2013 Feesprogram: Skrywersfees

  • 1

Skrywersfees

Ondersteun deur Naspers, tensy anders aangedui.

Die Voortrekkers se Boeketent
As jy jou verkneukel in interessante boeke, graag lees en op hoogte wil wees van die nuutste publikasies van Woordfees-skrywers, kom snuffel gerus hier. ’n Vertoefplek as jy wag vir geliefdes of vertonings, vriende wil ontmoet, of van jou kinders lesers wil maak. Kom ontdek boeke, ontmoet skrywers en luister na die kenners. En weet jy wat op aarde die Voortrekkers alles doen?

 



Profiele

Ondersteun deur Naspers, tensy anders aangedui.

 

Dot Serfontein 88
As joernalis en skrywer het Dot Serfontein haar ambag met ’n onvernietigbare lewensdrif aangepak. Die resultaat is kontreikuns, sketse, essays, kortverhale en romans wat geslagte Afrikaanssprekendes interesseer en bekoor. Marius Crous en Antoinette Kellerman kom vier haar lewe en werk, en haar skrywende nageslag kom klink ’n glasie op haar – Andries en Susan Samuel, saam met Willem en Antjie Krog. Durbanville Hills skink die wyn. Verwelkoming: Dorothea van Zyl.
4 Maart 16:00 | Boektent | 50min | R50

E. Kotze 80
Deur die kortverhale en romans van E. Kotze het die Weskus op unieke wyse gestalte gekry in Afrikaans. Petra Müller en Nèlleke de Jager reflekteer saam met dié immergewilde skrywer oor ’n loopbaan vol hoogtepunte. Le Bonheur sorg vir die vrug van die druif. Verwelkoming: Dorothea van Zyl.
5 Maart 16:00 | Boektent | 50min | R50

Verna Vels 80
Verna Vels, baanbreker in die radio- en televisiebedryf, se onvergeetlike Liewe Heksie het in kinders van alle ouderdomme se harte gekruip. Kollegas in die uitsaaiwese, Riaan Cruywagen en Iris Bester, vier haar lewe en bydrae tot ons kultuurskat. Kom klink ’n glasie van Uitkyk Light se reeks met ons! Verwelkoming: Dorothea van Zyl.
6 Maart 16:00 | Boektent | 50min | R50

Elsa Joubert 91
In haar luisterryke skrywersloopbaan het Elsa Joubert wêreldwyd erkenning gekry vir romans soos Die swerfjare van Poppie Nongena. Haar reisverhale, kortverhale en outobiografiese werk sal onvergeetlik bly. Annari van der Merwe en André P. Brink belig die talle fasette van haar enorme bydrae en lig ’n glasie Fleur du Cap op dié grande dame van die Afrikaanse letterkunde. Verwelkoming: Dorothea van Zyl.
7 Maart 16:00 | Boektent | 50min | R50

Athol Fugard 81
TIME Magazine has described Athol Fugard as the greatest living playwright in the English-speaking world. The Wordfest celebrates this author's contribution to literature and theatre with a conversation between Fugard and a great man of the theatre, his long-time friend and producer, Mannie Manim. We toast with a glass of Neethlingshof's finest.
8 March 16:00 | Book Tent | 50min | R50

Neville Alexander (1937-2012)
Neville Alexander, wenner van o.a. die UNESCO Lingua Pax Prys, het diep spore getrap as struggle-veteraan, taalbeplanningskundige en -aktivis. Dié besoekende dosent van die US Departement Afrikaans en Nederlands het ’n ongelooflike bydrae tot meertaligheid in Suid-Afrika én Afrika gelewer. Leon de Stadler en Vic Webb reflekteer in dié huldigingsgesprek oor die nederige reus se bydrae tot ons diverse taalwêreld. Verwelkoming: Dorothea van Zyl.
7 Maart 11:00 | Erfurthuis | 50min | R50

Cussons: Gevlerk met genade
Aangebied deur die Dokumentesentrum, J.S. Gericke Biblioteek
Amanda Botha en Wium van Zyl voer ’n gesprek oor die religieuse digkuns en tekeninge van Sheila Cussons. Items uit die uitsonderlike Sheila Cussons-versameling word tydens die gesprek visueel belig, waarna die oorspronklike Cussons-manuskripte en sketse gesien kan word in ’n spesiale uitstalling.
1 Maart 12:00 | J.S. Gericke-biblioteek: Ouditorium | 120min | R50

 


 

Die Wellingtonse Klopse – 100 jaar se onvertelde stories
Met Michael le Cordeur en Marlene le Roux
Wellington is die enigste dorp buite die Kaapse metropool met ’n gevestigde klopsetradisie. Die skrywers lig met hierdie boek (onder redaksie van Ria Olivier) die sluier oor die besbewaarde geheim in ons land. Kom kyk ook na die foto-uitstalling oor die klopse.
2 Maart 14:30 vir 15:00 | Oude Libertas Ouditorium | 120min | Gratis

Tussen tale
Die Breedevallei Dichters en Ivan Meyer, DA-leier in die Wes-Kaap, in opmars vir Afrikaans! Luister na tongvalle in Afrikaans, Engels, IsiXhosa en Nederlands met die bekendstelling van hul vyfde bloemlesing, Teater van die verlore tyd – Theater van de Verloren Tijd. ’n Feestelike, multitalige geleentheid! Verwelkoming: Dorothea van Zyl.
3 Maart 15:00 | Boektent | 110min | Gratis

LitNet | Sanlam Sing ’it lirieke-werkswinkel
Ondersteun deur Sanlam, in samewerking met LitNet
Lief vir musiek? Skryf jy graag lirieke, of selfs gedigte? Kom skaaf saam met Anton Goosen en Valiant Swart aan jou liriekskryftalent by die Woordfees. In die tweede jaar van die suksesvolle Sing ‘it-projek, is dit net die regte tyd daarvoor! Om deel te neem, kontak LitNet voor 19 Februarie: [email protected]. Middagete ingesluit.
5 Maart 09:00 | Stellenbosch Hotel | 210min | R300

 

Van Anton tot Die Antwoord
Ondersteun deur Sanlam, in samewerking met LitNet Sing ’it
Watter ontwikkelings het die afgelope dekades in die Suid-Afrikaanse musiek- en lirieklandskap plaasgevind? Hoe het die styl en inhoud van ons land se musiek verander van Anton Goosen tot Die Antwoord? Anton Goosen, Valiant Swart en Albert du Plessis bespreek dié veranderinge met Kerneels Breytenbach. Beproef sommer ook De Vette Mossel se spyskaart (vir eie rekening).
5 Maart 13:00 | De Vette Mossel | 50min | R30 by die ingang (ete uitgesluit)

Om die Nguni-vure
Myra Scheepers het op 80 met ’n bundel Nguni-sprokies gedebuteer wat kinders en grootmense laat regop sit! Om die Nguni-vure is ’n belangrike verruiming van ons Afrika-erfenis. Kom luister na hierdie merkwaardige vrou se literêre reis en die sprokies se ontstaan. Sy praat met haar dogter Riana Scheepers en kleinseun Adriaan Meyer. ’n Unieke geval waar nie die kinders en kleinkinders nie, maar die moeder se skryfgene haar uiteindelik ingehaal het! Verwelkoming: Dorothea van Zyl.
6 Maart 12:00 | Boektent | 50min | R50

So kry ons Afrikaans
Aangebied deur die ATR
Christo van Rensburg se So kry ons Afrikaans vertel die volle geskiedenis van die taal, met die fokus op die mense wat dit praat in al sy variëteite. Michael le Cordeur en Jacques van der Elst pols die skrywer oor hoe almal se stukkies in die legkaart pas.
7 Maart 14:00 | Boektent | 50min | R40


Athol Fugard: a reading

In this special hour of words, renowned author and playwright Athol Fugard reads an unpublished work. Share a special moment with the Wordfest’s guest of honour, in the year of his 80th birthday. 8 March 12:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Land van die groot woordfabriek
Aangebied deur LAPA en Protea Boekhuis
Met Daniel Hugo, Jaco Jacobs, Miemie du Plessis, Nicol Stassen en Danie Marais
Is dit regtig nodig om oorsese kinderboeke in Afrikaans te vertaal? Wat van plaaslike skrywers? Wie besluit wat word vertaal? Watter uitdagings bied ’n kinder- of jeugboek aan vertalers? Luister wat sê dié kundige rolspelers.
8 Maart 15:00 | Erfurthuis | 50min | R50

 

Athol Fugard

Neerlandistiekdag
Ondersteun deur die Nederlandse Taalunie, Kaapse Forum vir Neerlandistiek, Van Ewijck-stigting en Fonds Neerlandistiek
Aanbieder: Ronel Foster
Studente voer onderhoude met die jong Belgiese skrywer Saskia de Coster en met die Nederlandse skrywer Arjen Duinker, wat saam met Alfred Schaffer lees uit eie werk. Hans Geybels praat oor religie en kuns, Bart de Graaff bespreek Nederlandse plekname in Suid-Afrika en Rentia Bartlett vertel van deBuren se interessante ‘luisterboeke’-projek. ’n Heerlike dag vol Nederlandse verskeidenheid in ’n pragtige landelike omgewing. Beperkte plekke, bespreek gou en bederf jouself!
9 Maart 09:00 – 14:00| 401 Rozendal | 300min | R90 (ligte ete ingesluit)


Die wonderwerker

Chris Barnard en Katinka Heyns se spanwerk het oor jare gesorg vir uitnemende Afrikaanse rolprente, waarvan Die wonderwerker ’n hoogtepunt is. Met hierdie film het die belangstelling in Eugène Marais se lewe en werk opnuut opgevlam. PG du Plessis gesels met dié geliefde en formidabele egpaar. Verwelkoming: Dorothea van Zyl.
9 Maart 09:00 | Boektent | 50min | R50

Nederkaans en Afrilands
Kom in, dit vries daar buite, vertaal deur Daniel Hugo, is ’n keur van 50 gedigte van Alfred Schaffer wat deesdae in Suid-Afrika woon en werk, as dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US. Antjie Krog, Ronelda Kamfer en Danie Marais lees verse voor saam met dié Nederlandse digter.
9 Maart 10:00 | Erfurthuis | 50min | R50

Gewildste Afrikaanse gedigte
Aangebied deur Leserskring
Kom luister en gesels saam as Elsabé Daneel, Johann Nel en van jou gunstelingdigters optree by die bekendstelling van Leserskring se Gewildste Afrikaanse gedigte. Hierdie gedigteboek en CD bevat die 100 gewildste Afrikaanse gedigte, deur die publiek gekies onder aansporing van Leserskring, RSG en BY. Sien gerus ook die teaterproduksie.
9 Maart 13:00 | Boektent | 50min | R50

 

Gedigte vi’ Adam Small
In samewerking met RSG en Naledi
Met Iris Bester, Magdaleen Krüger, Fanie Olivier, Pieter Odendaal, Willem Fransman Jnr. en Randall Wicomb
23 digters het verse gelewer vir dié huldigingsbundel vir Adam Small, verlede jaar se Hertzogprys-wenner. Saam met die bundel is ’n CD waarop Small self voorlees en ’n RSG-hoorbeeld deur Iris Bester. Moenie dié besonderse bekendstelling misloop nie! Verwelkoming: Dorothea van Zyl.
9 Maart 11:00 | De Vette Mossel | 50min | R50

Die Hoofkarakter-soektog
Aangebied deur LAPA
Wat gebeur as lesers die kans kry om die hoofkarakter in ’n nuwe spanningsroman te wees? Leon van Nierop en hoofkarakter Monique Bisschoff verskaf terugvoering oor die LAPA Hoofkarakter-soektog – ’n opwindende, Pendoring-bekroonde leserskompetisie wat op Facebook aangebied is. Leon se Snydokter is die eindproduk daarvan.
9 Maart 14:00 | Boektent | 50min | R30 by die deur

Digtersparadys
Met Loftus Marais, Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Andries Bezuidenhout, Fanie Olivier en Arjen Duinker
’n Kombinasie van digterstalent wat jy selde op een verhoog kry. Verlekker jouself in voorlesings deur van die gewildste Afrikaanse digters, met ’n spesiale optrede deur die bekende Nederlandse woordkunstenaar Arjen Duinker.
9 Maart 15:00 | Boektent | 50min | R50

  • 1

Kommentaar

  • Waar moet ek soek na die volgende:

    Tussen hemel en aarde

    T T Cloete: Die ander ek

    Watter dae, tye en venues, asb

    Sien baie uit na die fees.  Sterkte

    Louw le Roux

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top