22 November 2012: Brief aan PEN Afrikaanses

  • 0
22 November 2012

Beste PEN Afrikaanses

Met die nasmaak van die pas afgelope Bolandse plaaswerkeropstand  nog in die mond dink Afrikaanse skrywers op die oomblik na oor al die wyses waarop ons die wingerd prys.

Vroeër vandeesweek skryf een van ons lede, Desmond Painter, op die Versindaba-weblog:

Hoe maklik dit is om lofsange aan wyn en die natuurskoon van die Boland in die Afrikaanse digkuns te vind, terwyl die onderdrukking, immiserasie en maatskaplike weerloosheid van plaaswerkers in die streek oor die jare eintlik maar weinig neerslag gekry het in ons poësie …

Kyk jy na die Boland deur die wasige lense van die Afrikaanse digkuns, is dit wat tans aan die gebeur is, die werklikhede van die sosiale verhoudinge wat hier geld (en ontgeld), eintlik onvoorstelbaar.

Daar is weliswaar veel in Afrikaans te lees oor die genoegdoening en die genot, die skoonheid en die sinsbehae wat ons uit die wingerde en boorde put. Te min oor die plukkers en die pakkers, en beperkte kennisname van hulle wat aan die agterspeen suig terwyl ons nóg ’n glasie klink.

“Nou voel ons hoe wortels kan kielie/maar al wil ons ook lag/is niks meer snaaks genoeg nie,” protesteer “Steenwerp se bruinmense” vanuit hul lêplek onder die boer se wingerde in Barend J Toerien se mooi gedig.

Maar daar is te min súlke tekste in Afrikaans.

“Sonder ophou die arbeid. En altyd die behoefte aan nog hande, nog hulp,” skryf Elsa Joubert in 1969 in ’n essay oor die vallei van die Drakensteinberge (opgeneem in Merwe Scholtz se Wynland). Sy bring hulde aan dié vallei se vormende invloed op taal, geloof en onderwys. Sy verwonder haar aan hoe “beskerm, beskut, behoue” dit nog is. Maar sy skryf ook krities oor die afgeslotenheid, die insigselfgekeerdheid en die selfvoldaanheid.

Louis Esterhuizen, PEN Afrikaans-bestuurslid, het op Desmond se skrywe reageer met ’n “regstellende” vers. Dit het my aan die dink gesit. Hoog tyd vir ’n georkestreerd poging om die wingerd te prys op ’n manier wat die weerloosheid van werkers, die ongelykheid, die onrus of die gewelddadige uitbarstings van die afgelope oesseisoen (en baie seisoene daarvóór) registreer. Veral met soveel Bolandse lede en soveel uitgesproke genieters van die wingerdvog in ons midde!

Die inisiatief heet die Oestyd-skryfuitdaging. Die geleentheid is oop vir almal, nie slegs vir PEN Afrikaans-lede nie. Ons bied dit saam met LitNet aan. Stuur asseblief jul gedigte of kort-kortverhale (hoogstens 3 bladsye) teen laatstens Maandag 16 Desember aan pen@litnet.co.za.

LitNet sal alle bydraes op sy webwerf publiseer en mits ons genoeg gehaltebydraes kry, sal PEN Afrikaans ’n spesiale publikasie byeenbring wat ons by die Stellenbosse Woordfees aan feesgangers sal uitdeel.

Om af te sluit, gou nog terug na Elsa Joubert en die kameeverskyning van ’n plaaswerker aan die einde van haar essay:

’n Vragmotor draai stadig en versigtig van een van die plaaspaaie in, hooggelaai met druiwe. ’n Berg goue nat soet sonlig wat in die gekneusde korrels vasgepers lê, waarin die laaivurk diep gesteek is, waarop die werker sy lê gekry het, sy mondfluitjie uit sy sak gehaal het en begin speel. Kelders toe vir pars.

Ek ruik die geur van druiwe. Ek ry stadig agter die vragmotor, ek snuif diep die geur van druiwe. Melankolies die lied van die mondfluitjie.

Dis hoogsomer, die lug is loom en taai. Nog ‘n jaar het die aarde sy oes gegee.

Ek los julle met die lied van die mondfluit in jul ore. Mag dit bly draal terwyl ons gereedmaak om ‘n heildronk op die feesseisoen te drink.
Cheers vir eers!
Sonja

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top