No Direction Home - Huldeblyk aan Bob Dylan

  • 0

Bob Dylan, of Robert Allen Zimmerman, is een van die bekendste sanger-liedjieskrywers wat die grondslag vir folk musiek gelê het.

Die plaaslike bekroonde sanger-en-liedjieskrywer Mel Botes, wat die afgelope paar jaar met sy multi-dimensionele huldeblyk-vertonings van Dire Straits en Pink Floyd  (Crazy Diamond) dwarsoor die land vol sale getrek het, troef nou weer as vervaardiger en regisseur  met ’n sensasionele vertoning No Direction Home waar Bob Dylan in die kollig geplaas word.

“Ek het gevoel daar is nog nie regtig in ons land ’n huldeblyk-vertoning van Bob Dylan wat die talentvolle liedjieskrywer gestand doen nie. Dylan het so baie  ongelooflike liedjies geskryf – waarvan baie liedjies nie eers bekend is nie. Met No Direction Home beoog ek om nie net  die Bob Dylan-aanhangers ’n ware kykie in sy lewe en musiek te gee nie, maar ook om ’n jonger geslag aan sy immergroen musiek bekend te stel,” gesels Mel oor sy breinkind.

En in pas met die jonger idioom, snoer  Mel  ook ’n groep jong talentvolle kunstenaars se talente saam in No Direction Home.  Ben van Zyl, wat die rol van Bob Dylan speel, is die hoofsanger maar speel ook die mondfluitjie en akoestiese kitaar. Pieter Smit speel die baskitaar en Johnny Lategan die elektriese kitaar. Euan Nel speel die dromme en Stephen Alken kan op klavier, saxofoon en viool gehoor word.

No Direction Home is ’n multi-dimensionele vertoning deur Storm Produktionz wat Bob Dylan se lewe en loopbaan van 1960 tot en met 1990 in die kollig plaas. Sy hoogtepunte, laagtepunte, teleurstellings, liefdesverhoudings en musiekinvloede word als in die vertoning belig. Met behulp van ’n stem wat Dylan se storie vertel en unieke foto’s van sy lewe, kry die gehoor ’n eerlike blik op Bob Dylan die mens, liedjieskrywer en sanger. 

Die teks is ook deeglik nagevors om heetemal reg aan Bob Dylan te geskied. En dan is daar natuurlik ook sy onvergeetlike musiek ‘Blowing in the wind, Baby Tonight, Mr Tambourine Man, Knocking on Heaven’s door’  wat gehore nou weer kan beleef.

Geinspireer  deur rocksterre soos Elvis Presley, Jerry Lee Lewis en Little Richard het Dylan  met sy eie groep The Golden Chords weggespring. Die naam Bob Dylan, het hy eers tydens sy studentedae by die Universiteit van Minnesota ‘aangeneem’ omdat hy so baie van die Walliese digter Dylan Thomas se werk gehou het.  Sy vroeëe loopbaan ,sy verhouding met die folk sangeres Joan Baez  sowel as die progressie van sy musiek, kom ook onder die loep.

Mel vertel dat No Direction Home eintlik net die eerste hoofstuk van Bob Dylan se lewe is en dat daar nog soveel materiaal van Dylan na 1990 is wat in ’n moontlike volgende opvolg-produksie saamgevat kan word.

Kapenaars sal nou vir die eerste keer hierdie treffende by Die BOER 19 November kan bywoon. Kaartjies kos R120.00 per persoon en is beskikbaar by 021-979-1911.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top