Twee grootse skrywers het iets van die magiese Afrika in Kenia in hulle biografieë vasgevang: Tania (Karen) Blixen en Stefanie Zweig. Albei se epiese werke is verfilm: Sydney Pollack se Out of Africa en Caroline Link se Nowhere in Africa het beide talle filmpryse opgeraap en mense besiel.
Die omstandighede wat die twee skrywers na Afrika gevoer het, is baie verskillend. Terwyl haar huwelik met ’n Deense adellike en avonturier die barones Karen Blixen in Kenia laat beland het, het die Joodse gesin van Stefanie Zweig net betyds in 1938 uit Breslau gevlug om die Nazi’s se Jodevervolging te oorlewe.
Die Joodse gemeenskap in Nairobi het hulle passaat met die skip betaal. Haar pa is vooruit en het haar en haar ma daarna laat kom. In Breslau was die familie baie welgesteld en ewe skielik het hulle niks gehad nie. Waar haar pa tevore ’n prokureur was in Duitsland, was sy enigste heenkome in Kenia om as plaasbestuurder in ’n baie droë en afgeleë gebied te werk. Buiten dat daar nie water op die plaas was vir die beeskudde nie, is die volgende groot ramp wat hom getref het, malaria. Owuor, ’n Masai-werker op die plaas, red sy lewe en al waarmee hy sy dankbaarheid kon betoon, is sy nuttelose swart hoftoga. Owuor dra dit egter met net soveel waardigheid as hy in die hof.
Stefanie Zweig is in 1932 in Leobowitz in Silesië (vandag Pole) gebore en was skaars ses toe hulle Duitsland verlaat het. Vir haar word Kenia daadwerklik ’n nuwe Heimat. Met die oop en nuuskierige gemoed van ’n kind raak sy bevriend met die Masai-kinders en praat gou vlot Kikoejoe en Swahili. Die vreemde kultuur en rituele word deel van haar lewe. Al wat sy van Duitsland kan onthou, is die sneeu en ’n gevoel van duisterheid en vrees.
Met die uitbreek van die oorlog is die Duitse Jode wat vlugtelinge was, almal geïnterneer omdat hulle as Duitsers as deel van die vyand beskou is. So beland Stefanie en haar ma in ’n luukse hotel in Nairobi waarop beslag gelê is om as kwartier vir die vroue en kinders te dien. Na die ontberinge op die plaas was Stefanie baie opgewonde oor dié luukse “tronk”.
Gelukkig word hulle weer vrygelaat, maar haar ouers moet hard werk om haar skoolgelde te kan bekostig. In die Britse privaatskool in Nairobi leer sy gou dat toevlug sy prys het toe die skoolhoof alle Joodse kinders laat opstaan en die saal laat verlaat sodat die ander tot húlle God kan bid. Nietemin het die Engelse letterkunde ‘n blywende indruk op haar gelaat.
Na die einde van die oorlog het haar pa in 1947 besluit dat die gesin moet terugkeer. Dit was ’n moeilike besluit omdat res van hulle familie in Breslau nie een die Jodevervolging oorlewe nie. Hulle het vas geglo dat die Duitsers ’n kultuurvolk is, die volk van Schiller en Goethe, en dat die Nazi’s binnekort weer van die toneel sou verdwyn.
Met die repatriasie beland die gesin toe in Frankfurt, waar haar pa ’n pos as regter kry. Die gesin het ’n woonstel in die Rotschildallee betrek, waar Stefanie tot haar dood gelewe het. Sy was knap veertien toe hulle teruggekeer het, en het nooit werklik weer gevoel dat sy iewers hoort nie.
Nadat sy haar Abitur gemaak het, het sy as joernalis begin werk. Van 1963 tot 1988 was sy redaktrise van die kunsbylaag van die Abendpost in Frankfurt. Mettertyd het sy haar al hoe meer op haar skryfwerk toegespits. Haar eerste boek was ‘n Mondvol aarde (1980) – ‘n kinderboek wat in Kenia afspeel. ‘n Reeks romans wat óf in Afrika óf in die omveld van die Rotschildallee afspeel, volg.
Haar groot deurbraak het gekom met Nirgendwo in Afrika (Nêrens in Afrika), ‘n biografiese werk oor haar kinderjare in Kenia. Dit is opgevolg deur Irgendwo in Deutschland (Iewers in Duitsland) wat die gesin se terugkeer na Duitsland as tema het. Sy het Kenia twee keer na haar terugkeer weer besoek.
Die gevoel van heimatloosheid is ’n deurlopende tema van haar werk. In ‘n onderhoud het sy eenkeer gesê dat sy op goeie dae voel soos ’n Frankfurter, maar in slegte tye altyd ontworteld. In haar memoires, Nirgendwo war Heimat: Mein Leben auf zwei Kontinenten ( Nêrens is my tuiste: my lewe op twee kontinente) wat in 2012 gepubliseer is, is dit weer eens die leitmotief.
Hoewel haar boeke soms weemoedig is, was sy self eerder ’n saaklike en nugter mens. Depressies en euforie was nie haar ding nie. Haar skryfstyl is net so saaklik en nugter. Talle van haar boeke is in Engels vertaal. Volgens Random House is oor die 7 miljoen boeke van haar verkoop.
Wat haar as mens gekenmerk het, was haar beskeidenheid. Hoewel sy sekerlik genoeg geld gehad het om iewers anders heen te trek, het sy verkies om in die Rotschildallee te bly – daar waar haar familie weer voet gevat het.
Die groot liefde van haar lewe was Wolfgang Häferle, wat ’n volle 14 jaar jonger as sy was. Hulle het graag Scrabble gespeel vir tydverdryf – elkeen met sy eie gelukbringer wat toegekyk het. Hy is verlede jaar skielik dood kort nadat hulle nog vir oulaas middagete saam geniet het.
![]() |
|
Foto: Sven Moschitz
|
Skaars ‘n jaar later het sy hom gevolg. Stefanie Zweig is op Vrydag 25 April 2014 op 81-jarige ouderdom oorlede.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


