In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Net voor agtuur op die aand van 23 Oktober 1971 het 'n Piper Cherokee-vliegtuig met 'n mnr Viviers aan die stuur die lughawe van Oudtshoorn genader om te land. Benewens mnr Viviers was daar ook vyf passasiers aan boord. Enkele sekondes voordat die vliegtuig sou land, het een van die vlerke aan 'n kragdraad en ook die bopunt van 'n kragpaal geraak. Dit het die vliegtuig van balans geruk en dit met rampspoedige gevolge laat neerstort. Afgesien daarvan dat die vlieënier, mnr Viviers, die lewe gelaat het, is die vliegtuig ook onherstelbaar verwoes. Gelukkig het die vyf passasiers die ramp oorleef.
Sowel die kragdraad as die lughawe van Oudtshoorn het aan die Munisipaliteit van Oudtshoorn behoort. Die eienaar van die vliegtuig, ene mnr Noakes, het 'n aksie om skadevergoeding teen die Munisipaliteit van Oudtshoorn ingestel en 'n bedrag van R13 850 geëis, wat die verskil was tussen die markwaarde van die vliegtuig net voor die ongeluk en die waarde van die wrak daarna. (R13 850 in 1971 is in vandag se geld gemaklik naby aan R300 000.)
Mnr Noakes het aangevoer dat die botsing met die kragdraad veroorsaak is deur die uitsluitlike nalatigheid van die Munisipaliteit van Oudtshoorn. Hy het beweer dat die betrokke kragpaal heelwat hoër was as wat die destydse Lugvaartregulasies voorgeskryf het; dat die Munisipaliteit van Oudtshoorn versuim het om waarskuwingsligte op die punt van die kragpaal aan te bring; en dat daar omtrent halfpad teen die kragpaal op 'n gewone straatlig was wat 'n vlieënier kon mislei het om te dink dat dié lig aan die bopunt van die paal was.
Die Munisipaliteit het ontken dat hy in enige opsig nalatig was en het aangevoer dat die botsing veroorsaak is deur die uitsluitlike nalatigheid van die betrokke vlieënier.
Die saak is in Kaapstad voor regter Fagan verhoor.1 Die regter het beslis dat die eienaar van die vliegtuig, mnr Noakes, die las gehad het om te bewys dat die Munisipaliteit nalatig was en het die ou toets vir nalatigheid herhaal, naamlik die sogenaamde redelike-mens-toets. Hierdie toets beteken dat indien 'n redelike mens onder bepaalde omstandighede sou voorsien het dat sy optrede (of versuim om op te tree) moontlike skade aan iemand anders kan berokken en hy dan versuim het om redelike stappe te doen om daardie skade te vermy, hy nalatig was.
Die regter het bevind dat die Munisipaliteit van Oudtshoorn totaal foutiewe inligting oor die hoogte van die betrokke kraglyn aan die Departement van Vervoer verstrek het toe die Munisipaliteit in 1964 aansoek gedoen het om toestemming om die kraglyn aan te bring. Die betrokke kragpaal waarteen die Piper op daardie noodlottige aand van 23 Oktober 1971 gebots het, was ook ongeveer 1,6 meter hoër as wat die betrokke Lugvaartregulasies voorgeskryf het. Die hof het ook bevind dat die destydse sekretaris van die Oudtshoornse vliegklub, mnr Gillis, verskeie kere skriftelik by die Munisipaliteit gekla het oor die gevaar wat die kraglyn geskep het. As gevolg daarvan het die Munisipaliteit wit merkers aan die kraglyn aangebring ten einde vlieëniers van inkomende vliegtuie bedags van die gevaar te waarsku.
Die hof het voorts beslis dat die Munisipaliteit van Oudtshoorn as lisensiehouer van die lughawe 'n verpligting gehad het om alle redelike stappe te doen om die lughawe veilig vir die gebruikers daarvan te maak – nie alleen bedags nie, maar ook snags. Dit, het die hof bevind, het die Munisipaliteit in verskeie opsigte versuim om te doen. In die eerste plek het die Munisipaliteit versuim om, nadat mnr Gillis oor die kragdraad gekla het, iemand te stuur om die werklike hoogte daarvan te meet en vas te stel of dit voldoen het aan die voorgeskrewe regulasies van Burgerlike Lugvaart. Verder het die hof beslis dat die Munisipaliteit versuim het om die erns van die gevare wat die kragdraad vir inkomende vliegtuie ingehou het, te besef en gepaste maatreëls te tref om die gevaar te verwyder of te verminder. Een metode sou gewees het om 'n kragdraad oor 'n afstand van 130 meter ondergronds te laat loop. Só 'n ondergrondse kabel sou nie eers baie duur gewees het nie.
'n Eenvoudiger en goedkoper metode sou gewees het om behoorlike rooi waarskuwingsligte aan die punt van die kragpaal aan te bring. Om te wys hoe maklik hierdie maatreël was, het die regter daarop gewys dat die Oudtshoornse Munisipaliteit binne weke na die ongeluk wel sulke ligte aan die pale aangebring het voordat daar besluit is om die kragdraad ondergronds te laat loop.
Die hof moes vervolgens ook aandag skenk aan die bewerings dat die vlieënier, mnr Viviers, self nalatig was. Daar was geen twyfel nie dat mnr Viviers op die betrokke aand heeltemal te laag gevlieg het. Daar was getuienis dat hy wel van die kragdraad bewus was. Vroeër die dag het hy op die lughawe geland, waar hy later in die dag 'n kursus vir valskermspringers aangebied het. Die kragdraad is toe op 'n lugfoto aan hom uitgewys. Nóg later dieselfde dag het hy by minstens een geleentheid oor die kragdraad gevlieg toe hy ingekom het om te land nadat hy valskermspringers die lug ingeneem het om te spring.
Nogtans was die hof van mening dat dit eintlik die Munisipaliteit van Oudtshoorn se nalatigheid was wat die werklike oorsaak van die botsing was. Waarskuwingsligte op die punt van die kragdraad sou waarskynlik vir mnr Viviers gehelp het om hom beter in die donker te oriënteer terwyl hy die aanloopbaan genader het. Die Munisipaliteit van Oudtshoorn is gevolglik beveel om skadevergoeding aan die eienaar van die vliegtuig, mnr Noakes, te betaal ten bedrae van R13 850; en omdat hulle die verloorders was, is hulle ook beveel om mnr Noakes se regskoste te betaal.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

