Die ATKV wil die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, bedank vir haar onderneming dat Afrikaans altyd ’n plek in die onderwysdepartement sal hê.
So sê Japie Gouws, die ATKV-groep se besturende direkteur. Dit nadat die Minister tydens die bekendmaking van die 2012-matriekuitslae gesê het sy sal alles in haar vermoë doen om Afrikaans te bewaar, ook by nie-Afrikaanse skole.
Gouws nooi die Minister om met organisasies soos die ATKV hande te vat as dit kom by aspekte soos moedertaalonderrig, maar ook ander onderwyskwessies. “Ons is verbind tot samewerking ten opsigte van Suid-Afrika se onderwysstelsel ten einde gehalte-onderwys te bereik.”
Onderwys is een van die ATKV se vier hooffokusse, en die organisasie voel sterk oor moedertaalonderrig vir alle Suid-Afrikaners. “Dis oor en oor bewys dat moedertaalonderrig die heel beste is. Kinders snap eenvoudig enige konsep soveel beter as dit in hul eie taal aan hulle verduidelik word. Die Minister se erkenning van Afrikaans as een van ons land se inheemse tale wat ’n regmatige plek in onderrig verdien, is daarom vir ons verblydend,” sê Gouws.
Die Minister het vroeër ook gesê sy is oor die algemeen tevrede met die 2012-matriekuitslae, hoewel daar nog kwelpunte is. Sy het beklemtoon dat gehalte-onderwys nie alleen die regering se taak is nie, maar dat ouers, onderwysers, besighede en ander belangegroepe aktief aan die proses moet deelneem.
Gouws sê die ATKV stem hiermee saam. “Ons wil graag die matrieks van 2012 gelukwens met hul uitslae. Dis verblydend om te sien dat daar ’n styging in die gemiddelde slaagsyfers was. Onderwysers en ouers wat hul kinders ondersteun het, het ’n belangrike rol in die bereiking van die resultate gespeel en verdien ook ’n klop op die skouer.”
“Die ATKV gee graag erkenning aan skole, onderwysers en ouers wat, ten spyte van probleme, steeds daarin slaag om goeie onderwys te laat plaasvind. Die groot getalle skole en leerders wat egter hiervan uitgesluit is, bly ’n uitdaging vir almal in Suid-Afrika. Die onvoldoende aantal kinders wat met vakke soos wiskunde en wetenskap slaag, is ’n groot bron van kommer. Suid-Afrikaners durf nie skouers optrek en sê dis net die regering se verantwoordelikheid nie. Almal wat ’n bydrae kan lewer, behoort betrokke te raak om Suid-Afrika se kinders te help.”
Die ATKV is reeds prakties betrokke by verskeie projekte wat die ATKV se onderwysfokus ondersteun, sê Gouws. “Ons ondersteun die US-Woordfees se Woorde Open Wêrelde- (WOW-) projek. Meer as 120 000 kinders, die meeste van hulle uit mindergegoede gemeenskappe, is die afgelope jaar deur hierdie projek bereik deur middel van projekte soos spelfeeste, skrywersbesoeke, debatskompetisies, toneelkompetisies en koorsang.”
Die ATKV-Sterskooltoekennings erken onderpresterende skole wat goeie matriekresultate behaal. Een van hierdie ATKV-Sterskole vir 2012 was die Imizamo Yethu Sekondêre Skool in Thembalethu by George. Hierdie skool het in 2010 ’n matriekslaagsyfer van 27% gehad, wat in 2011 verbeter het tot 82%. “Ons is baie trots met hierdie ATKV-Sterskool se 96% slaagsyfer vir 2012,” sê Gouws. “Baie geluk aan mnr Derick Petersen en sy personeel met hierdie uitstekende resultate!”
Nog ’n projek, ATKV-Handevat, motiveer skole uit bevoorregte gemeenskappe om ’n opbouende en volhoubare projek saam met en ten bate van ’n mindergegoede skool aan te pak. “Wonderlike vennootskappe word op hierdie manier gesluit, en leerders leer ook meer van mekaar se wêrelde en behoeftes,” het Gouws gesê.
“Die ATKV verbind hom meer as ooit tevore daartoe om te help waar ons kan as dit kom by gehalte-onderwys vir ons land se kinders,” sê Gouws.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


Kommentaar
Begaafde Afrikaans leerders moet dringend op KykNET verskyn deur middel van debatte, wetenskap en wiskundekompetisies, Bybelvasvrae, ens. Afrikaanse skole moet ook op hierdie wyse blootstelling geniet. Waarom geniet uitstaande tiener-rugbyspelers gedurig blootstelling terwyl akademiese presteerders nie die voorreg geniet nie? Positiewe uitdagings op akademiese vlak sal tot inspirasie dien.