Wellington – Prof. Gerhard van Huyssteen (43) is die jongste voorsitter wat die Taalkommissie (TK) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) in sy meer as honderdjarige bestaan gehad het, terwyl prof. Frank Hendricks (61) die eerste bruin persoon is wat in die bestuur van die TK dien. Me. Suléne Pilon (33) is die jongste vroulike sekretaris van die TK.
Tydens die onlangse sitting van dié liggaam, is Van Huyssteen (Noordwes-Universiteit) verkies as nuwe voorsitter, terwyl Hendricks (Universiteit van Wes-Kaapland) verkies is as ondervoorsitter. Pilon (Universiteit van Pretoria) is herverkies as sekretaris.
Van Huyssteen spel die verantwoordelikheid van die nuwe bestuur uit: “Dit is ons verantwoordelikheid om te help om Afrikaans slaggereed te hou in die digitale era, sonder om te vergeet van die verlede. Afrikaans het ? ryk tradisie wat sy skryf- en spelwyse betref, en ons bou voort op dié tradisie. Intussen gebruik ons nuwe tegnologieë en metodes om te sorg dat Afrikaans klink en blink.”
Die TK is tans besig met die opstel van ? ambisieuse projek wat fokus op Afrikaans as digitale taal. Die te stigte Virtuele Instituut van Afrikaans (vivA!) wil onder andere ? mobiele, aanlyn weergawe van die AWS tot beskikking van alle gebruikers stel. “Leerders van Sint Lucia tot Vioolsdrif moet toegang hê tot kennis. Deur selfoontegnologie is dit moontlik, en as die TK kan help om vir hulle AWS’e op hulle selfone te gee, dan wil ons dit graag doen – liefs gratis.”
Vier nuwe TK-lede het ook die sitting in Wellington bygewoon: mee. Sophia Kapp (taalpraktisyn), Jana Luther (Pearson SA), dr. Phillip Louw (Oxford University Press) en prof. Marné Pienaar (Universiteit van Johannesburg). Drs. Frikkie Lombard (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) en Herman Beyer (Universiteit van Namibië) is die ander twee lede van die TK.
Van Huyssteen: “Daar bestaan dalk ? onregverdige persepsie dat die TK stoffig en uitgediend is. Niks is verder van die waarheid nie: oor die afgelope klomp jare dink die TK nuut, oor (lands)grense heen, die toekoms in. En dis die pad wat hierdie TK ook met ywer sal loop, om relevant te bly vir alle sprekers van Afrikaans.”
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

