JFK 50 Jaar: Donderdag

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.


Donderdag 21 November 2013

Gereelde LitNetters sal weet dat ons vandeesweek 'n reeks artikels aanbied oor die sluipmoord op president John F Kennedy op Vrydag 22 November 1963 in Dallas, Texas. More sal dit presies 50 jaar gelede wees.

Jy sal onthou dat die Warren-kommissie wat aangestel is om die sluipmoord te ondersoek, bevind het dat ‘n enkeling – Lee Harvey Oswald – die president vermoor het. Die kommissie het bevind dat hy drie skote vanuit die sesde verdieping van 'n gebou in Dallas op die oop motor waarin Kennedy gery het, geskiet het. Jy sal ook onthou dat die kommissie bevind het dat twee van dié skote die president getref het en dat een skoot heeltemal mis was. Daarby het die Kommissie bevind dat een van die skote wat die president getref het, ook goewerneur John Connally, wat voor Kennedy in die motor gesit het, ernstig verwond het. Hierdie bevinding van die kommissie is erg omstrede: kritici verwys daarna as die “lone bullet theory”– of nog erger, die “magic bullet theory”.

Een van die vernaamste bewysstukke wat voor die Warren-kommissie gedien het, was 'n 8 mm-kleurrolprentopname wat van die skietery deur 'n lid van die publiek, Abraham Zapruder, gemaak is. Mnr Zapruder het die betrokke middag naby die straat gestaan en die presidensiële voertuig afgeneem terwyl dit voor hom verby gery het. Die film wys hoe president Kennedy vriendelik vir die skare wuif. Dan verdwyn die motor agter 'n padteken wat tussen Zapruder en die motor was, maar as die president enkele oomblikke later weer sigbaar word, klem hy sy keel met albei sy hande vas, klaarblyklik nadat die eerste skoot hom getref het. Die Zapruder-film wys hoe die president dan effens na links kantel. Na 'n kort tydsverloop vertrek Connally se gesig van die pyn nadat ook hy deur 'n koeël getref is. (Tot met sy dood in 1993 het Connally aangevoer dat hy deur ‘n afsonderlike koeël getref is.) Dan volg die vernietigende kopskoot wat so hewig is dat Kennedy se kop agteroor ruk tot teen die leuning van die agterste sitplek van die Lincoln ampsmotor. Hierdie skielike en hewige agteroor ruk van die president se kop word in die literatuur die "head snap" genoem. Die film wys dan verder hoe Kennedy oorval na sy vrou se kant toe en hoe mev Kennedy, terwyl die ampsmotor versnel, oor die bagasiebak kruip, maar deur 'n veiligheidsman, Clinton Hill –  wat intussen na die presidensiële motor gehardloop het –  in haar sitplek teruggedruk word.

Aanvanklik is gedink dat mev Kennedy probeer het om uit die motor te vlug toe sy so oor die bagasiebak gekruip het. Daar is ook 'n teorie dat sy agent Hill wou help om op die motor te klim. Meer waarskynlik het sy egter instinktief gegryp na 'n stukkie van haar man se skedel wat ná die noodlottige kopskoot agter op die bagasiebak van die Lincoln beland het. Sy het die stukkie kopbeen heeltyd in haar hand gehou en dit eers in die noodkamer by die Parkland-hospitaal, waar president Kennedy behandel is, aan 'n verpleegster oorhandig.

Ek vertel hierdie grusame besonderhede nie sonder rede nie. Jy sal onthou dat die Warren- kommissie bevind het dat president Kennedy van agter en skuins van bo geskiet is. Dit het geklop met die kommissie se bevinding dat daar slegs een sluipmoordenaar was en dat hy die noodlottige skote uit die sesde verdieping van 'n gebou geskiet het. Kritici van die Warren-kommissie voer egter aan dat hierdie bevinding nie te rym is met die terugruk van die president se kop wat duidelik op die Zapruder-film sigbaar is nie. As die president van agter geskiet is, soos die Warren-kommissie bevind het, meen die kritici dat die president se kop eerder vórentoe sou geruk het. Maar die Zapruder-film wys onteenseglik dat die president se kop hewig ágtertoe geruk het. Dit, sê die kritici, is eerder versoenbaar met 'n skoot van vóór, wat dan ernstige twyfel werp op die Warren-kommissie se bevinding dat Lee Oswald Harvey die enigste sluipmoordenaar was. Die stukkie kopbeen wat agter op die Lincoln beland het, word as verdere bewys gebruik dat die dodelike kopskoot van voor, en nié van agter nie,  gekom het.

Daar is trouens baie getuies wat onmiddellik ná die sluipmoord gesê het dat die skote uit die rigting van 'n grasperkie regs van die plek waar mnr Zapruder gestaan het, gekom het. Deur die jare heen is baie gewag gemaak van foto's wat deur lede van die publiek tydens die sluipmoord geneem is sonder dat hulle dadelik besef het wát hulle op film vasgelê het. Daar is op van dié foto's beslag gelê en kenners het deur die jare heen omtrent elke vierkante millimeter daarvan gefynkam. Ja, daar ís foto's wat – mits jy jou verbeelding gebruik –  iemand ver in die agtergrond in die omgewing van die grasperkie wys wat met 'n geweer in sy hand staan. Daar is ook foto's wat wil suggereer dat daar 'n rookwolkie in daardie omgewing sigbaar was. Maar nie een van hierdie foto's is deurslaggewend nie en is al ten onregte deur mense misbruik om hulle eie standpunte oor die sluipmoord te probeer staaf. Daarteenoor is die Zapruder-film objektiewe getuienis wat sterk oortuigingskrag het dat die noodlottige kopskoot eerder van voor as van agter gekom het. Die Warren-kommissie het egter nie hiermee saamgestem nie, want dit het nie ingepas by hulle bevinding dat Oswald die enigste sluipmoordenaar was nie.

Môre sluit ons die reeks oor Kennedy se sluipmoord af deur te kyk na die nadoodse ondersoek wat op die president se liggaam uitgevoer is. Sommige mense sê dít is die beste getuienis.
 

Lees die res van die artikels in die reeks:
 

  1. JFK 50 Jaar: Maandag
  2. JFK 50 Jaar: Dinsdag
  3. JFK 50 Jaar: Woensdag
  4. JFK 50 Jaar: Donderdag
  5. JFK 50 Jaar: Vrydag


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top