In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Maandag 18 November 2013
President John F Kennedy van die VSA is op Vrydag 22 November 1963 in Dallas, Texas vermoor. Eerskomende Vrydag – ja, wéér ‘n Vrydag – sal dit net mooi 50 jaar gelede wees. Die debat oor presies wat op daardie noodlottige dag in Dallas gebeur het, is nog springlewendig. Op die internet is daar talle webruimtes wat oor die Kennedy-sluipmoord handel. Daar is internet-besprekingsgroepe waarin mense nog byna daagliks gedagtes uitruil. Ook op die internet sien ek nou die dag 'n lys boeke wat spesifiek oor die sluipmoord geskryf is: dit beloop honderde titels. Voeg daarby duisende koerant- en tydskrifartikels, talle video's en minstens een vollengte-rolprent – Oliver Stone se JFK – en 'n mens besef dat die Kennedy-moord nog lank nie vergete is nie en ongetwyfeld een van die belangrikste geskiedkundige gebeurtenisse van die vorige eeu is. En laat my dadelik byvoeg: dit is bykans onmoontlik om die kaf van die koring te skei.
Daar is waarskynlik twee redes vir die volgehoue aandag wat die sluipmoord geniet: aan die een kant die aansien wat die Kennedy's in die VSA geniet. Hulle is die Amerikaners se bloubloeddinastie, hulle “koninklikes” – nes die Windsors wat in Brittanje die openbare toneel oorheers. JFK was die jongste Amerikaner ooit wat tot die hoë amp van president gekies is; hy was 'n aantreklike man wat charisma, jeugdigheid en vitaliteit uitgestraal het. Ten spyte daarvan dat sy persoonlike lewe volgens alle getuienis veel te wense oorgelaat het, het die feit dat hierdie jong man in die fleur van sy lewe op so 'n wrede manier afgemaai is – en daardeur twee jong kinders en 'n beeldskone weduwee agtergelaat het – nog altyd die Amerikaanse verbeelding aangegryp.
'n Tweede rede vir die byna kultus-status wat Kennedy na al die jare nog geniet, is die feit dat daar soveel onbeantwoorde vrae rondom die gebeurde van 22 November 1963 is. Die Warren Kommissie van Ondersoek wat die sluipmoord ondersoek het, het tot die gevolgtrekking gekom dat slegs een persoon, Lee Harvey Oswald, vir die moord verantwoordelik was. Daar is egter soveel gapings en tekortkominge in die kommissie se verslag dat talle teorieë oor 'n groter, omvangryker sameswering om die president te vermoor oor die jare heen die lig gesien het. Dit is veral hierdie teorieë, en die gronde waarop dit berus, wat my as juris interesseer. Vandag en tot Vrydag gaan ons daagliks hierby stilstaan.
Wat is die onbetwiste feite van wat op daardie noodlottige Vrydagmiddag in Dallas gebeur het?
President Kennedy was op 'n verkiesingstoer van die sleutelstaat Texas. Vroeër daardie oggend het hy en sy mooi vrou, Jacqueline, aan boord van Air Force One op die lughawe van Dallas aangekom. Van daar sou die president en sy gevolg per motor deur die strate van Dallas na 'n handelsentrum reis, waar die president oor die middagete-uur 'n toespraak sou lewer. Hoewel dit reeds diep in die Amerikaanse herfs was, was dit 'n volmaakte sonskyndag en daarom het die Amerikaanse geheime diens – wat verantwoordelik is vir die veiligheid van die president – besluit om die deursigtige koepeldak van die presidensiële ampsmotor, 'n donkerblou Lincoln Continental, af te haal sodat die president en sy geselskap in die oop motor vir die publiek sigbaar sou wees. Dit was die eerste van talle eienaardige besluite wat deur die geheime diens geneem is. Saam met Kennedy en sy vrou in die motor was die goewerneur van Texas, John Connally, en sy vrou. Hulle het in twee opslaan-sitplekke voor die president en sy vrou gesit. Die motorstoet is begelei deur motorfietse en 'n spesiaal-omgeboude Cadillac-limousine wat volgepak was van gewapende veiligheidsmanne. Dié motor het reg agter die presidensiële Lincoln gery.
Aan die einde van die motoroptog moes die president nog net deur 'n groterige oop plein – bekend as Dealy Plaza – ry voordat die stoet onder 'n treinbrug sou deurry na 'n snelweg wat die president na die handelsentrum sou neem waar hy sy toespraak sou lewer. Maar in hierdie plein het daar 'n eienaardige ding gebeur. Pleks dat die motorstoet reguit aangery het na die treinbrug – wat immers logies was – het dit 'n 90-grade-draai na regs in Houstonstraat gemaak. Na ongeveer 50 treë het die motor weer skerp gedraai – dié keer 'n 120-grade-draai na links in Elmstraat. Dit was volkome téén die beleid van die geheime diens om die presidensiële voertuig om sulke skerp draaie in die hartjie van 'n stad te neem, want dit sou beteken dat die voertuig baie stadig sou moes ry, wat 'n groot risiko vir die veiligheid van die president sou skep. Die besluit om die optog langs hierdie eienaardige omweg in Dealy Plaza te lei, is later hewig gekritiseer. “Dit is asof die president in ‘n hinderlaag ingelei is,” word steeds gesê.
Inderdaad: kort nadat die Lincoln-limousine om daardie skerp draai in Elmstraat gery het, het die sluipmoord plaasgevind. Van hier af vervaag die feitelike prentjie en woed daar nog steeds hewige meningsverskille oor presies wat gebeur het. Die Warren-kommissie het bevind dat daar drie skote op die ampsmotor uit 'n gebou op die hoek van Houston- en Elmstrate gevuur is. Die eerste skoot het die president in sy nek getref, wat tot gevolg gehad het dat hy sy keel met albei hande vasgegryp het. Volgens die kommissie het daardie selfde koeël ook vir goewerneur Connally – wat knap voor die president in die ampsmotor gesit het – getref. Die tweede skoot, het die kommissie bevind, was mis en die derde het die president in die kop getref. Die ampsmotor het daarna versnel en na die Parkland-hospitaal gejaag, waar Kennedy ongeveer 'n halfuur later dood verklaar is.
Kritici glo daar was méér as drie skote en dat Kennedy straks uit verskillende rigtings geskiet is. Dus: daar was ‘n sameswering van meerdere mense om die president te vermoor.
Môre vertel ek van die bevindings van die Warren Kommissie van Ondersoek, en Woensdag, Donderdag en Vrydag behandel ons die vernaamste kritiek teen die bevindings van die kommissie.
Lees die res van die artikels in die reeks:
- JFK 50 Jaar: Maandag
- JFK 50 Jaar: Dinsdag
- JFK 50 Jaar: Woensdag
- JFK 50 Jaar: Donderdag
JFK 50 Jaar: Vrydag
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

