Ek sal jou as met liefde en boomgom
Stukkie vir stukkie weer aanmekaar las
Brand liefling brand
Ons drome staan in ligte laaie
Wat sal ek voor die vuur kan red
Die album met jou leë fotoblaaie
Of dalk die sleutel tot jou hart vir my belet
In die kaggel van jul lêplek
Begin die vlam met 'n jaloerse tong
Gulsig aan die eerste krake lek
Met skroeiende letsels
Is hy besig om jou in wese te verniel
Brand dieselfde kole gloeiende gate
Dwarsdeur my siel
Brand liefling brand
Met die trane wat stoom op jou wang
In jou koudste uur
Onttrek ek die holte van my hand
Brand liefling brand
Die gras is nou swart aan daardie kant
Vat jou lesse uit hierdie vuur
Laat hom die skille op jou oë wegsmelt
Elke vlam bring 'n bietjie verstand
So jy moet brand liefling brand
Brand liefling brand
Later sal ek 'n rooi lorrie vir jou stuur
Met 'n duisend emmers vol sand
As hul verdwaal iewers 'n vloed vir jou gaan huur
Maar tot dan moet jy brand liefling brand
Hier wag ek met gaasdoek vir jou wonde
Elke seerplek maak met tyd sy eie roof
Neem my reën as lafenis vir jou sondes
Sodat jy kan blom wanneer die lente kom
Jou prag omhul deur 'n kroon van nuwe loof
As die rook en die roet eers loop lê
Sal jy dalk hoor as ek dit vir jou wil sê
Ek sal jou as met liefde en boomgom
Stukkie vir stukkie weer aanmekaar las
Brand liefling brand

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

