Vrymesselary ten tye van die Suid-Afrikaanse Oorlog

  • 3

1. Vrymesselary ten tye van die Anglo-Boereoorlog

Die botsende belange van Britse imperialisme en Afrikanernasionalisme het in Oktober 1899 uiteindelik op oorlog tussen Groot-Brittanje en die twee Boererepublieke uitgeloop. Na die ontdekking van goud aan die Witwatersrand in 1886 het die ekonomiese swaartepunt na Transvaal verskuif, en uitsluiting van dié gebied in ’n verenigde Britse Suid-Afrika was vir die imperialiste ondenkbaar. Vir die Boere was hul onafhanklikheid nog net so kosbaar as in 1880, toe hulle die eerste keer die wapen teen Brittanje moes opneem. Die Anglo-Boereoorlog het amptelik op 11 Oktober 1899 begin, en op 31 Mei 1902 het die uitgeputte Boeremagte die stryd teen Groot-Brittanje gewonne gegee en die Vrede van Vereeniging in Pretoria onderteken.I

Hierdie artikel handel oor die werksaamhede van die Vrymesselaars ten tye van die Anglo-Boereoorlog.

Nadat die krygswet in die ZAR en Vrystaat in 1899 afgekondig is, het die meeste van die Vrymesselaarslosies in die Boererepublieke hulle werksaamhede gestaak. Baie van die Uitlanders wat aan die Engelse losies verbonde was, het die ZAR verlaat en na Natal en die Kaap vertrek.

Die eerste gevegte van die Anglo-Boereoorlog het op 20 Oktober 1899 by Talana, naby Dundee plaasgevind. Die gevegte het van hieraf na Ladysmith (in Natal) verskuif.II

Die beleg van Ladysmith het vanaf 31 Oktober 1899 tot 3 Maart 1900 geduur. Een van die staatmakers in hierdie gevegte was Kommandant-Generaal Piet Joubert (’n Vrymesselaar wat aan die De Broederband Losie in Pretoria verbonde was).

In die Masonic Illustrated of LondonIII wat in 1901 gepubliseer is, word die volgende verhaal vertel oor die werksaamhede van die Vrymesselaars ten tye van die Ladysmith beleg. Die Masonic Illustrate skryf dat Luitenant A.C. McLachlan, wat die Meester van die destydse Kliprivier Losie in Ladysmith was (’n Engelse losie), is tydens die beleg van Ladysmith gewond. McLachlan het met die aanval op Ladysmith, die Kliprivier Losie se dokumente en notules begrawe. Hy het later instruksie van die Verenigde Groot Losie van Engeland ontvang om die Kliprivierlosie se dokumente onder sy persoonlike toesig te neem. Die Kliprivier Losie se dokumente is toe weer opgegrawe en op Maandag, 20 November 1900, het die gewonde Luitenant McLachlan ’n werking (vergadering) van sy losie gehou.IV

Op 29 November is ’n volgende werking gehou, waarin ’n nuwe lid, die 55-jarige Bruce Hamilton van Ladysmith, ingesweer is as Vrymesselaar. Hierdie werking het in Ladysmith se Royal Hotel plaasgevind omrede die Britse Leer die Kliprivier Losie se gebou (tempel) as ’n militêre hoofkwartier annekseer het. By hierdie werking was 64 Vrymesselaars teenwoordig. Almal was in hulle militêre uniforms geklee. Almal wat hierdie werking bygewoon het, was Engelssprekend.V

Op 19 Februarie het die Kliprivier Losie vir die laaste keer tydens die Ladysmith beleg vergader. Hierdie werking het in die ou Wesleyaanse Kapel plaasgevind. Dié kapel was op daardie stadium as ’n medisynestoor vir die Britse magte gebruik.

Dwarsdeur die oorlog het die Boeremagte nooit enige skade aan enige van die Vrymesselaarslosies in Suid-Afrika aangerig nie. Die enigste aangetekende geval van poging tot skade deur die Boerekrygers het op Dundee in Natal voorgekom. Cooper skryf in sy boek, The Freemasons of South Africa, dat die Dundee Vrymesselaars het kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog ’n baie mooi Vrymesselaarstempel opgerig het. Hierdie gebou is streng deur die Boerekrygers respekteer, alhoewel Boererebelle een keer die meubels daar probeer steel het. Die enigste oorblywende Engelsman in Dundee, ’n Vrymesselaar, het van die poging tot diefstal bewus geword en dit aan ’n Boerekryger gerapporteer, wat dit weer aan sy Kommandant vertel het. ’n Wag is onmiddellik op die perseel geplaas. Toe die dorp weer deur Britse magte herwin is, is ’n nota in die Vrymesselarstempel gevind wat gelees het: “Gered deur Broers J. Bell en K.O. Lange, St. Andrewslosie, Vrijheid, Z.A.R.”VI

In die Freemason van Julie 1902, ’n Britse publikasie, skryf die redakteur: “Alhoewel die Boere allerhande tipe eiendom geplunder en vernietig het, is geboue met ’n erkende verbintenis tot Vrymesselary by meer as een geleentheid van vernietiging gered, en is daar met tye selfs wagte uitgeplaas om die Vrymesselaarstempels teen beskadiging te beskerm.”VII

In teensteling met die Boere se houding jeens die Vrymesselaarstempels, het die Britse troepe hul wel skuldig gemaak aan vandalisme en plundery. By Ermelo het die Britse soldate die Vrymesselaarstempel afgebrand en die sierade van die losie is gesteel. In Springs is die sierade van die Steenkoolveldlosie ook deur Britse soldate gesteel, maar later weer teruggevind. Die meubels en sierade van die Ster van Afrikalosie te Jagersfontein is in Oktober 1900 deur Britse soldate verwoes en die Unielosie by Rietkuil is in sy totaliteit deur hulle vernietig.VIII Albei die laasgenoemde losies het onder die Nederlandse werking resorteer.

Baie losies is ten tye van die Anglo-Boereoorlog deur die Britse magte as hospitale, store of kantore gebruik. A.W. Adams, die Meester van die Kimberley Losie, het die volgende aantekening in die losie se register van 13 November 1900 gemaak: “Gedurende die Kimberley beleg het ons feitlik alle werkings in Kimberley gestaak. Die laaste werking was die installering in my eie losie op 8 Oktober 1899. Ons het daarna onbepaald verdaag. Een losie het onder dispensasie na Beaconsfield gegaan en het twee vergaderings (werkings) daar gehou. Ons het ons Vrymesselaarstempel as koorshospitaal aan die Britse magte afgestaan.” Die Kimberley Losie se rekords sluit ’n faktuur ten koste van 305 pond in vir die verhuur van die Vrymesselaarstempel as hospitaal, vanaf 8 Maart tot 1 Augustus 1900. Die faktuur is aan Majoor H.V. Gorle gestuur, en hy het ook die betaling gemagtig.IX

Die geskiedenis van nog ’n Kimberley Losie, te wete Vrede en Harmonie, rekordeer: “In 1899 het die ongelukkige oorlog tussen Boer en Brit, asook die beleg van Kimberley plaasgevind. Die tempel is vir ’n geruime periode as militêre hospitaal benut. Dit wil voorkom asof daar geen vergaderings van die losie gedurende die laaste maande van 1899 plaasgevind het nie, tot en met 20 Junie 1900, toe die eerste vergadering weer by die Unielosie, Beaconsfield, gehou is.

By hierdie vergadering was daar diverse menings oor die kwessie van die oorlog tussen sommige van die broeders. Die teenswoordige seer agbare Meester, J.H. Potgieter, het die saak vir bespreking ter tafel gelê. Met eenparige stemming het die broeders besluit dat rassegevoelens onbekend onder die Vrymesselaars sal wees. Die voorstel dat die stigtingsakte (grondwet) weens die heersende omstandighede opgesê moet word, is afgekeur op grond daarvan dat dit onwaardig jeens die broederskap sou wees. Die seer agbare meester het hieroor gesê: ‘Ek is grootliks verlig oor julle lojaliteit.’”X

Die Kimberley Vrymesselaars was aansienlik meer bevoorreg as hulle kollegas van die Roodepoort Losie. Die oorlog het halt geroep aan die bouwerk aan hulle tempel. Die Britse militariste het £500 (R1 000) se boumateriaal van die perseel verwyder en die halfvoltooide gebou as ’n beeskraal gebruik.XI
Mafeking, die mees noordelike dorp in die Kaapkolonie, is in Oktober 1899 beleër, en toe weer deur die Britte in Mei 1900 ontset. Britse Vrymesselaarjoernale het verslag gedoen oor hoe die garnisoen, onder leiding van Kolonel R.S. Baden-Powel, vyandelike aanvalle met vasberadenheid weerstaan het, terwyl hul ontsetting in Brittanje met ’n “orgie van vreugde” begroet is.XII

Onder diegene wat in Mafeking gely het, was ’n burgerlike by name Edward Ross. Hy was ’n afslaer van beroep en ook die tesourier van die plaaslike Vrymesselaarlosie. Sy dagboek rekordeer dat, “... ‘n noodvergadering van die Vrymesselarslosie (Australlosie, in 1894 gestig) op die vooraand van 18 Februarie 1900 onder die swaard van die beleg gehou is. Hierdie gebeurtenis is waarskynlik uniek aan die era van die Vrymesselaars – die byeenkoms van ’n losie te midde van ’n beleg, aan elke kant omring deur die vyand, met swaar artillerie in ons rigting gemik, en elke lid daar ’n soldaat onder krygswet. Gedurende die sitting van die losie is ’n sarsie Mauserkoeëls in die dorp ingevuur. Daar is op hierdie werking voorgestel dat die losie ’n sieraad ontwerp ter herdenking aan almal wat die vergadering bygewoon het.”XIII

Gereelde losievergaderings is in die Vrymesselaarsaal gehou, terwyl Ross ook vertel het dat sommige van die garnisoenoffisiere ’n dans op 11 Februarie 1900 gereël, en ook later ’n konsert daar gehou het. Die mees suksesvolle geleentheid wat ooit daar gehou is, was ’n uitstalling van Baden-Powel se modelle, skilderye, fotografie en sketse op 25 Maart 1900. Uiteindelik is die welgebruikte Vrymesselaarssaal in Mei 1900 in ’n tronk verander.

Oor die werking van die Ster van Afrika Losie in Jagersfontein, asook oor die werkings by die Rising Star Losie in Bloemfontein, verskyn daar in hierdie reeks volledige artikels.

Die vrylating van 47 Britse prisoniers was ook te danke aan Vrymesselaarsamewerking. Die Boereverkenner, Kaptein Danie Theron, wat ’n lid van die Krugersdorp Losie was, het ’n trein op pad na Johannesburg gebuit. ’n Medevrymessselaar, Kolonel J.G. Stowe, wat drie jaar lank die Konsul-Generaal van die Verenigde State in Suid-Afrika was, en as leidende Vrymesselaar in beide lande aktief was, was ’n passasier in die salonwa. Theron het hom met die uiterste hoflikheid behandel en het ook, volgens die Masonic Illustrated, op sy versoek 47 Britse krygsgevangenes vrygelaat.XIV

1.1 Hulp vir voortvlugtendes

Tusen die duisende pro-Engelse vlugtelinge wat die Transvaal verlaat het om met die uitbreek van die oorlog na die Kaap en Natal te stroom, was verskeie Vrymesselaars wat brandarm daar aangekom en hulp gesoek het. Die hulp was spoedig beskikbaar.

Die Engelse Groot Losie van Natal het aan die Groot Losie in Londen rapporteer dat hulle onder, “geweldige druk verkeer as gevolg van die instroming van voortvlugtendes wat voor die aanvang van die oorlog uit hul huise verdryf is. Die druk het verder toegeneem deur die aankoms van honderde ander verarmdes wat via Delagoabaai in die Kaapkolonie ingestroom het ... plaaslike fondse is uitgeput. Aangesien Johannesburg nou in die hande van die Britse troepe is, was die voortvlugtendes nou weer baie angstig om so vroeg moontlik na hul huise terug te keer.”XV

Die Groot Meester van die Transvaalse Engelse Losies, George Richards, wie veilig in Brittanje gedurende die oorlog gebly het, was byderhand om die Groot Losie in Londen van advies oor die situasie te bedien. In ’n brief aan die Freemason skryf hy dat hy skat dat van die 1 200 Engelse Stigtingsvrymesselaars in die Transvaal gedurende 1899, “vier-vyfdes van Engelse, en die oorblywende vyfde van Nederlandse afkoms was.XVI Die Engelse vier-vyfdes was verplig om hulle wonings en huishoudelike besittings agter te laat en toevlug in die Kaapkolonie of Natal te gaan soek”, het die Freemason bygevoeg. Hierdie voortvlugtendes, wat “gerieflike inkomstes” van £400 (R800) en in sommige gevalle tot £1 000 (R2 000) ’n jaar verdien het, is nou haweloos en pennieloos. Die publikasie het Richards se oproep aan Britse Vrymesselaars ter ondersteuning van diegene wat deur die Boere uit hulle huise “gedryf” is, onderskryf.XVII

Richards self het ’n persoonlike donasie van 100 ghienies aan die fonds wat hy gestig het, gemaak. Teen Maart 1900 het dit tot £500 (R1 000) gegroei toe die Groot Meester van die Engeland, die Prins van Wallis, die Groot Losie in Londen versoek het om ’n fonds te stig om Engelse Vrymesselaars in Suid-Afrika te ondersteun. By ’n Groot Losie vergadering in London, het Richards ingestem dat sy fonds met hierdie algemene fonds kon saamsmelt, waartoe die Groot Losie toe 1 000 ghienies bygedra het. Die Raad van Algemene Oogmerke het aanbeveel dat die geld gebruik word “om die ellende van lojale lede wat direk deur die oorlog in daardie geweste veroorsaak is, te verlig.”XVIII

Die woord “lojale” is egter tydens die vergadering bevraagteken, en die hoof registrateur, Prokureur John Strathan (Q.C.), het verduidelik dat hulp alleenlik sal gaan aan ’n ingetekende Engelse Vrymesselaar “wat aan die Britse Kroon lojaal gebly het”.

Hierdie stelling het Richards ontstel, wat geantwoord het dat daar Nederlanders was wat nie die koningin se onderdane was nie, maar net so lojaal aan die ryk en staat as hyself was. “Wanneer ons oorlog verklaar, is ons nie in oorlog gewikkel met hulle nie. Daar is Nederlanders wat aan ons kant teen die onderdrukking van die Boere veg.”

Die Engelse fonds het in geheel £18 938 (R37 876) bereik, met die meeste bydraes afkomstig uit Engeland. Hiervan het die Transvaal Verdeling £7 000 (R14 000) ontvang, die Oostelike Verdeling £2 300 (R4 600), Sentraal £2 200 (R4 400), Natal £2 825 (R5 650), en die Westelike Verdeling £2 613 (R5 226). Bedrae ter waarde van £10 (R20) per individu en £20 (R40) per gesin is toegestaan. In die Kaap is 41 064 persone in totaal deur die fonds bygestaan. Die fondse wat nie aan voortvlugtendes bestee is nie, is later vir onderrig en menslikheidsredes versprei.XIX

Nederlandse Vrymesselaars het ook na hulle landgenote uitgereik. In 1899 stuur die Groot Losie van die Nederlande 2 000 gulders om die nood onder Hollandse Vrymesselaars te verlig. In 1901 is ’n verdere 8 300 gulders gestuur. Ander Hollandse losies is ook gevra om by te dra. Hierdie fondse is gebruik om die nood van losielede en hul gesinne in die destydse Republiek van die Oranje-Vrystaat en die Suid-Afrikaanse Republiek te verlig. Dit was min genoeg. H. Tiffany, die Nederlandse Provinsiale Groot Losie Sekretaris in Suid-Afrika, het aan sy hoër gesag rapporteer: “Aansoeke wat reeds (vir noodverligting) ontvang is, is so talryk dat ons hulle nie almal kon oorweeg nie en die drukking op ons is besonder groot. Die toename in die lewenskoste het ons almal se inkomste laat krimp, met die gevolg dat vele Broers dit onmoontlik vind om met hulpverlening voort te gaan.XX

Daar word verstaan dat meer as £10 000 [R20 000] van die losies vir noodverligting onder die Broeders van die Engelse Stigtingsvrymesselaars in Suid-Afrika ingesamel is, maar ongelukkig sal geen van hierdie geld ter verligting van die nood van Skotse, Ierse of Hollandse Vrymesselaars aangewend word nie. Indien ’n helpende hand nie na hulle uitgestrek word nie, sal baie van ons Broeders in ontsettende ellende verkeer”, het hy bygevoeg.XXI

Teen 1901 het die Nederlandse Adjunk-Groot Meester, Lewis, ’n totaal van £906.9s.8d (R1 813.96) van Den Haag ontvang en het hy by al die losies oor Vrymesselaars wat hulp benodig het, navraag gedoen. Hy stel dit duidelik dat: “Die geld moet aangewend word vir lede buite die Kaap (Kolonie), of ten minste in areas wat direk vyandelike aktiwiteit ervaar het. Binne hierdie beperkings sal die fonds beslis sonder enige politieke of sosiale oorweging aangewend word.”XXII

Die Vrymesselaarsverbod dat geeneen politieke of geloofsake in ’n Vrymesselaarslosie mag bespreek nie, is skynbaar deur plaaslike Vrymesselaarsleiers ignoreer. Die kwessie van verdeelde trou onder Vrymesselaars het die Engelse Broeders swaarder as vir die Nederlanders belas.

Ten tye van die aanvang van die oorlog het Dr. C.J. Egan, die Groot Meester van die Engelse Oostelike Verdeling, Londen om advies genader. “Ek vrees dat daar menigte gevalle is waar Broers van losies in die grensgebiede met die Boere saamgesweer het, en hulle gevolglik van hoogverrraad aangekla mag word. Kan hierdie broeders uit hul losies geskors word? Ek verwag moeilikheid indien hulle in hul losies sou bly.”XXIII

In September 1900 rapporteer Egan aan sy Groot Losie: “Van wat ek verneem het, het sekere Broeders hul Vrymesselaarsbeginsels so agterweë gelaat dat hulle by die Boere aangesluit, en wapens teen hul wettige heerser opgeneem het. Sulke Broeders kan nie weer tot die losie toegelaat word nie, en sal die sanksie van uitsluiting van die Vrymesselaars moet verduur.”XXIV

Hy maak openbaar dat die Groot Losie in Londen aan hom geskryf het: “Tydens die wederregtelike daad genoem Hoogverraad, breek ’n Broeder nie slegs die wet van die land nie, maar is hy terselfdertyd ook ontrou teenoor die oeroue opdragte van die Vrymesselary. Dit is gevolglik nie net die Groot Losie of Groot Losie se reg om hom te skors nie, maar wel ’n verpligting om hom heeltemal van die Broederskap af te sny.”

Egan het nooit hierdie reg toegepas nie, al het hy in September 1902 aan sy Groot Losie rapporteer: “Gedurende die afgelope jaar het een losie aan my geskryf oor verraderlike gedrag onder sommige van die lede, waar een of meer van hulle skuldig bevind is aan die oortreding, en in ooreenstemming deur gemagtigde grondwetlike howe opgelê is, gestraf is.” Hy het die losie met ’n versoek om die volle detail te bekom genader, maar het niks verder van hulle gehoor nie. Egan het nooit die naam van die losie bekendgemaak nie.

Geen rekords kan gevind word van enige Vrymesselaar van die Engelse Stigtings Losie wat in Suid-Afrika uit die losie is weens hoogverraad geskors nie.

In Kaapstad het Eerwaarde C. Barnett-Clark, Deken van Kaapstad en die Groot Meester van die Westerlike Verdeling Engelse Stigtingslosie, ewe hooghartig verklaar: “Vele het gewaag om te doen, en dan eerder te sterf voordat hulle as verraaiers van die Ryk, die Troon en die Opperheerskappy van die wêreldwye Britse Dominium sal optree.”XXV

Op sy beurt het Adjunk-Groot Meester, C. Arburrow, met die heropening van losievergaderings in Februarie 1901 aan sy Transvaalse Engelse Groot Losie gesê: “Ons kan nie vergeet van diegene wat nie soos broeders en Vrymesselaars opgetree het nie.” Sy kollega in Kimberley, D.J. Haarhoff, die Adjunk-Groot Meester van die Sentrale Engelse Verdeling, was meer vergewensgesind: “Al ons lede was skynbaar getrou aan hulle regering en aan die Vrymesselary”, het hy gesê, sonder dat hy spesifiseer het na watter regering hy verwys het.XXVI

Dit is insiggewend dat die Engelse losies hierdie ferm houding teen Vrymesselaars ingeneem het wat hoogverraad gepleeg het deur te rebeleer, terwyl hulle eie George Richards (’n Groot Meester van die Engelse losies) wat na die Jamesoninval skuldig bevind is aan hoogverraad in die ZAR, se gedrag goedsmoeds deur die Engelse losies kondoneer en selfs goedgepraat is. Dit was ’n duidelike klad op die naam van Engelse Vrymesselaars wat hulself as beginselvas en opreg gereken het. Hulle Vrymsesselaarbeginsels het getuig van politieke gedienstigheid.

1.2 Vrede

Die Anglo-Boereoorlog het wêreldwye kritiek teenoor Brittanje oor die instelling van die konsentrasiekampe uitgelok. Na hierdie kritiek, het die Europese Vrymesselaar meer pogings aangewend om die Verenigde Groot Losie van Engeland te oortuig om meer druk op die Britse Regering te plaas om die oorlog te beëindig.XXVII

Ten laaste het vredesonderhandelinge in Mei 1902 in Vereeniging begin. In die lig van alternatiewe keuses tussen ’n voorwaardelike vredde of onvoorwaardelike oorgawe, het die republikeinse regerings die Verdrag van Vereeniging op 31 Mei 1902 onderteken. Die hoofvoorwaarde was dat die twee republieke onder sekere voorwaardes beide Britse kolonies sou word.

Die Britte het oor die neerlegging van die kommandos se wapens toesig gehou, en teen die einde van 1902 het die meeste van die oorlewende vrouens en kinders die konsentrasiekampe verlaat, en is die meeste van die krygsgevangenes van oorsee af terug gebring.

2. Eindnota's

I Kruger, D.W. (en ander):Geskiedenis van Suid-Afrika. Nassau Beperk, Kaapstad (pp. 347–50).

II Hobson, J.A.: The War in South Africa. Its causes and effects. London, 1900 (pp. 212–9).

III Masonic Illustrated, 1901 (p. 3).

IV Masonic Illustrated, 1901 (pp. 5-7).

V Cooper, A.A.: The Freemasons of South Africa. Human en Rosseau, Kaapstad, 1986
(pp. 76–8).

VI Cooper, A.A.: The Freemasons of South Africa. Human en Rosseau, Kaapstad, 1986
(pp. 78–80).

VII Freemasons, July 1902 (p. 13).

VIII Cooper, A.A.: The Freemasons of South Africa. Human en Rosseau, Kaapstad, 1986
(pp. 80-81).

IX Notule van Charles Warden Losie No. 1832, Kimberley, 13 November 1900.

X Notule van Vrede en Harmonielosie No. 51, Kimberley, 20 Junie 1900.

XI Cooper, A.A.: The Freemasons of South Africa. Human en Rosseau, Kaapstad, 1986
(p. 82).

XII Rogaly, A.: History of Peace and Harmony Lodge, Nr. 51, Northern Cape 1873–1925
(pp. 103–7).

XIII Ross, E.J.: Diaryof hte Siege of Mafeking, October 1899–May 1900 (pp. 41–56).

XIV MacDonald, W.I.: Cosmopolitan Lodge No. 1409, Kimberley (pp. 87–9).

XV The Freemason, 1901 (p. 5).

XVI The Freemason, 1901 (p. 5)

XVII The Freemason, 1899 (p. 5).

XVIII Barrow, J.: Charles Warren Lodge Kimberley, No. 1832: 1879–1979 (pp. 73–81).

XIX The Freemason, 1900 (p. 7).

XX Masonic Illustrated, 1901 (pp. 4–6).

XXI Masonic Illustrated, 1901 (pp. 4–6).

XXII Masonic Illustrated, 1901 (pp. 4–6).

XXIII Masonic Illustrated, 1902 (pp. 7–9).

XXIV Masonic Illustrated, 1902 (pp. 7–9).

XXV The Cape Argus: 12 November 1902.

XXVI Barrow, J.: Charles Warren Lodge Kimberley, No. 1832: 1879 –1979 (pp. 81–5).

XXVII Cooper, A.A.: The Freemasons of South Africa. Human en Rousseau, Kaapstad, 1986 (pp. 102–4).

 

Lees ook Vrymesselary voor die aanvang van die SAO.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief . | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter .

  • 3

Kommentaar

  • Dave McMaster

    As verloste vrymesselaar vind ek die artikels baie interessant. Net ter inligting daar is op die oomblik twee vrymesselaars-ordes in S A aan die werk waarin mans en vrouens gesamentlik deelneem en een orde alleenlik net vir vrouens.
    Een van hulle is al vir meer as 'n 100 jaar aan die gang.

  • Dankie. Dis insiggewend. Ek gebruik so ietse daarvan in my derde boek "Swart Luiperd" wat oor 'n paar maande verskyn. Ek het so drie jaar gelede as Vrymesselaar bedank.

  • Dave McMaster

    More Jaap, verskoning dat ek so lank vat om te reageer. Ek was vir 13 jaar ’n vrymesselaar en is 21/3/97 verlos daarvan. My oorlede Pa was n 33 st graad vrymesselaar en ek is in besit van al die ritueelboekies tot en met die 30 st graad, interessant dat ek geen geskrif van 31, 32 en 33 grade kry nie. Indien jy meer inligting wil hê sal ek graag met jou deel.
    Het jy inligting oor Ds Bester of Boshof wat op St Helena predikant was?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top