JFK 50 Jaar: Vrydag

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.


Vrydag 22 November 2013

President Kennedy is kort na die sluipmoord op hom op Vrydag 22 November 1963 – vandag presies 50 jaar gelede – in die Parkland-hospitaal in Dallas opgeneem, waar 'n span dokters om sy lewe geveg het. Hy het nog asemgehaal en daar was tekens van 'n flou hartklop.  ‘n Dokter het die president se das losgemaak omdat hy 'n insnyding in sy lugpyp wou doen ten einde 'n suurstofpyp daarin af te dwing. Tot sy verbasing was daar 'n gaatjie met 'n deursnit van 3 tot 5 mm in Kennedy se keel vlak by die plek waar hy die insnyding wou doen. Agterna het die dokter dit as 'n ingang-koeëlwond beskryf, wat dui op ‘n skoot van vóór. Daardie gaatjie is toe gewoon verleng, waarna ‘n lugpyp in die president se keel afgestoot is. Dié prosedure staan as ‘n trageotomie bekend.

Die noodbehandeling was egter tevergeefs en Kennedy het gesterf. Sy liggaam is in 'n bronskleurige metaalkis geplaas, en in ‘n roerende afskeidsoomblik het mevrou Kennedy haar trouring in sy hand geplaas, hom op die lippe gesoen en die deksel van die kis toegemaak.

Volgens die regstelsel van Texas, waar die sluipmoord plaasgevind het, moes 'n nadoodse ondersoek in Dallas uitgevoer word. Visepresident Johnson – Kennedy se opvolger as president – het egter opdrag gegee dat sy liggaam vir die nadoodse ondersoek na Washington geneem moet word. Dit het tot 'n toutrekkery oor die oorskot tussen die polisie van Dallas en die geheime diens gelei. Die kis is oplaas deur die geheime diens “ontvoer” en na Dallas-lughawe geneem, waar dit in ‘n kompartement in die stertgedeelte van Air Force One geplaas is. Die aandag het daarna verskuif na die vliegtuig se sogenaamde State Room, waar Johnson as 36ste president van die VSA ingesweer is. Gedurende die daaropvolgende vier uur lange vlug na Washington is besluit dat die nadoodse ondersoek by die Bethesda Vloothospitaal gehou sou word.

Air Force One het in die donker op die Andrews-lugmagbasis geland. Sterk spreiligte het gesorg dat die geleentheid lewend op televisie uitgesaai kon word. Miljoene Amerikaners het gesien hoe die kis met 'n hystoestel na die grond gebring word, waarna dit deur Vlootsoldate na 'n wagtende Vlootambulans geneem is. Mev Kennedy het saamgery na die Bethesda-hospitaal – 'n hele entjie daarvandaan. Dit het agterna geblyk dat ‘n tydrowende ompad gevolg is en dat daar eintlik twéé ambulanse was wat deur die geheime diens gereël is spesifiek om die pers te mislei – kwansuis om mev Kennedy se privaatheid te beskerm. Ongetwyfeld was hier egter ‘n groter bedrogspul betrokke, glo David Lifton, ‘n voormalige ruimtevaartingenieur en skrywer van die boek Best Evidence – een van talle boeke wat ‘n samesweringskomplot propageer. Ek verwys na sy boek ter illustrasie van tot welke uiterstes daar gegaan word om die Warren-verslag te diskrediteer.

Lifton se belangstelling in die sluipmoord het begin by die veelbesproke "head snap" – die skielike terugruk van die president se kop toe die vernietigende kopskoot hom getref het . As ingenieur was Lifton van mening dat indien die president inderdaad van agter geskiet is, sy kop eerder vórentoe sou geruk het. Die “head snap” kon dus op 'n skoot van vóór dui, met die implikasie dat ook ander skuts – naas Lee Oswald Harvey – betrokke was. Dit lyk na ‘n redelike aanname. Lifton het vervolgens nougeset deur die letterlik duisende dokumente wat deur die Warren-kommissie versamel is, begin worstel op soek na stawende getuienis vir sy vertolking van die “head snap”.

‘n Alleenstaande ooggetuieverslag oor die gebeure in die teater van die Bethesda Vloothospitaal, waar die nadoodse ondersoek gedurende die nag van 22/23 November 1963 uitgevoer is, het Lifton se aandag geprikkel. Volgens dié verslag (wat, soos talle ander, nie deur die Warren-kommissie oorweeg is nie) was die president se kop in ‘n bebloede handdoek toegedraai toe sy liggaam uit die kis gehaal is. Toe die handdoek verwyder is, was daar – volgens dié getuie – duidelike tekens van chirurgie aan die president se kop. Chirurgie?

Lifton het die verslae van die noodbehandeling in Dallas nagegaan en gemerk dat daar geen sprake van chirurgie was nie. Nou hoe kon daar dan ure later in Washington getuienis van chirurgie aan Kennedy se kop wees? Méér nog: die Dallas-dokters was dit eens dat die keel- en kopwonde deur skote van vóór veroorsaak is. Die dokters in Washington het egter 'n gans ander beeld waargeneem: die president se wonde was die gevolg van skote van ágter.

Nog ‘n enkelgetuie het vir Lifton vertel dat die president se liggaam in 'n vaalgrys militêre kis by die Bethesda-hospitaal aangekom het. By die oopmaak daarvan in die teater sou die president se liggaam toegerits gewees het in wat die Amerikaners 'n "body bag" noem – 'n plastieksak wat vir die vervoer van lyke gebruik word. Dis egter nie hoe mev Kennedy in Dallas van haar man afskeid geneem het nie.

'n Verdere getuie sou, nadat die president se liggaam uit die kis gehaal is, verskeie X-straalfoto's daarvan geneem het. Onderweg na die ontwikkelingslaboratorium sou hy gesien het hoe die vlootambulans met die brons metaalkis, vergesel van mev Kennedy, by die Bethesda-hospitaal aankom. Maar volgens hom was die president se lyk toe rééds ín die teater waar die nadoodse ondersoek al aan die gang was.

Lifton het geworstel met hoe hy dié getuienis moes vertolk. Immers: sou dié (weliswaar ongetoetste) getuienis waar wees, sou dit beteken dat die brons kis wat ten aanskoue van miljoene televisiekykers uit Air Force One gehaal is, leeg was.

Lifton se slotsom grens aan die bisarre. Hy voer aan dat terwyl almal die inswering van Lyndon Johnson voor in Air Force One bygewoon het, iemand JFK se lyk uit die kis agter in die vliegtuig verwyder het en dit iewers elders in die vliegtuig versteek het. Terwyl die leë seremoniële kis op die lughawe naby Washington uit die vliegtuig gehaal is, is die lyk - vermoedelik nou in ‘n militêre kis – by 'n ander luik uit die vliegtuig verwyder en straks per helikopter “iewers” heen geneem waar die beserings aan sy kop en nek chirurgies verander is sodat wat aanvanklik na skote van vóór gelyk het, agterna die voorkoms van skote van ágter gehad het.

Dat Lifton die duisende dokumente van die Warren-kommissie deeglik nagevors het, gee sy talle kritici geredelik toe. So ook dat haas niks in die skemerwêreld van geheime dienste onmoontlik is nie. Maar, sê die kritici, sy bisarre slotsom impliseer dat daar 'n fynbeplande sameswering was om JFK te vermoor; dat minstens die CIA en geheime diens daarby betrokke moes gewees het; en dat ál die rolspelers vir ewig die swye sou moes bewaar. Dit bots met die menslike natuur.

Oplaas bly die vraag: Wás dit nie maar net Oswald – vrot skut wat hy was, met 'n ewe vrot geweer – se spreekwoordelike "gelukkige dag” daar op die sesde verdieping van die rooibaksteengebou van waar hy, volgens die Warren-kommissie, op Kennedy se ampsmotor losgebrand het nie? ‘n 2007 BBC-rekonstruksie van die sluipmoord steun immers die bevindings van die Warren-kommissie: daarvolgens sou enige skote reg van voor ook die voorruit van die Lincoln-ampsmotor getref het, en as dit skuins van voor was, sou dit ongetwyfeld ook vir mev Kennedy getref het. Die Associated Press-joernalis Saul Pett vat dié paradoks só saam in sy treffende voorwoord tot die verslag van die Warren-kommissie:

There was in the minds of many the suspicion that there must be more to the Dallas story. Perhaps it was because the mind refused to believe that the President of the United States could so simply be shot in the light of day. Surely the motive, if not the killer, somehow had to fit the size of the victim. A gnat simply does not kill a lion.

Lees die res van die artikels in die reeks:

 

  1. JFK 50 Jaar: Maandag
  2. JFK 50 Jaar: Dinsdag
  3. JFK 50 Jaar: Woensdag
  4. JFK 50 Jaar: Donderdag
  5. JFK 50 Jaar: Vrydag

Bronne geraadpleeg tydense die skryf van al die JFK 50 jaar-bydraes:

  1. Lifton, David S: Best Evidence – disguise and deception in the assassination of John F Kennedy (Dell Publishing Co., New York: 1980)
  2. Marrs, Jim: Crossfire – the plot that killed Kennedy (Pocket Books, Londen: 1993)
  3. Manchester, William: The death of a president  (Michael Joseph, Londen: 1967)
  4. The Warren Commision Report  (Official complete & unabridged edition) (St. Martin’s Press, New York, 1964)

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top