In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Dinsdag 19 November 2013
Gister het ons begin met 'n reeks van vyf LitNet-artikels oor die sluipmoord op president John F Kennedy van die VSA op 22 November 1963 in Dallas, Texas – eerskomende Vrydag 50 jaar gelede. In gister se artikel is vertel hoe die president deur twee skote getref is terwyl hy in 'n oop motor deur 'n groot plein, bekend as Dealy Plaza, in Dallas, Texas, gery het. Die goewerneur van dié deelstaat, John Connally, wat saam met Kennedy in die motor was, is ook getref.
Dis te begrype dat daar onmiddellik na die sluipmoord groot verwarring in Dealy Plaza geheers het. Daar was teenstrydige getuienis oor waar die skote vandaan gekom het. Die aandag van die polisie het egter spoedig begin fokus op 'n sewe-verdieping rooi baksteengebou op die hoek van Houston- en Elmstrate wat gehuur is deur 'n verskaffer van skoolboeke, die Texas School Book Depository Company. Tydens die skietery het 'n ooggetuie met die naam Howard Brendon in Elmstraat oorkant die gebou gestaan. Oomblikke later het Brendon 'n polisieman genader en hom meegedeel dat hy gesien het dat 'n skraalgeboude man uit 'n venster van die sesde verdieping van die gebou met 'n geweer in die rigting van die president se motor aangelê het. Verskeie polisiemanne het die gebou binnegegaan en ongeveer 45 minute na die skietery is drie patroondoppies gevind naby die venster wat vroeër deur Brendon uitgewys is. Ongeveer tien minute later is 'n Italiaansvervaardigde geweer met 'n teleskoop tussen 'n hoop kartondose op dieselfde verdieping gevind.
Omtrent dieselfde tyd toe die patroondoppies in die gebou gevind is, is 'n polisieman met die naam Tippit deur 'n onbekende man in een van Dallas se woonbuurte met 'n rewolwer doodgeskiet. Verskeie mense het die moordenaar sien vlug tot by 'n rolprentteater, waar hy ongeveer 'n uur na die moord op Kennedy in hegtenis geneem is. Hy is later geïdentifiseer as Lee Harvey Oswald. Hy is in verband met die moord op die polisieman Tippit in hegtenis geneem, maar dit het nie lank geneem om ook hom met die sluipmoord op Kennedy te verbind nie. Hy was 'n werknemer van die Texas School Book Depository Company en daar was oorvloedige getuienis dat hy ten tye van die sluipmoord in die gebou was. Hy het kort na die voorval die gebou verlaat en is, soos reeds gesê, ongeveer 'n uur later in die rolprentteater in verband met die moord op die polisieman Tippit in hegtenis geneem. Maar daar was ander baie goeie redes waarom Oswald met die sluipmoord verbind is. Die vernaamste is dat die geweer wat tussen die kartondose gevind is, aan hom behoort het.
Tydens een van sy seldsame openbare verskynings nadat hy in hegtenis geneem is, het Oswald teenoor joernaliste ontken dat hy Kennedy vermoor het. “I’m just a patsy,” was sy antwoord – ‘n Amerikaanse maakwoord (“slang”) vir iemand wat maklik-maklik om die bos gelei word. Presies wat hy daarmee bedoel het, is nog steeds die onderwerp van gissings en teorieë. Een gedagte is dat hy bedoel het dat hy deur ander mense by die beplanning en uitvoering van die sluipmoord betrek is – maar uiteindelik alleen vir die gelag moes betaal.
Op Sondag 24 November 1963 – twee dae ná die sluipmoord – is reëlings getref om Oswald oor te plaas na die Dallas Gevangenis vanaf die gebou waar hy ondervra is. Sy oorplasing is lewend op Amerikaanse televisie uitgesaai, en terwyl miljoene Amerikaners gekyk het, het 'n netjies-geklede man daar onder in die kelderverdieping van die polisiestasie na vore getree en Oswald in die maag geskiet. Hy is 'n paar uur later onder operasie in die Parkland-hospitaal oorlede – dieselfde hospitaal waar Kennedy twee dae vantevore beswyk het. Oswald se moordenaar was 'n nagklubeienaar van Dallas, Jack Ruby, wat onder meer Mafia-verbintenisse gehad het. Tot met sy dood het hy volgehou dat die “ware verhaal” nooit sou uitkom nie.
Op 29 November 1963 het president Lyndon Johnson, wat Kennedy opgevolg het, die hoofregter van Amerika – Earl Warren – aangewys as hoof van 'n presidensiële kommissie van ondersoek na die sluipmoord op president Kennedy. Die kommissie van sewe lede – met 'n groot span ondersteunende personeel – het binne tien maande aan Johnson verslag gedoen. Die kommissie se vernaamste bevindings was dat daar geen sameswering was om Kennedy te vermoor nie en dat Lee Harvey Oswald die enigste moordenaar was. Die kommissie was van mening dat Oswald drie skote geskiet het, waarvan twee die president en goewerneur Connally, wat saam met die Kennedy's in die motor was, getref het.
Die Warren-kommissie se verslag is oor die jare heen fel gekritiseer, en môre, Donderdag en Vrydag sal ons kyk na die vernaamste punte van kritiek teen die verslag.
Lees die res van die artikels in die reeks:
- JFK 50 Jaar: Maandag
- JFK 50 Jaar: Dinsdag
- JFK 50 Jaar: Woensdag
- JFK 50 Jaar: Donderdag
JFK 50 Jaar: Vrydag
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


Kommentaar
Ek het ongelukkig "gister" se eerste artikel waarna hier in die aanhaling uit bg artikel verwys word, misgeloop.
Is dit moontlik om dit weer te plaas of vir my aan te stuur? Ek wil graag die volledige reeks versamel.
"In gister se artikel is vertel hoe die president deur twee skote getref is terwyl hy in 'n oop motor deur 'n groot plein, bekend as Dealy Plaza, in Dallas, Texas, gery het."
Hier is die skakel na die eerste artikel: https://www.litnet.co.za/Article/2013-jfk-50-jaar-maandag - LitNet