwoners van die dorp Bethesda, word die leser geneem op ’n lyfreis deur ’n aantreklike 21 jaar oue huurknaap wat in die hart van die Karoo grootgeword het. Hier het die impak van die “nuwe” Suid-Afrika nog nie neerslag gevind nie, afgesien van kosmetiese veranderings. Sy tuisdorp bly ’n plek van kontraste. Dit is ’n plek waar jy jouself maklik in ’n pottebakkersoond kan bevind met slegs sewe minute om te lewe, as jy nie versigtig is nie. Santa Gamka is ’n ryk getuienis van ’n ewe ryk verbeelding.
 
Die 2010 M-Net Letterkunde Toekennings  het ook erkenning gegee aan wenners in twee van die Afrika-taal-kategorieë – Sotho en Nguni. Debutant romanskrywer Mokhale Machitela het die Sotho-prys gewen vir sy roman Ga di mphelele! (Dit kry net nie end nie!), in Sepedi geskryf. Die beoordelaars het Machitela geprys vir sy verhaal van moord en gekortwiekte passie wat hulle vasgevang gehou het: “Die skrywer raak relevante sake soos ontrouheid en die impak van kulturele oortuigings in die moderne samelewing aan. Die taal is ryk en kragtig, deurweef met idiomatiese uitdrukkings en humor om die deprimerende impak van die werklikheid te versag.”

 Die wenner in die Nguni-kategorie is ’n politieke allegorie oor die verrysing van ons reënboognasie, in isiXhosa geskryf. Die prys is toegeken aan professor Peter Mtuze vir sy roman Iingada zibuyile endle (Die wilde katte kom huis toe). Die beoordelaars het die grensverskuiwende roman geloof vir die nuwe tendens wat dit in die Afrika-taal literêre tradisie inlei. Iingada zibuyile endle voorsien ’n akute weerspieëling wat dui op sake van leserskap, tematiese ontdekkings, estetiek en ’n reeks kwessies wat Afrika-taal skryfwerk in Suid-Afrika koppel met Afrika-skryfpraktyke in die res van die kontinent en in die Afrika-diaspora. “Die roman is geskryf met sensitiwiteit en patos, met verskillende dierekarakters wat bekendgestel word om ’n allesinsluitende scenario uit te beeld. Die skrywer, wat allegorie, humor en satire vaardig verweef, slaag daarin om te wys hoe die onderskeie faksies  mekaar kaalvuis beetpak in ’n Suid-Afrikaanse politieke landskap met al sy onvoorspelbaarheid.”

Volgens Hettie Scholtz, sameroeper van die M-Net Letterkunde Toekennings, het die beoordelaars baie hoop vir Suid-Afrikaanse letterkunde as hierdie jaar se inskrywings as maatstaf gebruik kan word. “Suid-Afrikaanse skrywers verras ons lesers toenemend met ’n verfrissende aanbod van romans wat hulle plek verdien op enige boekrak. Dis g’n wonder dat so baie van hulle toenemend hul weg vind na ’n groter gehoor deur vertaling en film nie.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top