In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Vandeesweek iets oor ’n makabere moorddrama wat hom laataand op 25 Mei 1964 in Johannesburg afgespeel het.
Daar was vier karakters: Al Jackson was die slagoffer; sy vrou en ene Bennie Esterhuizen het gehelp om die moord te beplan; en ’n sekere Quinton Robinson het die sneller getrek.
Eintlik was hul al vier kop in een mus, want Jackson was finansieel in só ’n gemors dat hy nie verder vir die lewe kans gesien het nie. Daarbenewens het hy en sy vrou twee dae voor die voorval op ’n ernstige bedrogklagte in die hof verskyn.
Selfmoord was nie ’n uitweg nie, want dan sou die talle versekeringspolisse wat Jackson uitgeneem het, nie uitbetaal word nie. En dit was dié einste polisse wat Esterhuizen se belangstelling geprikkel het, want mev Jackson – wat die begunstigde onder die polisse was – het onderneem om R5 000 aan Esterhuizen te betaal as hy die moord sou pleeg. (Onthou: dit was 1964 en R5 000 tóé was nie te versmaai nie.)
Esterhuizen self het nie kans gesien om sy goeie vriend die ewigheid in te help nie, en so het Robinson op die toneel verskyn. Vir sy aandeel om die sneller te trek sou hy R2 000 betaal word. Dié reëlings is in oorleg met die slagoffer, mnr Jackson, getref.
Aanvanklik het Jackson, kort voordat Robinson hom sou skiet, bang geword en hom aan die skema onttrek. Toe kom die hofverskyning en sy probleme het vir hom erger begin lyk. Hy het Robinson weer laat kom en die twee is per motor na die New Canada-stasie buite Johannesburg. Daar het Jackson Robinson laat belowe om dié keer met die teregstelling voort te gaan, kom wat wil. Vanselfsprekend was Jackson erg gespanne, maar daarvoor het hy raad gehad. Soos appèlregter Holmes dit later gestel het: "To ease his troubled exit through life’s twilight he drank deeply of brandy."
Maar in sy dronkverdriet het hy Robinson weer opdrag gegee om die pistool weg te sit. Robinson het gesê dis goed so, maar toe Jackson uit pure verligting sy kop teen die stuurwiel laat rus, het Robinson die sneller getrek. Hy het immers vir Jackson belowe dat hy hom sou skiet, kom wat wil.
Jackson se liggaam is die volgende oggend met ’n koeëlwond bokant die oor gevind. Dit het die speurders nie lank geneem om agter die kap van die byl te kom nie.
Robinson en sy twee medepligtiges, mev Jackson en Esterhuizen, is van moord aangekla en skuldig bevind. Die doodstraf was destyds nog van krag en omdat daar geen versagtende omstandighede was nie, is hul algar ter dood veroordeel: in ons reg is die medepligtige immers met dieselfde vonnis as die dader strafbaar.
Mev Jackson en Esterhuizen het teen hul skuldigbevinding en vonnisse geappelleer, terwyl Robinson slegs teen sy vonnis appèl aangeteken het. Die hof het beslis1 dat daar geen getuienis was dat mev Jackson en Esterhuizen voorsien het dat Robinson tóg met die moord sou voortgaan as die slagoffer op die laaste oomblik sou kop uittrek nie. Toe die oorledene in sy dronkenskap vir Robinson gesê het om die moordwapen weg te sit, het hy die ooreenkoms as’t ware gekanselleer. Wat daarna gebeur het, het Robinson uit eie beweging gedoen.
Mev Jackson en Esterhuizen se skuldigbevinding aan moord is ter syde gestel, maar omdat die moordplan reeds so ver gevorder het dat daar begin is met die uitvoering daarvan, is hulle aan poging tot moord skuldig bevind en elk tien jaar tronk toe gestuur. Wat Robinson betref, het die appèlhof bevind dat daar wel versagtende omstandighede was, en sy doodsvonnis is met vyftien jaar gevangenisstraf vervang.
Dit als net vir geld.
1 S v Robinson and others 1968(1) SA 666(A)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

