Uittreksel uit Speels deur Elle Roux

  • 3
Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.


Die voyeur, die wildekalkoeneier en die dwergtolletjie

(uittreksel uit Speels deur Elle Roux)

Ek lê ongemaklik gepose op die chaise longue in die hoek van my slaapkamer, lang swart hare oor my regterskouer gedrapeer. Al wat ek aan het, is ’n koningsblou thong met satynvalletjies oor die heupe, en agter my staan my ywerige en getroue sekretaresse, Lorraine, met haar kamera.

“Net so, Elle, net so! Moenie roer nie!”

Ons neem foto’s vir ’n nuwe advertensie wat ek op Gumtree wil sit – my derde en laaste advertensie. Hierdie keer geen pieperige familiekierietjies soos Michael s’n nie, ook nie groentjies soos Gert of fiasko’s met mans soos Cornel vir mý nie! Die woorde wat saam met my sexy foto gaan verskyn, is net reg gekies. Eksplisiet spel dit uit: “Attractive single lady wanting to meet a new friend, unattached gentleman, 40-50, to spend quality time together. Perhaps a friend-with-benefits, provided you are well endowed and an excellent lover.”

Ek kyk na die rits foto's waarvan ek moet kies, almal van agter geneem, nes ek dit wou gehad het. Dié oopkop-sekretaresse van my verstaan volsinne wanneer ek net halwe woorde praat. Toe ek haar vertel van my plan om ’n shag buddy te kry, het sy my aangespoor: “Ja! Dis die regte ding vir jou, Elle. Jy's deesdae so besig, jy's amper nooit meer hier nie. Maar,” het sy meteens nugter gehuiwer, “is jy nie bang vir siektes nie?”

“Nee wat, glad nie. Ek sorg dat ek voor die tyd uitvind wat ’n ou se status is. Die manne moet my eers hulle hele pedigree gee voor daar sprake is van ’n ontmoeting.”

“So ken ek jou, altyd ’n paar treë voor! Nou maar dan moet jy met niks minder tevrede wees as die volmaakte pasmaat nie. En seks uit die boonste rakke!”

“Die foto’s is perfek, dankie, Lorraine,” verander ek die onderwerp. “Kies jy maar die beste een en laai dit op my laptop, asseblief.”

“Jy moet ’n slag speed dating ook probeer,” raai my voortvarende regterhand aan.

“Wat op aarde is dit? ’n Halfuur-date? ’n Uur-date?”

“Nee, Elle, jong. Hulle doen dit by ’n restaurant in die stad. Daar kom ewe veel mans as vrouens bymekaar en dan laat hulle die vrouens elkeen by ’n tafel sit. Die mans roteer en neem beurte om nét vyf minute by elke vrou te sit en gesels, net genoeg tyd om te sien of hulle kliek. As twee van mekaar hou, ruil hulle foonnommers uit, of hulle besluit om te bly en agterna saam te eet, of so.”

Dis ’n ordentlike plek met ordentlike mense, het Lorraine belowe. Maar dié manier van ontmoet het my ’n gevoel van ’n beesveiling gegee. Ek sou nie so in lewende lywe op skou wou sit nie, dankie. Daarom het ek my advertensie Gumtree toe gestuur, vasgebyt en vasberade gewag.

Die reaksie op my nuwe advertensie was weer soos ’n wolkbreuk en ek het ure nodig gehad om alles deur te gaan. Uiteindelik het ek vyf name gekies wat belowend gelyk het. Daarna was dit ’n hele paar weke van nader kennis maak oor Skype, per e-pos of telefoon voor ek ’n afspraak met die eerste een gemaak het.

Ek het Nico na my huis genooi nadat ek hom redelik goed op Skype leer ken het, eers net as ’n baie aangename ou, later as ’n man op wie ek heel waarskynlik verlief kon raak – iets wat natuurlik glad nie by my planne ingepas het nie. Maar hy was goeie geselskap. Hy het nie net oor homself gepraat nie, hy het ook opreg belanggestel in wat in my lewe gebeur. Hoe langer ons gesels het, hoe harder moes ek myself keer om nie méér te voel as net platoniese belangstelling nie.

Nico was ’n geskeide man met ‘n tienderdogter; ‘n fotograaf wat gespesialiseer het in mooi meisies, veral vir die voorblaaie van tydskrifte. En tussendeur het hy ook geskilder. Op die foto’s wat hy aangestuur het, het hy baie aantreklik gelyk: fluweelbruin oë, ligbruin, effens krullerige hare en ’n sterk vierkantige ken.

In die tyd voor hy na my huis toe gekom het, het Nico elke nou en dan SMS’e gestuur wat mettertyd al hoe meer suggestief geraak het. Soms het dit ook gebeur dat hy net ná so ’n SMS gebel het, altyd ietwat uitasem. Hy het nou pas aan my gedink, het hy dan gesê.

Toe ek uiteindelik so ver gekom het om hom oor te nooi (die eerste internet-man wat ek na my huis toe laat kom het!), het hy voorgestel dat hy Donderdagoggend oorry. Hy’t geglo smôrens vroeg is nét die tyd vir prima seks.

Om my vir dié besoek voor te berei, het ek wéér alles gedoen: my naels, hande en voete. Ek het my American waxing laat optouch en my lyf van bo tot onder beroom. Tot my hakskene was so glad soos bababoudjies. Die hare – o, dié is spesiaal behandel met ’n salon treatment.

Vir agtergrondmusiek het ek ‘n nuwe playlist op my iPod gemaak: Sensual love songs. Daarna het ek deur die versameling in my hangkas gekyk: verskillende stelletjies bra’s met bypassende panties en négligés, die fynste kamerjassies van kant en satyn en fluweel – elk aan ’n hanger – en onderin die kas my hoëhak-slippertjies: een paar met pompoms, een met donsvere, een met lintjies versier. Met dié fyn goedjies aan het ek my verbeel ek is Sharon Stone of Scarlett Johanssen, so vroulik, so begeerlik mooi.

Maar my senuwees was vodde, want nou sou ek die ding doen wat ek nog nooit tevore gedoen het nie, al het ek lankal daarna gehunker. Woensdagnag het ek nie ’n oog toegemaak nie.

Die Donderdagoggend in Julie is dit bitterlik koud en dit sous. Teen halfses is ek só senuweeagtig en uitgeput van nie slaap nie dat ’n verskriklike hoofpyn my beetpak. Vertel dit nou vir ’n man, dink ek, veral een wat van ver af gery kom! Ek beter vinnig regkom. Ek skakel my iPod aan. “Sex on fire” van Kings of Leon is nét die song om my op te kikker.

Kort voor sesuur hoor ek die kar stilhou. Daar is ’n klop aan die deur en op die maat van Marvin Gaye se “Let’s get it on” trippel ek op hoë hakkies in my wynrooi satyn en ’n walm Opium-parfuum die gang af. Ek maak oop ...

OMG! Daar staan ’n papnatgereënde, bedremmelde hoender in ’n swart sweetpak, hande in die sakke en ’n hoodie oor die kop. Ek kan glad nie sy gesig sien nie. “Ek hoop jy het koffie, Elle, ek vrek van die koue!” Hy sien nie eers my optooisels raak nie.

Dis asof my lugkasteel heeltemal inmekaartuimel. Koffie!? Ek het heelnag ’n prentjie in my kop gehad, ’n fantasie van die man wat my vasdruk en passionately soen, my klere van my lyf afruk, my optel, bed toe dra ... Dis tog ’n seks-date wat ons het!

Ons stap in stilte die lang gang af kombuis toe. Ek sit die ketel aan en draai na Nico. Ja, hy is, soos op sy foto’s, mooier as ’n mens – hoodie en al. Maar hy kyk meer na die seuns se ou graffiti teen die muur as na my.

“Ek’s nou terug,” maak ek verskoning en gaan trek vir my ’n dik kamerjas en wolpantoffels aan.

Toe ek terugkom, wag hy by die kombuistafel, en daar sit ons vir die volgende halfuur en gesels met koffie en beskuit. Nico praat land en sand. Oor ’n rots wat met die reënweer by die bergpas afgerol het, oor die IT-kursus wat hy volg en die toets waarvoor hy die middag nog moet gaan leer. Oor koeitjies en kalfies. Ek sien hoe die horlosie teen die muur aantik.

“Ag nee, ek sit en bibber hier in die koue kombuis,” sê ek ná nog tien uurlange minute. “Jy kan maar hier bly en nog koffie drink as jy wil, maar ek gaan terug bed toe.”

Nico sit sy koffiebeker neer en sê hy wil net gou iets in die kar gaan haal.

In my slaapkamer rangskik ek my mooi tussen die kussings en die silwerskoon linne, romanties met die swaar gordyne toegetrek, wierook en kerse wat brand, ’n dowwe lampie langs die bed.

Toe ek weer sien, staan Nico in die kamerdeur. Hy voel-voel teen die muur en skakel die helder hooflig aan. Wat de ... Soos Dowwe Dolla sonder ’n lolliepop kyk ek hoe hy ’n driepoot by die voetenent van die bed neersit. Hy skroef ’n kamera daarop vas en kyk dan vol verwagting op.

“Reg! Waar’s die sex toys waarvan jy gepraat het, Elle?”

“Sex toys, Nico?” vra Dowwe Dolla.

“Ja! Kyk, as jy hulle by jou het en jy speel so met jouself, dan kan ek mos ’n fantastiese video maak!”

Onwillekeurig knyp ek my bene toe en trek die duvet met albei hande tot bo teen my ken. “Wat bedoel jy, ’n video? Jy’s seker nie ernstig nie.” Ek hoor hoe my stem harder word.

“Moenie skaam wees nie. Jy sal sien, dis nou wat mens eroties noem.” Nico is steeds doenig met sy kamera.

“Ek speel nie in ’n porn movie nie!” sê ek, nog harder. “Daar’s nie ’n kat se kans nie. Nee, dít doen ek nié!”

Nico kom nader en pluk-pluk aan die duvet, maar ek klou. Dan gaan skakel hy die groot lig af en kom lê langs my op die bed. “Asseblief, Elle, moet nou nie so wees nie, kyk net hoe mooi lyk jy,” flikflooi hy en streel oor my skouer.

Ek draai my rug na hom toe. Hy sit sy arms om my en soen my agter my oor, maar ek lê doodstil, verroer nie ’n spiertjie nie. Hy soen saggies oor my skouers, my rug. Nico praat nie meer oor die video nie, hy hou my knus vas. Ek voel die hitte van sy lyf teen myne.

Miskien gaan hier tog iets gebeur, dink ek soos ek omdraai na hom toe. Ons kyk in mekaar se oë terwyl hy oor my gesig en hare streel en ek begin ontdooi. Ek voel ek wil meer hê. Hy is tog die man vir wie ek gewag het, die oomblik waarna ek uitgesien het. Maar skielik sit hy penregop op die bed.

“Dit gaan nie werk nie!” Hy druk sy vuiste teen sy wange. “Jy sien, ek kán nie anders nie. Ek bedoel, die feit is ek móét kyk hoe jy met jouself – jy weet wat ek bedoel? – speel. Ek wil jou afneem, en dan kan ek dieselfde doen ... met myself, verstaan jy?”

Ek verstaan nou alte goed. Nico kan nie eers direk na my kyk nie, hy moet deur ’n kameralens perv. Onthuts skiet ek ook penorent. “Ek is jammer, Nico, nee! Ek gaan dit nie doen nie!”

“Asseblief, Elle, net hierdie een keer? Ek kán dit nie anders doen nie!” Nou hamer hy met sy vuiste teen sy bobene. “Jy verstaan nie! Ek doen dit die hele tyd alleen, die hele tyd, elke dag, tien keer per dag!”

Ontnugtering sink soos ’n klip in my. Dit klink of die man totally over-sexed is en dalk ook ’n dopamien-junkie! Ek wens ek kan hom help. “Kom, kom lê weer hier langs my,” paai ek. “Probeer net. Vir al wat jy weet is dit heerlik.”

“Jy luister nie!” Hy skuif verder van my af weg. “Ek sê mos, ek kán nie. Buitendien, jy sal nie die geduld hê nie. Dit vat lank om ... om styf te word. Al neem ek ’n sexy video. Al is dit alles nes ek dit wil hê, dit vat lank ...”

Ek het niks om vir Nico te sê nie. Ek wil nie verder praat nie. “Sterk koffie. Dis wat ek nou nodig het,” sê ek, nie onvriendelik nie, en staan op. Bliksem! As ek whisky in die huis gehad het, het ek hierdie dag met ’n dubbel begin!

Terwyl ek wag vir die ketel om te kook, hoor ek Nico in die gang. Ek hoor die voordeur oop- en toegaan. Ek het gewag dat hy darem kom groet, maar hy het nie. En dít is vir my amper die slegste van die hele ervaring.

Twee dae lank het Nico in my gedagtes bly spook. So ná aan die een vir my, so hittete of ek was malverlief. As dit net nie vir die driepoot en videokamera was nie. Ek het so baie van sy persoonlikheid gehou dat ek gewens het ek kon hom help met sy issues. Of moes ek eerder dankbaar gewees het dat daar niks van gekom het nie?

Saterdagoggend, alleen by die huis, het ek positiewe moed met moeite bymekaargeskraap. Vasbyt, Elle, vasbyt. Ek het na die name van die mans wat ek ná my laaste advertensie stadigaan leer ken het gekyk. Ek gaan een van hulle kontak, het ek besluit. Nico was glattendal te veel in my kop.

Ben was die naaste, op ’n dorp so 60 kilometer van my af. Ek het hom onmiddellik gebel en gevra of hy lus was om deur te kom om my te sien.

“Alte seker!” het Ben gesê. “Gee my ’n halfuur, dan is ek by jou!”

Ek het vinnig gestort en maak my lippe rooi gemaak – nie die volle make-up-katoetie nie. Op die voorstoep het die potplante water nodig gehad en in die kombuis het ek ’n paar bekers en borde uitgespoel.

‘n Motor stop buite en ek kyk gou by die venster uit. Dit kan net Ben wees. Maar dan moet ek my oë ’n hele paar keer knip: Wat ek sien, is ’n oupagrootjie wat sukkel om uit ’n ou, vaal bakkie te klim.

Ek wil nie die deur oopmaak nie. Ek wil niks meer met énige man te doen hê nie. Ek staan net. En hy hou aan met klop. Skielik is ek baie bly ek lyk nie op my beste nie.

“Hallo, oom, is oom se naam Ben?” vra ek hoopvol toe ek dapper genoeg voel om vir hom oop te maak. Dit kan tog nie wees nie!

“Ben Cloete, ja! Môre, môre. Mensig, maar jy’s ’n mooi aster!”

Vanoggend se moed verdwyn soos die spreekwoordelike mis voor die son en ek probeer hard om vriendelik te bly. “Kom maar in, oom.”

Hy moet doof wees, want hy reageer glad nie op die “oom” nie. Ons stap met die gang af en ek hoor ’n snaakse klank agter my. Die ouman kug-kug en hy is aan die vryf. Dit vryf so ál by die gulp verby. Dan ruk hy homself so ’n bietjie regop, en weer kom die snaakse klank: “Hhhhmmmmm! Hhhmm! Hhhhhmmmm!” Baie soos ’n engine wat wil start.

Ek maak hom in die sitkamer sit. “Net ’n minuut, oom. Ek gaan maak vir ons tee. Engels of rooibos?”

“Dit sal vorentoe smaak, nonna!” Hy is definitief hardhorend. In die kombuis gryp ek die kookbrandewyn wat langs die stoof staan en vat ’n sluk uit die bottel. Nie dat dié Dutch courage sal help nie. Kan ’n mens wragtag nog so hups wees op daardie ouderdom, met die vrywery aan die gulp?

Met die rooibostee op die tafeltjie tussen ons begin ek, uit hoflikheid: “Hoe lank bly oom-hulle al op die dorp hier langsaan?”

“Ag, nonnatjie, dis al jarre. Van ek afgetree is. Maar ek doen nog deeltydse werk, hoor! Moenie vir my verkeerd kyk nie!” Hy wil sommer dadelik tot die punt kom, hy wil vertel hoekom hy so vinnig na my toe gery het. “Poplap, dis omdat dit Saterdag is. Kyk, ek en my vrou Lettie, ons is nou eintlik gewoond Saterdae is ... dis nou ons dag.”

“Oom-hulle se dag?”

“Ja, poppie. Jy weet, almal het maar hulle gewoontetjies. Ons gewoonte is Saterdae saam met nog een ...” Die oom haak vas, vryf ’n slag oor die gulp en gee weer ’n “Hhhhmmmmm! Hhhmm!”

“Saam met nog een, oom?” Ek glo nie ek verstaan reg nie. Nee, dit kan nie wees nie!

“Ja, élke Saterdag, klokslag. Maar nou’s ons in die knyp, jy sien. Die vroutjie wat altyd sáám met ons gevry het, dié het getrek. Dis hoekom ek nou kom kyk het ... Nonna, ek het kom kyk of jy sal inpas. Ja. Of jy nou die regte een sal wees vir my en my vrou.”

Holy Moses! Wees stil, my swak hart. Maar die oom is nie klaar nie. Hy bekyk my lank, met doodse erns. Op en af kyk hy. “Ja, ek moet jou eerlik sê, jy is baie mooier as wat daardie vroutjie was. Nee, ek kan sommer sien jy’s reg.” Hy gee die gulp ’n flinke vryf. “Jy gaan inpas, pop. Ek waarborg jou, jy gaan baie gelukkig wees by ons!” Sy beplooide gesig straal behoorlik en hy vryf sy wye snor plat met die agterkant van sy hand.

Ek wil klaarspeel met dié storie. “Weet jy, oom, ek het regtig ’n enkel, ongetroude man gesoek, ek het nie vir ’n couple gesoek nie.” Ek het nie krag hiervoor nie, ek wens hy wil nou net gaan. Asseblief! Ek staan solank op.

“Nee maar, ounooi, jy gaan dit verskriklik geniet! Jy het geen idee hoe lekker jy by ons gaan kuier nie. Naweke kan jy sommer kom oorbly, dan begin ons al Vrydagmiddag. Tot Sondagaand, dwarsdeur! En daar’s ’n bonus! Hhhhmmmmm! Hhhmm! My vrou is ’n bobaas kok, pop! Sondae gaan jy skaapboud eet, trifle vir poeding, Hertzoggies saam met die koffie. Jy kan bekostig om ’n paar pondjies by te sit, ek kyk jou so!”

Ek bly staan; dan skuifel ek in die rigting van die deur. Maar nou raak die oom braaf, met ’n breë perdeglimlag.

“Daar wag ’n verrassing vir jou, pop! Jy’t nog nie vir Petrus gesien nie!” Die hand is weer by die gulp besig. En hy raak nog brawer: “Man, ek is nou so warm, ek wys hom sommer vir jou!”

Die oom beur op uit die stoel en in dieselfde beweging trek hy sy zip af. En daar hang Petrus. Die ene kolle, soos ’n wildekalkoeneier. Bruin, pienk, ’n bietjie wit. ’n Slap, gevlekte affêre.

“Asseblief, oom, trek op daai zip! En ek dink oom moet regtig nou gaan!” Ek gryp hom aan die arm en hy “Hhhhmmmmm! Hhhmm!” die hele end met die gang af tot by die voordeur.

Skaars het ek die Yale lock behoorlik op knip, of daar is weer ’n klop aan die deur.

“Kry jou ry, oom, ry!”

Toe die oom se bakkie om die hoek verdwyn, dink ek: Dit was so afgryslik, hoe gaan ek dit ooit uit my kop kry? Slap chips en Russians! O fok, net nie ’n Russian nie! Spare ribs.

Op pad terug van die take-away-winkel het my selfoon op die sitplek langs my gelui. My kieste het bol gestaan van die chips, maar ek het die foon met ’n olierige hand gegryp en geantwoord. “Mmmm, Elle Roux ...Wie? Kan nie hoor nie?”

“Dis Theuns. Ek bel hier uit die Karoo. Ek’s op pad stad toe, ek ry so sesuur se kant daar by jou dorp verby.”

Theuns was een van die mans op my kortlys. ’n Boerseun, ’n charismatiese, gawe man, omtrent tien jaar jonger as ek. Danksy die internet en telefoon het ek hom al ’n hele paar weke lank geken.

“O? Theuns, hallo!” Jippee! Dalk was hy nét die een om my te laat vergeet van die kalkoeneier. En van Nico. “Nou maar kom stop by my! Ons kan saam iets eet.”

“Dankie, dit sal lekker wees. Sal jy ’seblief jou adres vir my SMS dat ek dit in my GPS kan sit? Sien jou dan later, Elle!”

Buite het dit eenstryk deur gereën terwyl ek in die kombuis my spesiale tamatiebredie, met glühwein daarby, gemaak het. Weer het ek aan Gayle King gedink om myself moed in te praat. En aan Edison. Ek het net die oggend op die loo in my Book of Quotes gelees: “I have not failed a thousand times. I have successfully discovered how NOT to make a light bulb a thousand times!”

Tot in daardie stadium was ek moers suksesvol daarmee om nié die regte man te kies nie, maar ek het uitgesien na Theuns se geselskap. Ek gaan my nie weer opdollie nie, het ek besluit. Ek gaan net myself wees met lipstick, parfuum en skoene. Daar was ’n paar verruklike Grandt Mason-boots in die kas wat ek wou dra. En ek moes die kaggel aansteek.

Toe Theuns aan die deur klop, is die huis warm en gesellig en die iPod op random. Ek maak oop en daar staan ’n aantreklike, lang man in ’n bruin corduroy-broek en -baadjie, baie jonk maar met ’n innemende glimlag.

“Jis, die pad was lank,” is sy eerste woorde en hy groet my met ’n klapsoen op die mond.

“Lekker om jou te sien, Theuns. Kom in, daar’s ’n vuur in die kaggel.”

Bella kom stertswaaiend die gang af en ruik aan Theuns se skoene, sy broek, sy hande. Hy laat haar teen hom opspring en gesels met “oubaas se honne”.

“O, maar sy’s ’n mooi hond,” sê Theuns. “Ek het ’n kelpie op die plaas, hy doen sommer drie manne se werk met die skape. Maar ek moet eintlik ’n groter hond ook hê vir die werf. ’n Boerboel soos dié is net reg. Teel jy met haar?”

“Nee, ek teel lankal nie meer nie,” skerts ek.

In die sitkamer kies hy die leunstoel naaste aan die kaggel. “Jy gee nie om nie, nè, Elle?” vra hy en trek sy skoene uit.

“O glad nie, ek laat waai sommer my boots ook,” flirt ek, maar hy kom dit nie agter nie.

Met ’n glas warm speserywyn in die hand begin Theuns vertel van die diere op sy plaas. “Ek boer saam met my pa met dorpers en angorabokke,” vertel hy. “My ma is ook daar. Sy werk met die sybokhaar, sy’t ’n groot wewery. Sy en die plaaswerkers se vrouens maak komberse en truie en allerhande dinge wat sy by feeste gaan verkoop. Maar ek is baie vas op die plaas, jy weet, ek het al gedink om op Boer soek ’n vrou te gaan.”

Ek geniet dit om hom dop te hou. So ’n opregte, skoon jong man. Nie naastenby so aantreklik soos Nico nie, maar ek stop myself summier: Moenie vergelyk nie! Ek wonder net of hy nie dalk ’n mamma se seuntjie is nie: Die corduroy-pakkie lyk of net ’n ma dit sou koop.

Ná nog ’n glas wyn stel ek voor ons gaan kry iets om te eet, en toe Theuns in die kombuis langs my kom staan, sien ek eers hoe lank hy werklik is. En dat hy ’n gesonde blos op sy wange het, ’n paar sproete oor die neus en perfekte Colgate-tande. Ek skep vir ons goeie porsies tamatiebredie en rys en ons gaan terug kaggel toe, waar ek op die gemaklike diep rusbank gaan sit.

Ons eet en Theuns gesels: dié keer oor sy pa se dorpers, die aanbouings by die krale, die diefstal van die boumateriaal, veediewe, probleme met arbeiders, die prys van diesel. Hy is op sy stukke. Ek leun in die rusbank terug en dink: My kennis van boerdery brei baie uit, maar my seksuele ervaring bly by ’n ronde zero!

Nadat Theuns ons leë borde kombuis toe geneem het – mooi geleer! – mik hy weer vir die leunstoel, maar ek wys na die sitplek langs my op die bank. “Wag, Theuns, kom sit hier langs my ... ” Toe hy sit, vra ek in my geoefende sexy, hees stem: “Nou sê vir my, behalwe al die werk en die boerdery op die plaas, soen jy darem ook?”

“Jy vra nog!” antwoord hy en sit sy arms om my. En hy soen my nét soos in How to French Kiss wat ek op die internet opgeswot het. Hy hou aan met soen. Eers sag, al om die lippe, toe dringender, vól, vurige soene. Oe, dis heerlik. Terwyl hy my soen, wonder ek skielik: Wil ek rêrig ’n cougar wees? Hierdie goeie soener is darem baie jonger as ek ... Maar as Demi Moore dit kan doen, wie’s ek om nou briek aan te draai?

Hy trek my nader en ek voel die elektrisiteit tussen ons. “Te veel klere,” fluister hy en trek my polonektrui op, woeps oor my kop. Gelukkig het ek ’n kant-push-up-bra aan en die twee girls lyk nie te sleg nie. Hy neem my borste in sy hande en soen die rondings en die cleavage. Dan is dit weer vol op my lippe.

“Trek jou baadjie uit,” sê ek en terwyl hy uittrek, maak ek sy check-hemp se knope los. Hy het ’n deliciously hard body. Hy trek my aan my arms regop en begin my langbroek losknoop sodat dit om my enkels val. Of hy my lemoenskilselluliet in die lig van die vlamme raaksien, pla my net vir ’n sekonde.

Bella bly lê gelukkig voor die vuur toe ons slaapkamer toe beweeg. Die enigste lig wat daar brand is die leeslampie langs die groot dubbelbed, waar Theuns my so vurig soen dat ek vanself teen die opgestapelde kussings neersak met hom bo-oor my.

Ek wil nie keer nie. Hy wikkel sy hande onder my rug in, maak my bra agter los en skuif dit weg. Dan my panty, vandag sommer ’n gewone Woollies-hipster. En daar lê ek, kaal op die naat van my rug. Flippit, hoe lyk dit vir hom? Wat van my bobene? My maag? My floppy boobs?

Ek wil my geoefende geluide van genot uitprobeer, maar Theuns is tjoepstil. Nie ’n enkele lekkerkryklankie van sy kant af nie. Die stilte is oorverdowend. Ek wens ek het die iPod harder gestel, want my snakke weerklink asof ek die leading lady in ’n Danielle Steel hygroman is.

Die jongman streel met sy vingerpunte teen my bene op, oor my heupe, my borste. Sy tong terg my nipples en hy begin vroetel met sy belt en ritssluiter. Hy staan op en wikkel hom blitsig uit die corduroy-broek en sy Jockey. En daar staan die fris boerklong met ’n dwergie tussen sy bene. Skaars ’n pinkie groot!

Hy kom lê bo-op my, sy bene tussen myne, en ek dink: ’n Pinkie? ’n Pinkie kán nie! Die arme ou! Maar dalk is dit nie te sleg nie, dalk is dit waar dat dit nie die grootte is wat tel nie, maar wat hy daarmee dóén. Ek voel die drukking van sy voëltjie tussen my bene, waar hy op en af beweeg, op en af. En skielik kreun hy amper onhoorbaar en buig agteroor. Ek voel ’n nattigheid teen my bobeen.

“O, Elle! O, Elle!” hoor ek hom mompel. En Theuns sak op my neer, klam van die sweet. Dan rol hy stadig van my af en ek lê verbyster en staar na die plafon.

Is dit al? Twee minute? Is dit waaragtig al?

Hy cuddle teen my, druk my styf vas, soen my kroontjie, my hals. En dan trek hy die duvet oor ons.

Toe Theuns die Sondagoggend in sy Toyota double cab wegry, het ek jammer gevoel dat so ’n mooie jongeling aan skietverdriet ly. Hy was beslis fabulous met foreplay en afterplay. Dalk moes ek hom as lover neem, al was hy so stil soos die ruiter in die nag. Die groot probleem was sy tools en hoe lank hulle gehou het. Miskien kon ’n mens ’n plan maak.

Ek het heerlik saam met hom geslaap. Hy het my heelnag vasgehou, vroegoggend grappies gemaak en voetjie-voetjie gespeel. Ja, ek het lekkerder saam met hom in die bed gelê as met enigiemand anders. En ek het daarna uitgesien dat hy weer kom kuier.

 


 

Het jy geniet wat jy gelees het? Daar is meer! Bestel Elle Roux se Speels nou op kalahari.com.

Titel: Speels
Skrywer: Elle Roux
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781920654238

Uiteindelik! ’n Boek waarmee almal wat ’n speelmaat op die internet soek – vir liefde of vir seks – kan identifiseer.

Elle Roux se Speels, my ompad na die liefde het pas by Naledi (www.naledibooks.co.za) verskyn. Dié debuutroman oor die ervarings van ’n veertigplusser wat die internet inspan om ’n seksmaat op die lyf te loop, beloof om lesers regop te laat sit.

Dit is selde dat daar in Afrikaans so eerlik, indringend en guitig gekyk word na ’n onderwerp waaroor mense nog dikwels agter hul hande fluister. Al die seksuele avonture wat in Speels beskryf word, is gegrond op ware gebeure.

Speels vertel die verhaal van Elle Roux wat reeds so lank geskei is dat sy amper vergeet hoe dit voel as 'n man aan haar raak. Maar wanneer sy daardie vryheid begin opsoek wat verliefdheid en seerkry uitsluit, span sy die kuberruim in in haar soektog na 'n speelmaat – 'n seksmaat. Die gevolge wissel van skreeusnaaks tot knop-in-die-keel.

In Speels word die mees intieme geheime ontbloot op ’n manier wat min vroue ooit sal waag. Wees gewaarsku: Elle vertel alles.

Die bekende skrywer en oud-uitgewer Kerneels Breytenbach sê: “Elle Roux ken die verskil tussen liefde en seks. Geïnspireer deur 'n oopkop dominee word sy 'n entoesiastiese student aan die universiteit van sensualiteit. Sy slaag met hoogste lof in die kursus vir mans ontmoet via moderne kommunikasiemiddels. Ná hierdie spulse lewenskursus is sy wys en leer sy ons die groot les van die sensuele vrou se lewe: Sorg dat jy weet wat jy wil hê – regtig wil hê.”

Engemi Ferreira is ewe opgewonde oor Speels: “In hierdie biegroman is geen Martie Martelgat aan die kerm nie, eerder Lenie Lekkerkry wat alles blootlê wat sy as innoverende moderne enkelvrou waag. Sy deel ook haar dieper insigte.”

’n Interessante verskeidenheid karakters maak hul verskyning in Speels, en die seksuele avonture wat hulle saam met Elle onderneem, verken die uiterste hoeke en holtes van lyf en verbeelding.

Speels is beskikbaar by alle goeie boekhandelaars en op kalahari.com.

  • 3

Kommentaar

  • Elle, ek het dit baie geniet! Ek hou van die beskrywings van die karakters en die gepaardgaande humor. Ek gaan beslis die boek vir my vrou kry as geskenk (wat ek dan gaan lees)

     
    Groetnis.
  • “Speels” is die eerste boek sedert Marita van der Vyver se “Griet skryf ‘n sprokie” wat my so ‘n unieke kykie in die kop en hart van ‘n geskeide vrou gegee het. Hoe moeilik en vreemd dit kan wees om na jare se getroude lewe weer die “dating game” te speel.

    In ’n tyd waar sosiale media deel van mens se daaglikse lewe is, het Internet dating dié manier geword om ’n moontlike maat te ontmoet. Baie vrouens, myself inkluis, het ’n kuber prins of padda in hulle verlede en kan met Elle Roux en haar ondervindinge op die internet identifiseer – saam laat lag en soms huil.

    “Speels” het my eindelose leesgenot verskaf en is tans die onderwerp van vele “girls nights”.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top