2 Februarie 1978: 'n Broedertwis wat skrik vir niks

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Twee broers het op aangrensende plase iewers in die vermaledyde Wes-Transvaal gewoon. Aanvanklik was hul erg oor mekaar – soos Dawid en Jonathan – maar ná die dood van hul moeder het ’n twis oor haar boedel die verhouding tussen hulle ernstig versuur. Ons sou kon sê die boedeltwis het tot broedertwis gelei – so erg dat klagtes oor en weer teen mekaar by die polisie aanhangig gemaak is. Meestal was dit oor beuselagtighede – tot die oggend van 2 Februarie 1978, toe die een broer ’n sogenaamde Purivox-verskrikker op sy plaas geïnstalleer het. Tóé was die gort gaar.

Nou moet ek eers verduidelik watse ding dié Purivox-verskrikker is. Aan die een kant het dit ’n waterhouer, en aan die ander ’n houer met Purivox-karbied wat laer as die waterhouer is. Water loop deur ’n pypie en drup op die karbied. ’n Chemiese reaksie vind dan plaas en ’n gas word vrygestel. As genoeg gas so opgebou het, word dit op een of ander wyse ontbrand. Dan volg daar ’n ontploffing met ’n onaardse knal wat baie ver gehoor kan word. Hoe minder water deurgelaat word, hoe verder sal die knalle uit mekaar wees, en hoe meer water deurgelaat word, hoe vinniger sal die knalle mekaar opvolg.

Die betrokke broer het ’n groente-akker gehad wat dikwels deur ape en bobbejane verniel is. Aanvanklik het hy ’n arbeider gehad wat die goed moes verjaag, maar toe "meganiseer" hy dié arbeid met die aankoop van so ’n Purivox-verskrikker in die hoop dat die knalle die onwelkome besoekers op ’n gerieflike afstand sou hou.

Die knalle was egter só doeltreffend dat dit die vreedsame bestaan op die buurplaas – toevallig (?) die ander broer se plaas – skoon ontstig het. Die huismense kon saans nie slaap nie; ’n hondmak ou perd het skielik op ’n dag sy ruiter afgegooi; die beeste was steeks met die dippery; die arbeiders het begin brom, en dergelike meer.

Die polisie wou nie help nie; die aanklaer het geweier om te vervolg; prokureursbriewe was in dié geval geldmors. Om ’n lang storie kort te maak: die verontregte broer wend hom uiteindelik tot die hof. Hy vra ’n interdik aan om sy broer te verbied om die verskrikker verder te gebruik. Die aansoek word bestry en vir etlike dae in Februarie 1979 (ja, ’n jáár ná die knalle begin het!) hoor die hof in Pretoria getuienis aan.

In sy uitspraak1 sê regter Spoelstra dat dit ’n halwe waarheid is dat mens op jou grond kan maak wat jy wil. Jou optrede moet steeds binne die perke van die reg geskied. Een só ’n beperking is die regte van ander mense wat net soseer deur die reg erken en beskerm word. Oorskry jy dié perke, tree jy onregmatig op en kan dit die grondslag vir ’n interdik vorm. Hoe ver iemand se regte oor sy eiendom strek, moet aan die hand van redelikheid en billikheid beantwoord word. As iemand sy eiendom op ’n redelike en normale wyse gebruik, is dit in beginsel regmatig.

Mens sien dus dat die hof die botsende belange van buureienaars versigtig moet afweeg.

In sy afweging van die belange van die twee broers kom die hof tot die gevolgtrekking dat die broer wat die verskrikker geïnstalleer het, daardeur ’n belang wou beskerm het – ’n kleinerige groente-akker – wat min werd was. Die maatreëls wat hy getref het, was só drasties dat hy die bevoegdhede wat sy eiendomsreg aan hom verleen het, heeltemal oorskry het. Die regter sê dit lyk vir hom asof hy ’n voorhamer gebruik het om ’n vlieg mee dood te slaan.

Die interdik is toegestaan: die knalle moes onmiddellik gestaak word en die broer wat die ergernis veroorsaak het, moes sy sak skud – om sy eie én sy broer se hofkoste te betaal!

Wys jou net. Dawid en Jonathan? Nee: Kain en Abel.


1  Gien v Gien  1979(2) SA 1113(TPA)

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top