2 blou gedigte om te pas by my skoene

  • 2

BLOU I

Al lê die berge nog so ultra-violet
(iewers op die spektrum tussen twyfel en gebed)
Weet ek eind’lik wat presies ek aan jou het
En hoekom hierdie skema nooit sal werk in ’n sonnet

Jou kombers en my matras en almal se rymdwang
Is beter as die grappe wat my oupa nooit kon vang
Maar daar’s soveel redes waarom ek na jou verlang
Maar dis eintlik net verskoning vir hierdie samesang

Viooltjies in die voorhuis, gangsters in die straat
Die tyd is lankal ryp, ons moet nou begin praat
Oor die plek van Afrikaans in hierdie stotterstaat
Tussen boewe en betogers trek ons digters (kort van) draad

My nooi is in ’n nartjie, my ouma virtueel
Ons kinders weet nie hoe om Hammond-orrels te bespeel
(Wat het geword van saamsing-aande, wat het geword van vrugte-steel?)
Die FAK se liedjies is verbleik, vergeet, vergeel

Maar nogtans sal ons jubel, nogtans sal ons drink
As Voëlvry tevergeefs was, is daar altyd nog die blink
Hotelle van Sun City waar dobbelaars rinkink
Of die sterre in die Melkweg wat my aan dié vers laat dink:

Al lê die berge nog so 

BLOU II

ek wil die see ruik
tot die ganse oseaan
soos ’n spieël binne
-in my hart kom
nesmaak met al sy sout-
reuke en vissersbote en
wilde woeste wind en die
blou, die blou, die e-
wige blou van die uit-
spansel troos en broos
gedagtes aan ruwe toue
en skulp-oorgroeide ankers
en die ganse tafereel
van wit wolke, turkoois
tirades en die geel
eindelose strande van
al my uitgestrekte kin-
derlike gebede om lafenis,
vertroue en wandelinge
langs die water van rus
en vrede
en son
en nat tone
myne
joune
anemone
amen

Koos Kombuis oor sy blou skoene

Vandag wil ek my blou skoene dra: ’n onderhoud met Koos Kombuis

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Elsabé Bester

    Koos Kombuis het die vermoë om so met woorde te skilder, dat die beeld HELDER voor my kom staan...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top