Nuwe kinderboeke by NB-Uitgewers

  • 0

Trompie Omnibus 1
Topsy Smith
ISBN: 9780798163934 
Prys: R99.95

In hierdie omnibus, wat die eerste drie boeke van die gewilde Trompie-reeks bevat, ontmoet ons vir Trompie, die elfjarige sproetgesig Grootkaptein van die Boksombende. Hy en sy vriende Rooie, Blikkies en klein Dawie maak die lewe interessant (en soms taamlik moeilik!) vir die inwoners van hul tuisdorp, Kwaggaberg.

Hul avontuur met die dominee se bobbejaan ruk handuit en Trompie se poging om vir sy suster Anna ’n kêrel te kry, loop lelik skeef. Trompie wil ook baie graag ’n hond hê en het sy oog op ’n basterbrak genaamd Boesman. In Trompie die stouterd trek Trompie vir die nuwe seun wat al die onderwysers se witbroodjie is, ’n lelike streep. In Trompie die soet seun besluit Trompie hy is moeg daarvoor om altyd in almal se slegte boekies te wees. Die Boksombende se Grootkaptein kondig aan dat dit tyd geword het om goeie dade te doen, maar dis glad nie so maklik soos wat dit klink nie!

Die ondeunde Trompie het ’n sjarme wat tot oud en jonk spreek en nuwe lesers sal dadelik deur Trompie en die Boksombende se avonture meegevoer word!

Klik hier en koop jou eksemplaar van Trompie Omnibus 1 nou van Kalahari.com!

 


Storieman Omnibus 5
Saamgestel deur Leon Rousseau
ISBN: 9780798159920 
Prys: R145

 Hierdie omnibus-uitgawe is ’n versameling van die gewildste verhale uit die bekende Storieman-reeks. Dit sluit die oorspronklike voorlesings op twee oudio-CD’s in, sodat almal heerlik saam kan lees en luister! By die huis, of in die motor ... Storieman is daar!

In hierdie uitgawe verskyn gunstelinge soos “Wikus te Goede”, “Die astrante snyertjie”, “Die standvastige bliksoldaatjie” en “Die keiser se nuwe klere.” Kom lag lekker saam met stories soos “Liewe Heksie en die Koekoekie” en “Spokie van Boosgelegen” en word betower deur sprokies soos “Elf wilde swane”, “Die tonteldoos” en “Die Groen Jonkvrou van die meer”.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Storieman Omnibus 5 nou van Kalahari.com!

 

Sisi gaan Skool toe
Wendy Hartmann/Joan Rankin

ISBN: 9780798164597
Prys: R145

Wat is die rede hoekom Sisi nie môre skool toe wil gaan nie? En hoekom het Pappa al hulle speelgoed gevat? Ontmoet weer vir Sisi in hierdie deernisvolle versameling van stories en rym, vol warmte, liefde en vriendskap.

Die vyf stories is:
Sisi gaan skool toe
Sisi se fluit
Pappa se verrassing
Gogo se hondjie
’n Soentjie vir jou

Pragtige, gevoelvolle illustrasies komplimenteer die spaarsamige, maar in-die-kol teks.

Afrikaanse vertaling deur Linda Rode

Ook verkrygbaar in Engels as: Sisi goes to School and other stories

Klik hier en koop jou eksemplaar van Sisi gaan Skool toe nou van Kalahari.com!

 

Saartjie Omnibus 2
Bettie Naudé
ISBN: 9780798163903 
Prys: R99.95

In hierdie omnibus, wat nóg drie gewilde Saartjie-stories bevat, word Saartjie Baumann, die langbeenmeisie met die wipneus, kuiltjies in die wange en duisende duiweltjies in haar oë, se avonture voortgesit! In Saartjie se donkie besluit sy om vir die dorp se seuns te bewys sy kan beter as enigeen van hulle donkie ry. In Saartjie se nuwe maat maak die Drie Muskiete kennis met die parmantige Gail Smith wat spog dat sy alles net so goed soos Saartjie kan! En in Saartjie se slim plan besluit Saartjie sy wil darem ook voel hoe dit is om ’n modepop te wees. Die Drie Muskiete kry haar ma se grimering beet en dan klop Galpil aan die deur. Saartjie is seker sy gaan sy voete onder hom uitslaan, maar sy reaksie is nie wat sy verwag het nie...

Saartjie het ’n sjarme wat tot oud en jonk spreek en nuwe lesers sal dadelik deur Saartjie en die Drie Muskiete se avonture meegevoer word!

Klik hier en koop jou eksemplaar van Saartjie Omnibus 2 nou van Kalahari.com!

 


My Skatkis van Stories en Rympies
Nicola Baxter
ISBN: 9780798163132
Prys: R199.95

’n Wonderlike versameling van 145 klassieke stories en
rympies vir kinders. Pragtige, kleurvolle prente illustreer
dié omvattende versameling dierestories, teddiebeerstories, geliefde sprokies, klassieke feëverhale en tradisionele kinderverse. Hier is ’n storie of ’n rympie vir elke geleentheid, vir voorlees of selflees, vir speeltyd, storietyd of
slaaptyd – hier is iets vir elkeen!

Met Afrikaans deur Leon Rousseau en sy dogter, Wiesie Rousseau, en met eg-Afrikaanse berymings, deur o.m D.J Opperman, Elizabeth van der Merwe, E.P du Plessis en Willem Versveld, van klassieke kleuterverse. .

Klik hier en koop jou eksemplaar van My Skatkis van Stories en Rympies nou van Kalahari.com!

 


In die Land van Pamperlang
Linda Rode, Johann Strauss (illus.)

ISBN: 9780798164429
Prys: R225

’n Bundel van vyf-en-twintig stories vir kleintjies van so vier tot sewe jaar. Dit bevat klassieke feëverhale soos Wolf en die drie ottepotte, Jan en die boontjierank, Die skoenmaker en die kabouters, Drie rammetjies-rof, Doringrosie, Die lelike eendjie, Gouelokkies, Aspoesterjie, e.a.

Daar is ook heerlike inheemse verhale soos O likkie, o lalie, Sipho en die ryprooi Amathungulu, Doederomandro, Die ploemserige, plomserige ding, e.a. Die stories is verwerk deur die bekende en bekroonde Linda Rode, wat as die doyenne van kinderliteratuur bekend is. Elke storie is net vyf-minute lank. Dus baie geskik vir aandstories en of beginner-lesers.

Klik hier en koop jou eksemplaar van In die Land van Pamperlang nou van Kalahari.com!

 

My beste, beste maatjie
Jeremy Daniel, Olivia Villet (ill.)
ISBN:
 9780624062899
Prys: R130

My-my is Emma se spieëlbeeld en hulle is beste, beste maatjies. In dié maklike leesboek is daar vyf stories met Emma en My-my as hoofkarakters: In die eerste storie trek die gesin uit hulle woonstel na ‘n huis toe, en in die tweede gaan Emma na haar nuwe skool toe. Sy gaan ook kamp saam met Mamma en Pappa (maar waar is My-my dan?), en tydens ’n uitstappie na ‘n pretpark loop sy My-My op ’n baie eienaardige plek raak! In die laaste verhaal ontmoet Emma uiteindelik haar eie, vlees-en-bloed beste maatjie, Yoli.

Sosialisering is ‘n baie belangrike en potensieel uitdagende vaardigheid wat kinders voor skool moet baasraak en in die grondslagfase moet oefen en versterk. Jong lesers kan saam met Emma leer hoe om maats te maak en ook hoe om meer simpatiek te wees teenoor maats wat nie so gemaklik sosialiseer nie.

Maklik geskryf sodat beginnerlesers self kan lees, maar kan ewe goed as voorleesboek werk.

Klik hier en koop jou eksemplaar van My beste, beste maatjie nou van Kalahari.com!

 

Beertjie kry 'n soen
Else Holmelund Minarik, Maurice Sendak (illus.)
ISBN: 9780798163828  
Prys: R79.95

Beertjie is seker een van die wêreld se mees sjarmante kinderboekkarakters. Die eenvoudige teks deur Else Holmelund Minarik en die evokatiewe tekeninge deur Maurice Sendak, internasionaal beroemde en bekroonde kinderboekillustreerder, skep vir die kind ’n verbeeldingswêreld waarin hy altyd tuis voel.

Al vyf titels in die Beertjie-reeks sal in ’n wye kring byval vind, aangesien dit uitstekende voorleesboeke is. Die kleuter wat die verhaal een of twee maal gehoor het, sal dit self aan die hand van die illustrasies kan volg. Dit is ook besonder geskik vir self-lees deur kinders wat pas leer lees het.

In hierdie boek stuur Beertjie vir Ouma Beer ’n prentjie. Ouma Beer hou so baie daarvan dat sy vir Hen vra om vir Beertjie ’n dankie-soen te neem. Maar Hen gee die soen vir Padda, en Padda gee die soen vir Kat . . . en so hou dit aan. Gaan Beertjie dan ooit sý soen kry?

Klik hier en koop jou eksemplaar van Beertjie kry 'n soen nou van Kalahari.com!

 

Onverklaarbaar
Else Holmelund Minarik, Maurice Sendak (illus.)
ISBN: 9780798163798 
Prys: R89.95

Beertjie is seker een van die wêreld se mees sjarmante kinderboekkarakters. Die eenvoudige teks deur Else Holmelund Minarik en die evokatiewe tekeninge deur Maurice Sendak, internasionaal beroemde en bekroonde kinderboekillustreerder, skep vir die kind ’n verbeeldingswêreld waarin hy altyd tuis voel.

Al vyf titels in die Beertjie-reeks sal in ’n wye kring byval vind, aangesien dit uitstekende voorleesboeke is. Die kleuter wat die verhaal een of twee maal gehoor het, sal dit self aan die hand van die illustrasies kan volg. Dit is ook besonder geskik vir self-lees deur kinders wat pas leer lees het.

In hierdie eerste titel in die reeks vind ons vier kort Beertjie-stories.  As dit koud is, weet Mamma Beer net watter jas sal Beertjie warm hou. Wanneer hy besluit om maan toe en terug te vlieg, het sy vir hom middagete gereed wanneer hy tuis kom. En natuurlik kry Beertjie die perfekte verrassing op sy verjaardag.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Onverklaarbaar nou van Kalahari.com!

 

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top