In gesprek met ... Hans Ester

  • 0
Carina van der Walt gesels met akademici uit verskillende dissiplines uit die Lae Lande, wat hulle onvermoeibaar besig hou met Afrikaans of met Suid-Afrika. Wie is die man of die vrou agter die boek, die projek, die navorsing of op die leerstoel? Waaroor gaan die boek, die projek, die navorsing? Hoe geïnspireerd sit ’n wetenskaplike op ’n leerstoel vir bande met Suid-Afrika?

Hans Ester1 is ’n ou bekende onder die Afrikaanse letterkundiges van Suid-Afrika. Wie hom egter net as ’n Nederlandse geleerde met ’n groot belangstelling in Afrikaans erken, doen hom ’n onreg aan. Sy wetenskaplike loopbaan vertak in drie belangrike dele: Afrikaanse letterkunde, Duitse letterkunde en teologie. Sy blik op die Afrikaanse en Duitse letterkundes is meestal via ’n bepaalde skrywer of literêre werk vanuit ’n gereformeerde perspektief. Twee van sy waarnemings jare gelede in die Klein Karoo groei tydens ons gesprek uit tot metafore vir Ester se lewens- en wêreldbeskouing – Die Hel en die pastorie van Oudtshoorn.

In Amsterdam vertel Ester van sy besoek aan Die Hel (Gamkaskloof) tydens sy tyd as gasdosent aan Rhodes Universiteit in Grahamstad. Dit was saam met Braam de Vries en Daniel Hugo, nadat hy André P Brink se Duiwelskloof gelees het. Die Hel se kranse wat al hoe nader gekom het in die donker klowe, het ’n intuïtiewe gevoel van die kwade by hom gewek; benoud gemaak; angs opgeroep. De Vries se stem op die agtergrond tydens radio-opnames het hom bietjie gerusgestel. Hy het dit gewaag om na ’n stroompie af te dwaal. Op pad terug Kaap toe het Hugo voorgestel dat hulle slaapplek gaan soek by die pastorie oorkant die wit kerk in Oudtshoorn. Die predikant was ’n vriend van Hugo uit sy teologiese-studies-tyd.

Ester beskryf die nag in Oudtshoorn as “een van die heerlikste nagte in my lewe”.

Hoekom?

“Ek het in ’n koper-hemelbed geslaap. Orals was kerse. Teen die mure van die kamer het geraamde dooprokkies gehang. Ek het nog nooit so iets gesien nie. Dit was vir my soos ’n terugkeer na ou dae en bekende waardes. Daar was ’n geweldige kontras tussen my gevoel van angs in Die Hel en my onskuldige ervaring van die goeie onder daardie dooprokkies. Jare later het ek weer die geraamde dooprokkies op veilings in Amsterdam gesien.”

Tydens sy studiejare het hy by sy dosent, Truida Lijphart-Bezuidenhout, gehoor van Elisabeth Eybers, die Afrikaanse digteres in Amsterdam. Hy het spontaan by Eybers se voordeur gaan aanklop. Sy was blykbaar nogal afstandelik, maar het vir hom ’n stapeltjie bundels in die hand gestop. Daarmee was dit die einde van sy besoek, maar beslis nie die einde van sy belangstelling in haar werk en in Afrikaans nie. Toe daar ’n uitruilprogram vir Suid-Afrikaanse en Nederlandse studente aangekondig is, het Ester by die Suid-Afrikaanse Instituut in Zuid-Afrikahuis gaan aanklop. Jare later het hy die voorsitter van dié instituut geword. Die program het hom Wits toe geneem, waar hy ’n student van NP Van Wyk Louw, Ernst van Heerden, John Miles en Ampie Coetzee was.

Gedurende 2009 het daar ’n artikel oor Eybers opVersindabaverskyn.Dit was ’n uitvloeisel van Ester se bydrae tot die spesiale Chris van Geel-nommer in die tydskrif De Parelduiker. Die titel van die artikel, “Jy het my as drenkeling herken”, was Eybers se woorde in haar briefwisseling met Van Geel. Uit hierdie briewe het dit geblyk dat Eybers ’n kortstondige liefdesverhouding met Van Geel gehad het. Dit was ’n soort vlug weg van ’n intieme verhouding met Van Oorschot. Van Geel se vrou, Thérèse Cornips, het Ester verskriklik kwalik geneem oor die artikel. Sy hom daarvan beskuldig dat hy “absoluut indiscreet” was. Cornips was volgens Ester die beste vriendin wat Eybers in die eerste deel van haar verblyf in Nederland gehad het.

“Ek het vir haar gesê dat ek verstaan dat dit alles vir haar nie so maklik was nie. Ek het haar om verskoning gevra, maar ek was geskok dat sy my so verkwalik het.”

Dit was nie die eerste keer nie, en dit sal beslis ook nie die laaste keer wees nie, dat Ester met ’n soort naïewe verbaasdheid reageer as sy artikels kontroversie oproep. As kind het hy grootgeword in ’n streng, maar liefdevolle gereformeerde huis. Hulle klein Utrechtse stadstuintjie was sy oase, al mag hy nie Sondae buite gespeel of fiets gery het nie. Sy ma was ’n vrolike vrou by wie sy sensitiwiteit en naïwiteit kon gedy. Sy het haar elke Sondag vererg vir die lang gesigte van die mense in die kerkbanke en dan gevra: “Glo hulle nou? Of glo hulle nie?” Geloof was iets vanselfsprekend. Dit was sy kinderdae onder die geraamde dooprokkies.

Ester was as kind nie bewus van die sombere lewensuitkyk wat as tipies gereformeerd in Nederland beskou is nie. Die morbiede sfeer in die roman Knielen op een bed violen deur Jan Siebelink is vir hom onherkenbaar. Ester se onskuld het ’n knou gekry toe ’n Rooms-Katolieke seun vir hom ’n smerige storie in direkte, lelike taal oor seks vertel het. Sy verbeelding was behoorlik op hol gejaag. Die kerk het met ’n boog om dié tipe probleme geloop en dit probeer doodswyg. Vulgêre grappe en grappe oor geloof het hy as aanranding ervaar, want “jy kan moeilik in ’n groep mense sê as iets nie vir jou ’n grap is nie.” Dit was die skadukant of die hel van sy jeug.

As u terugkyk op wat destyds met u gebeur het, dink u die seun was een van die duisende seksueel gemolesteerde kinders van destyds?

“Ek wil eerstens sê dat dit deels so erg was omdat ek nie die taal gehad het om dít wat met my gebeur het, in te pas in 'n neutraliserende, goeie lewensiening nie. Ek kon nie my ouers vertel nie en ek wil ook nooit oor die detail daarvan praat nie. Die moontlikheid wat jy noem, wil ek nie uitsluit nie, maar aan die ander kant was daar uiterlik so ’n gehoorsaamheid aan die regie van die kerk dat daar in geheime, donker plekkies presies die teenoorgestelde gebeur het. Gelukkig was daar boeke wat my gehelp het om dit te verwerk. Lewe die literatuur!”

Dink u dat naïwiteit miskien ’n eienskap is van gelowiges; dat gelowiges ’n sekere “onskuld” in hulle omdra?

“As mens in ’n omgewing opgroei waar respek heers en waar waardes beklemtoon word, dan groei jy anders op as in ’n omgewing waar selfs die term ‘waarde’ nie bestaan nie. Die vraag is natuurlik ook: Wát is jou basiese geloofsoortuiging? Hou jy vas aan die dogmas van jou kerk? Of strek jou geloof oor kerkgrense heen? As student in Suid-Afrika het ek soms die Anglikaanse kerk van my broer en skoonsus bygewoon en gereeld in die Presbiteriaanse kerk op die Bluff in Durban gekom. Dit het my as gelowige nie beskadig nie.”

Woordeloos tot verhaal. Trauma en Narratief in Nederlands en Afrikaans (2012) is saam met Chris van der Merwe en Etty Mulder saamgestel. Hoe het die gesprekke tussen u en Van der Merwe verloop?

“Van der Merwe is so ’n wonderlike gelowige mens. Ek voel my daardeur uitgedaag om vrae aan hom te stel. Hy waardeer dit. Dis ’n heerlike oop gesprek tussen ons. En dit moet ek bysê: dis ’n groot verskil met Nederlanders. Nederlanders preek graag, maar vermy diepgaande gesprek. Hulle stel graag vrae en is baie oortuig van hulleself, maar antwoord liewers nié. Dis ’n ongelooflike skadukant. Miskien hang dit saam met ’n behoefte om die vrede te bewaar?”

In die nabye toekoms lê ’n bloemlesing saam met Lina Spies in die vooruitsig. U is bewus daarvan dat sy afgelope Maart uit die NG Kerk gestap het. Versteur dit u werksverhouding?

“Nee. Beslis nié. Ek ken Spies al dertig jaar. Ek het ook al eerder met haar ’n bloemlesing oor berge saamgestel: Die blou berg moet ek oor in 2003. Die komende bundel het ongelukkig ’n tyd lank stil gelê as gevolg van die intensiewe werk aan die traumaboek saam met Van der Merwe-hulle.”

Spies het ’n breër perspektief op geloof as Ester in sy kontak met Anglikane en Presbiteriane. In die tweede deel van haar gedig “Credo” lees mens:

Ek het geen erg aan die geredekawel
oor Genesis en die Oerknal.
Jahwhé het geskep en met sy wonders
was hy so spandabel  
dat ek Fransiskaans wil praat
om – al sê die mens ek is mal –
in Afrikaans te sing
van sy oneindige knus heelal.

                      Uit: Duskant die einders (2004)

In dieselfde tyd as wat Spies haar bedanking uit die NG Kerk aangekondig het, het Ester gereageer op die Duitse Nobelprys-wenner van 1999, Günter Grass (84), se prosagedig “What must be said”.Grass kritiseer hierin Israel se politiek. Daarmee het hy behoorlik stof opgeskop. Dit het in die debat wat op die gedig gevolg het, oor die geskiedenis en konteks van die gedig gegaan. Ester het in sy artikel drie reaksies uit die Joodse publiek onder Nederlandse lesers se aandag gebring: die voorsitter van die Duitse Sentrale Joodse Raad, Dieter Graumann, het die gedig tot “haatpamflet” uitgeroep; die Israelse minister van buitelandse sake, Eli Yishai, het Grass amptelik toegang tot Israel verbied; die skrywer Henryk Broder het na Grass as “antisemiet” verwys. Grass sê eintlik Israel is gevaarlik en bedreig die wêreldvrede:

Why only now, grown old,
and with what ink remains, do I say:
Israel's atomic power endangers
an already fragile world peace?
Because what must be said
may be too late tomorrow;
and because – burdened enough as Germans –
we may be providing material for a crime
that is foreseeable, so that our complicity
will not be expunged by any
of the usual excuses.

Die refrein is: Waarom het ek tot nou toe geswyg? Waarom sê ek nou eers iets? Waarom het ek myself altyd verbied om met ’n kritiese vinger na Israel te wys? Volgens Ester is die antwoord glashelder: Grass is as Duitser persoonlik (hy sluit as 17-jarige by die SS aan) én kollektief skuldig aan die misdade teen die Jode. Daarom is alles wat Israel ná die Tweede Wêreldoorlog doen, goed. Skuldgevoelens verlam Europa. Israel kan steun op die morele ondersteuning van Europa én Amerika, ook al palm hy voortdurend na 1967 stukkies grond van die Palestyne in. Israel verkneg en verneder die Palestynse volk met dinge soos passe, iets herkenbaar vir Suid-Afrikaners.

Baie mense het Ester oor hierdie artikel in die Reformatorisch Dagblad verkwalik, al getuig dit van ’n eenvoudige logika. Sy durf om Grass se gedig in die regte lig en konteks te probeer plaas, is nie waardeer nie. Was dit naïef om daaroor te skryf? Dit is die hel daarvan om sy stem as eerlike letterkundige in die Europese konteks te laat hoor.

Ester hou van Duitsland. Hy kan entoesiasties vertel van die sneeubedekte landskap en die huisie van vriende waarheen hy gereeld gaan. As hy in daardie kamer wakker word en hy ruik die vars koffie uit die kombuis, draai hy vir nog ’n rukkie om en maak asof hy nog bietjie slaap. Die wêreld is oud en vertroud soos onder die geraamde dooprokkies in Oudtshoorn. Dis vir Ester “die heerlikste kamer van die hele wêreld”. Daar. In die klein ou huisie met die twee kastaiingbome daarvoor.

Naskrif: Hans Ester was vanaf 1988 tot 2011 verbonde aan die Radboud Universiteit in Nijmegen. Sy kontrak is verleng tot September 2012 as dosent in Zuid-Afrika-Studies in die Fakulteit Letterkunde. Tot 2003 was hy voorsitter van die Suid-Afrikaanse Instituut in Amsterdam. Hy is literêre medewerker van die Maandblad Zuid-Afrika en lid van die redaksierade van Literator en Tydskrif vir Nederland en Afrikaans. Sedert 2007 is hy lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.


1 Hans Ester dien as lid van die LitNet Akademies-adviesraad


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top