Titel: Hans hou sy lyf Sherlock
Skrywer: Rudie van Rensburg
Uitgewer: Queillerie, 2022
ISBN: 9780795802539
Epub ISBN: 9780795802546
Die agterplat beskryf hierdie boek as die “mees avontuurlike Hans-verhaal nóg” en ek kan – in die woorde van Vasie – net beaam: “sê ek vir myselwers” dis so wraggies waar.
Hans van Kraaienburg is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie en toe ’n gladdebek-“beleggingsman” met die komiese naam Javel Davel die inwoners van Huis Madeliefie kom toespreek oor beleggingsmoontlikhede en kantore in elke groot wêreldstad, kry Hans vinnig ’n klankie van ’n piramideskema. Hy word nie so maklik ’n rat voor die oë gedraai nie en weet mos sy vriende in die tehuis is ook intelligente mense.
Maar 21% persent rente op swaarverdiende spaargeldjies wat “net stof vergader in die bank” is darem nie te versmaai nie. Hans voel juis dat sy geldjies te min is en “dat dinge by hom ook maar skraalhans is”. Toe al sy vriende egter vir die man se slenter val, neem Hans dit op homself – hoe dan nou anders? – om die kat uit die boom te kyk en sy eie ondersoek te loods.
Dinge ruk handuit toe die javel die pad vat met almal se geld, en die polisie reik ’n beloning uit aan enigeen wat hulle na die skurk kan lei. Dit beteken “speurder” Hans is weer op die oorlogspad, dié keer Weskus toe, en natuurlik is al sy trawante agterna. Natuurlik is dinge baie meer gekompliseerd as Hans se “taakspan” se gemiddelde ouderdom diep in die 80’s is en hy self 94 is. Die safaripak en Crocs is natuurlik ook nie die beste speurmondering nie!
Javel Davel sál hul geld teruggee, of Hans laat Nella en haar magtige bloomers op hom los. Sy het nie verniet die hele televisieskerm volgesit met haar onderhoude oor haar wegholtrefferkookboek nie! Sy sal daai javel met een voorarm kan vashou tot die polisie opdaag.
Soos ons nou al Hans se planne ken, is daar altyd ander wat meer geslepe is as die eintlike boef self en weer word Hans ontvoer, maar hierdie keer is dit nie die fop-ontvoering van sy vorige boeke nie; twee geslepe broers hou hom gyselaar. Dit verg mooi dinkwerk en feiteverdraaiing om daar uit te kom.
Heelwat ander mense – van die Valke tot sy eie paranoïese dogter – probeer Hans se planne kortwiek en dit wil-wil lyk asof hierdie javel gaan wegkom met sy skelmstreke. Of nie?
...........
Elke avontuur wat Hans en sy maters onderneem, is skreeusnaaks, maar tog só getrou aan die gewetenloses in ons samelewing wat oumense as sagte teikens sien en so dikwels daarmee wegkom. Ek wens daar was meer Hans van Kraaienburgs in ons ouetehuise om meer boewe aan die pen te laat ry.
..............
Elke avontuur wat Hans en sy maters onderneem, is skreeusnaaks, maar tog só getrou aan die gewetenloses in ons samelewing wat oumense as sagte teikens sien en so dikwels daarmee wegkom. Ek wens daar was meer Hans van Kraaienburgs in ons ouetehuise om meer boewe aan die pen te laat ry.
Rudie se beskrywings laat jou weer skaterlag voor jy nog by die snaaksste storie uitkom. Van dié sêgoed wat my regtig twee maal laat lees het, sluit onder meer in: “hy het nog poeier tussen sy lieste”; “die klein groepie aanwesiges hang aan sy lippe soos pasiënte aan ’n drup”; “hy hou hom so slim soos ’n boom vol uile”; “Hans keer homself net betyds om sy bek vir Spiertjies uit te brand”; “’n stadige gans verbeur sy kans”; “daar is nie tyd om in die lug te skerm nie”; “sou selfs sadiste na vlugsoute laat gryp het”; en “hy moet nou so stil soos ’n muis in ’n kalbas beweeg”.
Rudie van Rensburg het 11 misdaadromans op sy kerfstok en met sy jongste, Monster, wat vroeër vanjaar verskyn het, besef jy net weer hoekom hy so gewild is: Sy navorsing oor elke moontlike onderwerp verleen konteks en skilder ’n ware wêreld vir sy leser. Jy wil amper hartseer voel as jy die karakters aan die einde van die boek moet agterlaat.
Dis presies die gevoel wat jy kry as jy weer vir Hans en die ander Huis Madeliefie-inwoners totsiens moet sê aan die einde van die laaste bladsy. Hulle word amper soos familie.
Dié is die vierde Hans-avontuur, en met vriende se ouers in tehuise vir bejaardes regoor die land is dit heerlik om my voor te stel dat hulle die karakters in een van die Hans-boeke kan wees. Elkeen met sy eie unieke ervaringsveld, elkeen met ’n storie, elkeen met ’n spesiale karaktereienskap wat die storie lyf kan gee. En wat jou amper kan laat glo dat hierdie mense regtig bestaan en hierdie avonture regtig in ouetehuise kan afspeel.
Jy hoef nie die vorige drie avonture te lees om hierdie boek se humor te geniet nie, maar dis lekker as jy reeds die karaktereienskappe van elkeen van Hans se vriende – en van die ander inwoners – ken.
Dis nie net die mees avontuurlike Hans-boek nie, dis ook die beste. Dis asof Rudie in die weefsel van elke karakter ingeklim het.
“By my siel, ek maak sommer ’n wawiel!” kan ek nou met dié woorde van Wieletjies afsluit!