Amazink Live in Khayamandi

  • 0

Die koor maak spiere in die donker: “This is Africa.” Gekleurde lig piets die groepies aan die sykante. Elkeen skarrel na sy volgende posisie; kollig gaan aan op die sirkelverhogie in die middel. Dansers ruk en sirkel en vee met die heupe, klop en stamp gevat op die maat van die musiek, met ‘n perfek-tydsberekende skouer. Vermaak.

In die gegons – al om en deur die verstomde gehoor; sangers/dansers/akteurs wat – asof gelaai met elektrisiteit en ‘n drif tot ensemble – vermaak – weét elke Duitser, Amerikaner of Engelsman: hier is jy in Afrika! Hemel op aarde, in Afrika. In die hart. In Khayamandi.

Hier, binne raakafstand, is die magiese MC met die dreads, vertolk deur O’Ryan Winter, glimmend in die kalklig, in sy silwer pak. Die gehoor val vir sy charm …

In die agtergrond, in rolspel, troef die nimlike diva – gespeel deur Ramaine Barreiro-Lloyd, haar speelseun, kwansuis Nusa (gespeel deur Tebogo Louw). Saam is die twee karakters glo al om die wêreld, meestal op verhoë. En gemeet aan Amazink Live in Khayamandi is dit nie vergesog nie. Die twee twis, die sugar mommy dydelik nie lus vir hom nie. Maar enige twis wyk wanneer Ramaine Barreiro-Lloyd op die derde verhoog, anderkant die middelste tafel, lostrek met ‘n stem waarvoor oorsee inderdaad baie sal betaal.

O’Ryan antwoord in ‘n verskeidenheid style; in ‘n stadium met ‘n goed-afgeronde, verrassende operastem; sy op haar beurt weer later met ‘n snikstem-waarskuwing dat haar “man” tog nie met haar moet simpatiseer nie. Louw antwoord met ‘n ewe pragtige area. En tussen die “liefdesintrige” deur, en die onverwagte uitnodiging aan haar om tog oorsee as solo-arties te gaan werk, salwe koorsang, verruklike danse met ‘n unieke Afrika-energie, pragtige grimering, pragtige beurtsang, pragtige vermaak, pragtige mense.

Vir hierdie styl van vermaak, geregisseer deur einste Barreiro-Lloyd, sal mens ver soek. Hiervoor sal jy hard soek – dwarsoor die wye wêreld, tot jy soek om die draai, hier onder jou neus, in die township, tussen ‘n vol saal toeriste van alle nasionaliteite, net oor die brug by Stellenbosch.

Met ‘n eenvoud, maar uitbundigheid eie aan Afrika, word jy hier verwelkom, kan jy die vriendelike, billik-gepryste kroeg gebruik vir goeie-gehalte Amazink-wyn, of enige drankie wat jou hart begeer. Die lieflike beesbredie kom in ‘n potjie, en jy word vermaak in drie sessies “show”. Amazink laat jou wese tuit en jou gees tintel, en jou alles eindig met saamdans.

Besoek die Amazink tuisblad: http://www.amazink.co.za/the-show

Amazink Live Video from The Pixel Revelation on Vimeo.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top