Kwesbaar vir kwartlewenskrisis

  • 0

“My kop het in sirkels gehardloop!”

“Wat doen ek volgende?”

“Ek het regtig nie gesien my lewe kom hiernatoe nie.”

“Dis ? roller coaster.”

Dit is wat baie jongmense deesdae sê. Graduandi tussen die ouderdomme van 23 en 27 staar ? kwartlewenskrisis in die gesig.

“Ek het heel trots na universiteit in my eerste werk ingestap, en dit nogal in Kaapstad!” sê Mia du Preez (25), ‘n advertensierekeningbestuurder. “My droom was verwesenlik! Ek was in my droomstad, ek het 'n werk gehad wat vir my vryheid gee, plus dit het wonderlik betaal.

“Maar ek het gou besef dat die werk wat ek moes doen, nie heeltemal so glansryk was soos wat ek gedink het nie.

“Na byna drie jaar, en 'n paar maande voor my 25ste verjaardag, het die hartseer net eenvoudig te veel geraak. Ek was ongelukkig omdat ek vyf dae van die week alleen was en geen vooruitsigte gehad het vir my loopbaan nie. Ek was stuck. My ouers kon nie verstaan hoe ek ongelukkig kon wees nie.

“Ek het die term quarterlife crisis op die internet begin opmerk en bietjie meer daaroor begin lees. Ek het net al hoe meer en meer ongelukkig geraak soos wat ek besef het dat ek ondervinding moet opdoen vir die werk wat ek wil doen, maar hoe? Ek kan nie 'n onbetaalde internskap neem nie, want hoe gaan ek oorleef? My kop het in sirkels gehardloop!”
“Ek het regtig nie gesien my lewe kom hiernatoe nie,” sê Gerhardus du Preez (26), ? meestersgraadstudent in Engels. “Dit is nie wat ek vir myself beplan het nie. ? M in Engels en nou moet ek vir ? klomp Chinese kinders gaan skoolhou.

“Chopsticks vir Chaucer. That’s what you get.”

“Ek voel elke oggend goed, maar soos die dag aangaan, besef ek dat ek my lewe in orde moet kry,” sê Nthabeleng Mzizi (23), ? joernalistiekstudent op Stellenbosch. “Hierdie is nou die regte lewe en as ek niks noemenswaardig met my lewe doen nie, gaan ek op straat sit.

“Dis ? roller coaster. Ek sou rustiger gevoel het as ek werk gehad het.”

Terwyl die begrip kwartlewenskrisis ongewoon is, sê kenners dat dit wel iets is wat bestaan.

“Angs is 'n groeiende verskynsel onder mense van hierdie ouderdomsgroep,” sê Martin Fisher, ‘n sosiale sielkundige. “Die wêreld is aan die verander en so ook die norme wat in die samelewing heers.

“Mense in die ouderdomsgroep 23 tot 27 ervaar ook miskien vrese oor die wyse waarop die samelewing in Suid-Afrika verbrokkel is, veral ten opsigte van armoede en werkloosheid.”

’n Kwartlewenskrisis kan gesien word as die tydperk tussen universiteit en ’n voltydse beroep, of die eerste stap na volwassenheid en die verantwoordelikhede wat daarmee gepaard gaan.

“’n Jongmens wil steeds vry wees om die lewe te geniet, maar daar is verantwoordelikhede wat op hulle geplaas word wat ook nagekom moet word,” sê Annorien Roos, ? astroloog. “Die samelewing plaas baie druk op jongmense om groot te word. En daar moet ’n balans tussen onskuld en volwassenheid wees.”

Vir baie kwartlewenskrisis-lyers is die enigste antwoord om huis toe te trek.

“Ek dink die meeste jong volwassenes verwelkom die geleentheid om hul eie keuses uit te druk ten opsigte van hoe en waar hulle woon,” sê Fisher. “Die probleem is dat dit baie duur geword het om dit te doen. En, die uitstel van werklike onafhanklikheid vreet aan ? jongmens se gevoel van outonomie.”

“? Mens se verwagtinge om gou werk te kry en om ekonomies onafhanklik te wees, kan teleurstellend wees,” sê Debbie Kaminer, ? dosent in die Universiteit van Kaapstad se Departement Sielkunde. “Wanneer die realiteite van 'n mededingende arbeidsmark insink, kan dit tot gevoelens van moedeloosheid, frustrasie of selfs depressie lei.

“Hierdie strewe om ’n mens se outonomie as 'n volwassene te ontwikkel terwyl jy nog van familie vir finansiële ondersteuning afhanklik is, en ook werk- en loopbaangeleenthede verken, kan konflik skep en mens laat voel asof jy stagneer.”

Terwyl dit ? moeilike oorgang is, sê Kaminer dat jongmense dit móét ondergaan.

“Kry iets om jou besig te hou en kry ? goeie ondersteuningsgroep. Om baie tyd alleen deur te bring terwyl jy vir werk wag kan tot gevoelens van isolasie en moedeloosheid lei.”

Nietemin sê Fisher en Roos dat mens maar aan die oorgange in die verskillende lewensfases gewoond moet raak.

“Elke sewe of agt jaar lui ? nuwe fase in. As jongmense verstaan hoe die proses werk, kan hulle die uitdagings wat hulle in die gesig staar, beter hanteer,” sê Fisher.

“As jy nie op ’n gesonde manier verantwoordelikheid en selfstandigheid in jou lewe kan integreer nie,” sê Roos, “bly jy afhanklik van ander.”

Daar is egter maniere om in hierdie warrelwind-wipplank-tyd geluk te vind.

“Dit is baie voordelig vir mens se eie groei en geestelike ontwikkeling om tred te hou met die siklusse in mens se lewe,” sê Roos. “Dit gee baie perspektief, en leer mens ook om deernis vir jouself te hê.”

En volgens Mia du Preez kom mens in een stuk anderkant uit.

“Ek glimlag van oor tot oor, want ek het beheer van my eie lewe geneem,” sê sy.

“Noudat ek weet ek het 'n aktiewe besluit geneem oor elke aspek van my lewe, kom die geluk net natuurlik. Ek het so grootgeword die afgelope ruk, ek kan amper nie glo ek's lewend daar deur nie!”

Hierdie bydrae vorm deel van samewerking tussen LitNet en Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek gedurende 2013. Dayne Elizabeth Nel is ? joernalistiekstudent op Stellenbosch. Sy soek ook werk.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top