In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
'n Apteker van Durban – ene mnr Abed Kahn – het R30 000 nodig gehad. Hy het by ‘n sekere mnr Naidoo om hulp gaan aanklop en mnr Naidoo het ingewillig om vir hom die bedrag vir ses maande te leen. Die geld moes teen November 1983 terugbetaal word.
Omdat mnr Naidoo aan mnr Kahn se kredietwaardigheid getwyfel het, het hy hom nie alleen 'n skulderkenning laat onderteken nie, maar daarop aangedring dat mnr Kahn se bejaarde moeder, Bee-Bee Zubad Kahn, vir haar seun borgstaan. Die borgakte het soos volg gelees (ek vertaal uit die Engels): "Ek, die ondergetekende, Bee-Bee Zubad Kahn, erken hiermee en verklaar dat ek die bogenoemde skulderkenning gelees het en ek verbind my hiermee as borg en medehoofskuldenaar onderhewig aan al die bepalings en voorwaardes van die skulderkenning." Onder die borgakte het sy haar naam geskryf.
Toe die einde van November 1983 aanbreek, was mev Kahn se seun Abed kniediep in die moeilikheid en nie in staat om mnr Naidoo se R30 000 aan hom terug te betaal nie. Sy boedel is kort daarna gesekwestreer. Mnr Naidoo het toe 'n eis teen mev Kahn ingestel vir betaling van die R30 000 plus rente, op grond van die borgakte wat sy onderteken het.
Mev Kahn het die saak verdedig en aangevoer dat sy nie Engels verstaan nie. Boonop kon sy nie lees of skryf nie en was slegs in staat om haar eie naam te teken. Sy het nie geweet dat sy 'n skulderkenning onderteken nie, omdat sy deur haar seun mislei is om te glo dat die dokument wat sy geteken het, verband gehou het met eiendom wat uit haar oorlede man se boedel aan haar getransporteer moes word.
Die hooggeregshof in Durban moes besluit of mev Kahn 'n geldige verweer teen mnr Naidoo se eis het. Die regter het daarop gewys dat as 'n mens slegs na die dokument kyk, daar geen twyfel kon wees dat mev Kahn daaraan gebonde was nie, want haar handtekening het daarop verskyn. Die las het dus op haar gerus om te bewys dat sy nie aan die dokument gebonde was nie. Nadat sy haar eie getuienis gelewer het oor hoe dit gekom het dat sy die dokument geteken het, het sy ook haar seun, Abed Kahn, as 'n getuie geroep. Hy het erken dat hy sy ma mislei het en sy flou verskoning was dat sy in elk geval nooit sou verstaan het wat die dokument beteken het as hy dit aan haar sou probeer verduidelik het nie.
Verskeie argumente is deur die advokate aan weerskante geopper en die vraag is gestel of mnr Naidoo, wat die geld voorgeskiet het, nou maar die slagoffer moes wees van mnr Abed Kahn se misleiding van sy ma. Was dit uiteindelik nie maar 'n saak tussen ma en seun nie? Met ander woorde, moes mev Kahn nie verplig word om aan mnr Naidoo die R30 000 te betaal, waarna sy dit op een of ander manier van haar bankrot seun kon terugeis nie?
Uiteindelik was die oplossing volgens regter Didcott baie eenvoudig: nêrens in haar getuienis het mev Kahn aangevoer dat sy nié as borg vir haar seun sou geteken het as sy presies geweet het wat sy teken nie. Inteendeel, alles het daarop gedui dat sy graag haar seun sou wou help. Hy was 'n geleerde mens; hy was ervare in die sakewêreld en sy het onvoorwaardelik op hom staat gemaak vir advies oor haar eie sake. Sy het byna sonder uitsondering altyd sy raad gevolg. Die regter was dus tevrede dat mev Kahn nie bewys het dat sy die dokument nié sou geteken het as sy geweet het dat dit 'n borgakte tot 'n skulderkenning was nie. Haar verweer is dus verwerp en sy is verplig om uit haar spaargeldjies R30 000 plus rente en koste aan mnr Naidoo te betaal.1
In die praktyk gebeur dit maar alte dikwels dat ouers en familielede vir hulle naasbestaandes borgstaan. Male sonder tal het dit al tot groot hartseer en selfs ernstige verwydering tussen mense wat mekaar liefhet, gelei. Die punt is dat daar sekere ekonomiese wette is. Een daarvan is dat as 'n bank nie vir iemand geld wil leen nie en daarop aandring dat iemand anders moet borgstaan, die bank dan normaalweg 'n goeie rede vir sy besluit het, en dié besluit is eenvoudig: die lener is 'n risiko, en as hy vir die bank 'n risiko is, is hy ook vir sy borg 'n risiko.
Gaan lees gerus maar weer Spreuke 22:26 en 27 waar die wyse Salomo gesê het: "Moenie een van dié wees wat borgstaan nie, moenie instaan vir ander se skulde nie: Waarom moet hulle selfs jou bed onder jou uitvat as jy nie kan betaal nie?"
1 Kahn v Naidoo 1989(3) SA 724 (NPD)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

