Skielike noodtoestand

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Op 'n dag in 1976 het 'n sekere mnr. Winn in sy Ford Capri-motorkar in 'n straat in Wynberg in die Kaap gery toe 'n Mercedes Benz-motor wat vanuit die teenoorgestelde rigting gekom het skielik na links en toe skerp na regs geswaai het.  Mnr. Winn het op sy beurt sy Capri se stuurwiel na links gepluk en op die sypaadjie opgejaag in 'n poging om 'n botsing met die Mercedes te vermy, maar dit was te laat.  Die Mercedes en die Capri het só hewig gebots dat die Capri totaal afgeskryf is.

Daar was 'n rede waarom die Mercedes, bestuur deur ene mnr. Samson, so wild eers links en toe regs geswaai het.  'n Paar sekondes vantevore het 'n man met 'n inkopiesak met onder meer groente daarin probeer om die pad oor te steek.  Hy het in die middel van die besige straat op die wit streep gestaan en wag vir 'n geleentheid om oor te gaan toe hy net so effens deur 'n verbygaande motor geraps is.  Dit het tot gevolg gehad dat die inkopiesak uit sy arm gestamp is en dat sy groentetjies en ander kruideniersware oor die besige straat besaai gelê het.  Hoewel dit sekerlik die man se eie skuld was om op só 'n onverskillige manier die straat te probeer oorsteek was hy, verstaanbaar, smoorkwaad.  Die bestuurder van 'n Anglia-motorvoertuig wat enkele oomblikke voor die Mercedes by die man verby gery het het gesien dat die man 'n panga uitpluk en woes daarmee na die Anglia swaai.  Die Anglia se bestuurder het skerp na links geswaai maar het daarna weer veilig reguit aangery.  En toe kom mnr. Samson met sy Mercedes op die toneel en die man slaan na die Mercedes.  Mnr. Samson het om vanselfsprekend redes groot geskrik en hewig gekoes.  Hy het in die proses na links geswaai en terselfdertyd sy kop teen sy motor se stuurwiel gestamp.  Toe het hy, in 'n poging om sy motor weer op koers te kry, oorgereageer en skerp na regs geswaai.  Terselfdertyd het sy voet van die rem afgegly en die versneller getrap.  Die res van die storie ken jy al.  Die Mercedes en mnr. Winn se Capri het mekaar daar op die sypaadjie aan mnr. Winn se kant van die pad met rampspoedige gevolge ontmoet.

Mnr. Winn, die eienaar van die afgeskryfde Capri, het daarna 'n aksie om skadevergoeding teen die bestuurder van die Mercedes, mnr. Samson ingestel.

Ten einde met sy aksie te kon slaag, moes hy bewys dat mnr. Samson nalatig was, met ander woorde dat hy onder die omstandighede nie soos 'n redelike mens opgetree het nie.  Die Landdros van Wynberg het ten gunste van mnr. Winn beslis en mnr. Samson beveel om sy skade te betaal, maar mnr. Samson het op sy beurt na die Hooggeregshof in Kaapstad geappèlleer.  Op 25 Oktober 1976 het Regters Baker en Vos hul uitspraak gelewer1.

Mnr. Samson se verweer was dat hy in 'n skielike noodsituasie opgetree het.  Iemand wat in 'n egte noodtoestand optree, het 'n verweer wat deur die reg aanvaar word.  Dit beteken dat sy optrede nie onregmatig was nie en dat hy daarom nie verplig is om die skade wat hy veroorsaak het terwyl hy in 'n noodtoestand opgetree het, te vergoed nie.  Die eienaar van die Capri se advokaat het in sy argument om die hof te oortuig dat mnr. Samson nie in 'n noodtoestand opgetree het nie, gewys na verskeie sake waar ons howe al voorheen die verweer van 'n skielike noodtoestand verwerp het.  Só, byvoorbeeld, in Staat teen Lombard2 is 'n vrou aan nalatige bestuur skuldig bevind nadat sy oor 'n stopstraat gery en met 'n ander voertuig gebots het.  Enkele sekondes voordat sy by die stopstraat gekom het is sy deur 'n by op die bal van haar oog gesteek en het sy beheer oor haar motor verloor.  In 'n soortgelyke saak, Staat teen Erwin3, was 'n man besig om met sy voertuig 'n ander voertuig verby te steek toe 'n by hom op sy wang gesteek het.  Toe hy wegruk het hy sy bril teen die ruit van sy deur stukkend gestamp en in 'n poging om te keer dat die glasstukkies sy oë beskadig het hy beheer oor sy voertuig verloor en met 'n ander motor gebots.  In albei hierdie gevalle het die hof die bestuurders se verweer van skielike noodtoestand verwerp en beslis dat die bestuurder van 'n motor aan 'n hoë standaard van vaardigheid moet voldoen en selfs onder sulke moeilike omstandighede verplig is om beheer oor sy voertuig te behou.

Wat nou van mnr. Samson wat gekoes het vir die man wat hom met die panga wou slaan?  Terloops, ek het dit nog nie genoem nie, maar die panga het inderdaad mnr. Samson se voertuig op die pilaar tussen die voor- en agterdeure getref.  Mnr. Samson se skokreaksie was dus nie 'n óórreaksie nie.  Regters Baker en Vos was tevrede dat mnr. Samson se geval 'n klassieke voorbeeld is van 'n skielike en onverwagse noodtoestand.  Sy optrede moes gemeet word aan dié van 'n redelike mens onder soortgelyke omstandighede.  Die Regters het beslis dat, anders as in die geval van mense wat deur bye gesteek is terwyl hulle gery het, daar 'n besliste en ernstige bedreiging vir mnr. Samson se lewe was toe die panga-man so wild met sy wapen in mnr. Samson se rigting geswaai het.  Sy optrede was dus, volgens die Regters, nie nalatig nie, met ander woorde dit het nie afgewyk van die standaard van die redelike mens nie en die Regters was tevrede dat mnr. Samson se appèl teen die Landdros se uitspraak moes slaag en dat hy nie aanspreeklik was om mnr. Winn se skade te vergoed nie.

1 SAMSON v WINN  1977(1) SA 761 (CPD)

2 1964(4) SA 346 (T)

3 1974(3) SA 438 (C)

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top