19 haikoes

  • 2

Fotobron: Pixabay

1.
is dit die seisoen
van swewende seidissel ...
kruipende virus?

2.
wildewingerdblaar
wys in herfs swart stippels ─
kriptiese geskrif

3.
voëls wat kwetter
se skaduwees vliet verby ─
stiller geheime

4.
kind met ’n ballon
huppeldans teen ’n berg uit ...
dooie seeskilpad

5.
’n dam met lelies 
verdubbel ’n blou hemel 
versamel rommel

6.
’n ou lapdrasak
eens soos blomme by die see ─
swaardra op stofpad 

7.
gister se koerant
in die reën op die tuinbank ─
los dit maar buite

8.
’n stukkie kerswas
drywend op die donker see
sonder pit of vlam

9.
hierdie beeld ... oomblik
wind kan dit nie wegruk nie –
waar is my pen tog?

10.
wye vlieswolke
fyn kant oor ’n blou deken –
pak komberse uit

11.
die aarde hang skeef ─
seisoene vir die haikoe ...
die heelal luister 

12.
stil en groot blou berg
iewers speel ’n rietfluitjie 
dan hou dit op

13.
kerslig in donkerte
verlig ’n oomblik lank
goud op ’n omslag

14.
miljoene jare
vorm sterre uit newels 
ek steek ’n kers op

15.
die kerslig ontroer
’n bries bol in die gordyn
huis verbrand tot as

16.
’n verdorde blaar
dryf met stokkies daarop – iets
se winterpaleis

17.
eensame boshut
ruwe houtbed vir die nag ─
bome se fyn ritselings

18.
papier lê doodstil
die stem van bome ontneem ─
maak dit nou wakker

19.
vat nou die droom, wind, 
die veertjie op my handpalm 
klou vas aan my sweet

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top